Daar is ‘n gesegde dat ‘n man nie sy kar, sy geweer of sy vrou uitleen nie. Ek is nogal geneig om daarmee saam te stem, hoewel ek die laasgenoemde eerder met man / vrou sal vervang. Sodat dit op almal van toepassing is. Wie het nou weer gesê ek is nie polities korrek nie?
Op skool was ons geleer dat Leen iemand se naam was. Dit was nie net om ons te ontmoedig om onder mekaar goed te leen nie. Die meer korrekte Afrikaans is om eerder iemand se pen / selfoon / wat ookal te gebruik. Almal op skool het ook goed geweet wat pen / selfoon / wat ookal se naam en van is: Gee dit terug en gou ook.
Dit is nou presies wat die probleem met leen is; almal vergeet gerieflik daarvan om die geleende voorwerp binne ‘n redelike tyd terug te besorg. Oor die algemeen moet jy maar aanvaar as jy toestem tot die tydelike gebruik van jou eiendom deur iemand anders, dat die tydelike beslis met die ewige baan verwissel. Tot jou nadeel.
Dit is eintlik heel eenvoudig: moet nie goed uitleen waaraan jy verknog is nie. Skryf dit summier af die oomblik wanneer dit onder jou oë uitbeweeg. Of die beste raad ooit: moet nie jou goed uitleen nie. Jy sal natuurlik die duiwel se eie bloedbroer of suster wees, maar ten minste bly jou goed nog jou goed.
Een of ander tyd gaan ‘n mens tog swig en iemand iets leen. Al weet jy voor jou siel dat jy dit nooit weer gaan sien. Veral as ons hier van geld praat. Daar is tog tye waar jy wil help (of verplig voel om te help) en dus dit nie eintlik terug verwag nie. Partykeer kan jy op jou kop staan en Jan Pierewiet uit jou stert fluit, maar as die lener nie geld het om jou terug te betaal nie, het hy/sy nie geld nie.
Daar is egter goed wat nie so maklik is om te vang nie. Hoekom aanvaar mense gewoonlik as jy hulle ‘n boek, DVD, CD of pen leen, dat dit nou aan hulle behoort om te maak soos hulle wil? Ek wag gewoonlik tot die persoon my pen klaar gebruik het en vat dit terug. Verder leen ek media (dus boeke, CD’s en DVD’s) net uit aan mense by wie se huis ek kan inbars om enige dag my goed terug te vat.
Hoe voel jy oor leen? Watter reels pas jy toe as iemand jou goed leen? Is jy ‘n goeie lener?
Breinvasbrand: In Engels, wat is die verskil tussen “lend” en “borrow”?
Breinlosbrand: Oscar Wilde
Wie runnik saam?