Scrapy se onderwerp van die week is Geloof / Bygeloof.
Ai! Mense en hulle bygelofies. Partykeer kan ek my verwonder oor waar dit oorspronklik ontstaan het. Dit is ook verstommend dat een ongeluk aan ‘n onderwerp kan toedig en vir die volgende persoon is dit weer ‘n bron van geluk. Dit opsigself is dan seker die bewys hoeveel vertroue daar aan ‘n bygeloof gegee kan word.
My gunsteling woord is nie verniet hoekom nie. Ek is met ‘n gesonde hoeveelheid skeptisme gebore. Ek aanvaar beslis nie ‘n storie net omdat dit aan my vertel is nie. Ek moet oor die algemeen iets selfs sien, voordat ek dit glo. Beter nog, ek toets dit sommer self om absoluut seker te wees. Ek glo ook dat ek my eie geluk en/of ongeluk maak. Ek is dus nie juis gepla met ‘n hoefyster, swart kat, oop sambreel of gebreekte spieëls nie. Ek het al genoeg onder lere deur geloop om te weet dat dit beteken dat ek onder ‘n leer deurgeloop het. Niks meer en niks minder nie.
Dit keer my natuurlik nie om aan die prettige bygelofies deel te neem nie. ‘n Diertjie moet ‘n plesiertjie hê. Ek gooi sout oor my skouer as ek mors, want dit is lekker om sout verder oor jou skouer te mors. Ek moet my dak klap wanneer ek oor ‘n oranje lig ry, omdat ek geboelie was om dit te doen. Dit voel net of jy verkeerd ry as jy dit nie doen nie. En dit is net verkeerd om iemand ‘n handsak, beursie of spaarvarkie te gee wat leeg is. Natuurlik gaan daar mos altyd geld in wees as die geld wat die gewer ingesit het, nooit uitgehaal gaan word nie. Dit is buitendien net slegte maniere om nie geld wat rondlê op te tel nie.
Ek moet egter helaas erken dat ek wel bygelowig is. Alles bygelowe wat ek persoonlik self ontwikkel het. Ek het al hoeveel boetes gemis deur na die stemmetjie te luister wat my vertel het daar is ‘n spietkop om die draai / oor die bult / agter die bos. Ek is veral bygelowig oor stres. As ek moet stres en ek doen nie, het ek waarskynlik rede om te stres. As ek my doodstres voor ‘n afspraak, taak, toets – het ek gewoonlik nie rede om te stres nie. Ek het ook al geleer om katvoet te wees as alles klopdisselboom verloop.
Siende dat ek al my bygelowe uitgelap het, wat is jou bygelowe?
Breinvasbrand: In Kringe in ‘n Bos, wat reken Kaliel moet jy doen as ‘n kat van die skip af klim?
Breinlosbrand: Olga was reg met ABBA.
Wie runnik saam?