En jy kry hulle op die pad

18 03 2015

Die goue reël van die pad is “Hou links”.  Die reël se status kan dalk  verlaag word.  Ek meen, baie paaie het meer as een baan en dit is onmoontlik vir almal om links te hou.  Dit is ook heeltemal wettig om onder die regte omstandighede regs verby te steek.  Partykeer is dit net veiliger en logies om regs te hou.  Buitendien bestuur alle lande nie links nie, dus sal ‘n universele reël meer van toepassing wees.

Ek het ‘n voorstel.  Maak die goue reël van die pad “Moenie ‘n poephol wees nie.”  Die reël is goed genoeg vir daaglikse gebruik in enige omstandighede, maar ja, Rome is nie in eendag gebou nie.  Dit is seker maar in die mens se DNA om dan en wan ‘n poephol oomblik te hê.  Die ongeluk is dat party mense heeltemal misbruik daarvan maak.  Sommige kom net nooit uit hulle poephol oomblik uit nie.  Natuurlik voel hulle ‘n veer daaroor, ‘n poephol kan nie omgee hoe dit ander mense beinvloed nie.

Terug na die pad.  Gestel nou jy moet van ‘n dubbelbaan by ‘n stopstraat regsdraai.  Die enkelbaan waarin jy moet draai is vol.  Daar is basies twee keuses.  Opsie poephol:  Draai regs en sny sodoende die verkeer wat reguit kan aangaan af.   Dit is mos jou beurt om te ry.  Dit is nie baie hoflik nie.  Die ander opsie is om solank die mense wat kan ry, toe te laat om so te doen terwyl jy vir ‘n gaping wag.  Wat natuurlik deur die linksdraai-steler poepholle uitgebuit word tot die gevolg dat jy self lus is om ‘n poephol te word.

Dit bring my by die poepholle wat net nie hulle beurt kan afwag nie.  Hulle sal opsluit die noodbaan, sypadjie of teenoorgestelde baan gebruik om 100 m verder in te druk.  Natuurlik kan jy die poephol wees wat weier dat hulle indruk.  Nie dat hulle ‘n gatjie verdien nie, maar die kar aan die ander kant het niks verkeerds gedoen nie.  Hulle verdien nie om soos ‘n poephol behandel te word nie.  Wat van die poepholle wat van die vorige blok jaag om die verkeerslig op groen, oranje of selfs rooi te vang en daardeur almal wat regs wou draai afsny?  Of die poephol wat gesien het wat gebeur en dan opsluit wil storm wanneer die lig groen raak, ongeag die karre wat in die middel van die kruising hulle rybeurt afwag?  Ek praat nie hier van verkeersligte wat pyltjies het nie.

Parkeerareas floreer ook van poepholle.  Daar is mense; jammer, ek bedoel poepholle; wat doodeenvoudig sal weier om op ‘n besige Saterdagoggend iemand uit ‘n parkering uit te laat kom.  Wel, behalwe as hulle verseker is dat daar geen ander parkering is nie.  Of wat van die poepholle wat sommer iemand se parkering onder hulle neuse uitsteel (gewoonlik ‘n linksdraai-steler).  Ek meen regtig?  Gaan kul eerder op jou belastingvorms.

Watter poepholle identifiseer jy op die paaie?

Breinvasbrand:  Waar was die eerste gas verkeersligte gebruik in Desember 1868?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Ou Engelse Skaaphond.