Beledigings is veronderstel om ‘n fyn kuns te wees. Daar is mense wat dit vervolmaak om iemand hel toe te pos en hulle te laat uitsien na die reis. Helaas, is dit ‘n kuns wat aan die uitsterf is. Dit is so maklik om iemand deesdae te beledig, dat dit ‘n vermorsing is om dit netjies te verpak. Selfs ‘n paar kras vloekwoorde is oorbodig.
Van al die goed wat Zuma vandag aangevang het, was hy onder meer in die moeilikheid omdat ‘n DA lid ‘n “Ntombazana” genoem het. Dit is glo ‘n teken dat hy ‘n veer vir vroueregte voel. Die punt is al lankal deur Zuma se ander uitlatings bewys. Maar regtig? Is daar regtig so groot storie dat hy ‘n vrou wat aansienlik jonger as hy is ‘n meisie genoem het? As sy in die gesig gevroetel is daardeur, kon sy hom nie net ‘n ou man genoem het nie?
Goed en wel, as sy dit gedoen het, dan het ons vandag eers sports gehad. Baleka Mbete het mos juis vandag verkondig dat Zuma en Buthelezi nie die ander lede se gelykes is nie. Ek wonder of Buthelezi daarmee aanstoot geneem het? Ek meen, wie wil nou op dieselfde vlak as Zuma wees?
Terug na wat nou regtig kwalifiseer as ‘n belediging. In die Afrika kultuur is dit ‘n growwe belediging om ‘n (besnyde) man ‘n seun te noem. Dit verlaag sy status summier. Is daar regtig ‘n wesenlike status verskil tussen ‘n meisie en ‘n vrou? Of selfs in die blanke kultuur tussen ‘n man en ‘n seun? Ek meen, daar word tog dikwels na sport spanne verwys as die “boys”. Dit is ook gewoonlik ‘n “girls night out” en nie ‘n “woman nights out” nie. Glo my, geen minderjarige meisie is welkom op ‘n “girls night” nie.
Die erns of status van iemand is tog seker in hulle gedrag en / of woorde. Wat maak dit tog saak wat ander hulle noem?
Of mis ek heeltemal die punt? Dit is maar moeilik om my te kan beledig. Wat dink julle?
Breinvasbrand: Wie se gevleuelde woorde is dit? “Some cause happiness wherever they go; others, whenever they go.”
Breinlosbrand: Olga was reg met Barbara Hogan.
Wie runnik saam?