As ek kon het ek natuurlik nooit ‘n voet daar gesit nie. Ek praat nou nie van die gim nie, maar van die gim se aantrekkamers. Helaas is dit nie altyd moontlik. Sien, my neus vra gewoonlik nie vir toestemming om te loop nie. Water drink is goed en gesond, maar dit het ook ander newe effekte wat ‘n besoek aan die aantrekkamer regverdig. Soms smeek jou hande om gewas te word. Dit is ook nie altyd moontlik om te verklee voordat jy by die gim kom (Nota aan self: baie mense verklee terwyl hulle bestuur. Wat keer jou?). Tussen jou dagboek en ESKOM is dit ook met tye noodsaaklik om by die gim te stort. ‘n Lang relaas om te verduidelik dat ek nie die kleedkamers kan vermy nie.
Hoekom wil ek dit vermy? Doodeenvoudig. Elke keer wat ek my lewe in een waag is daar ‘n vrou (of meer) wat haar volle Evasgewaad in my oog steek. Nee, dit is nie dat ek staar nie. Ek is halfpad blind (Nota 2: Haal dalk jou bril af as jy die kleedkamer moet betree), maar dit is blerrie moeilik om dit mis te kyk. Dit is aansienlik minder pynlik om te aanskou as sy diskreet is. Helaas, party vroue het geen voorbehoude nie.
Ek sien gereeld hoe iemand haar so met room smeer dat alles bespat word. Dit is nie vreemd om ‘n vrou poedelnaken op ‘n bankie te sien sit terwyl sy met haar selfoon speel nie. Ander van hulle blaas weer hulle hare droog voordat hulle aantrek. Party loop ook skynbaar doelloos rond. Diegene wat diskreet voor hulle toesluitkassie hulle ding doen, is nogal skaars.
Toegegee, mens kan hulle nou nie regtig blameer nie. Die gim het ‘n spul afgeskorte (dankie tog!) storte. As jy nou regtig issues het (soos die uwe) kan jy wel daar aan en uit trek. Dit is egter baie beknop en daar is geen waarborg dat jou skoon klere droog gaan bly nie. Die akrobatiese toertjies wat jy moet uithaal om dit reg te kry, tel seker as ekstra oefening.
Dit gaan net my verstand te bowe dat hulle nie ordentlike aantrekhokkies kan maak nie. Ek dink aan ‘n toonbank (te hoog vir kaal, dik stêrre om op te kan spring) vir jou klere, plek om aan en uit te trek en natuurlik ‘n stort met deure sodat dit wat moet droog, droog bly. Daar is Gims wat so ingerig is, sekerlik kan die Besige Maagde dieselfde doen? Dalk kan hulle sommer ook die toilette van die kleedkamer skei.
Ek weet al die vroue het niks wat ek nie ook het nie. Dit beteken nie dat ek dit wil sien nie. ‘n Klein bietjie privaatheid het niemand al ooit skade gedoen nie.
Wat dink julle? Is ek die een met die probleem? Hoe voel jy oor gemeenskaplike kleedkamers / badkamers? Hoe voel jy daaroor om sulke geriewe te deel? Wat as jy dit met die teenoorgestelde geslag moet deel?
Breinvasbrand: In watter gemeenskap was die eerste loodgieters gekry?
Breinlosbrand: Olga was reg met Mr. Brownlow.
Wie runnik saam?