Scrapy se uitdaging van die week is Seisoene. Ek het nie eintlik veel te sê oor seisoene nie. Ek meen: dit kom, dit gaan en dit is die verloop van die lewe. Ek is te vlak om dit dieper betekenis te gee en om eerlik te wees, soveel mense oor die eeue heen het dit soveel beter gedoen as wat ek ooit sal kan.
Ironies genoeg het iemand my nou die dag vertel dat Suid-Afrika nie seisoene het nie. Bedoelende, daar is nie regtig ‘n spesifieke karakter wat elke seisoen vir ons inkleur nie. Op die oomblik is dit Herfs – maar die meerderheid van bome is immergroen. Ons sien selde massas bome wat in hulle herfskleure getooi is. Die dae raak korter en skielik kom jy in die donker by die huis. Dit is egter nie iets wat ‘n besoeker dadelik vertel dat dit Herfs is nie. Bokant die Vaalrivier is ons somers sonnig, maar so ook ons lentes, herfse en selfs winter. Die lug het net soms ‘n byt in en daar is tye wanneer ons meer reën verwag as ander tye.
Seisoene is egter nie net ‘n verwysing na ‘n sekere tyd van die jaar nie. Daar is byvoorbeeld beslisde kommersiële seisoene. Vroeg in Januarie is dit “Terug Skool Toe”, wat binne ‘n paar weke rooi geverf word vir die “Valentyns-seisoen”. Nadat die sjokolade lus aangewakker is, is dit om dit behoorlik te voer met die “Paasseisoen.” Dan kom die seisoene vir Moeders, Vaders, miskien jeugdiges en beslis vrouens onderskeidelik. Lente word haastig in ‘n dag gedruk en dan is die Erfenis seisoen op ons voordat die Kers-seisoen die kroon oor alle seisoene span. “It’s the season to be jolly . . . .”
Sport word ook gewoonlik in seisoene gespeel, al strek die rugby seisoen van Februarie tot einde Oktober. Opvoerings word ook gewoonlik vir ‘n seisoen aangebied wat nie noodwendig met die natuurlike seisoene ooreenstem nie. Vermaak (veral flieks) op televisie volg ook spesifieke seisoene. So is daar ‘n Menseregteseisoen in Maart, Junie en September. Die manlike seisoen is in Junie en die vroulike seisoen is in Mei. Die riller seisoen is in Oktober en soms November.
Seisoene verwys na ‘n tydperk waarin jy sekere goed te wagte kan wees. Al is Suid-Afrika nou nie ‘n poskaart advertensie vir die verskillende seisoene nie, is daar wel seisoene waarna ons kan op- / uitsien.
Wat is jou gunsteling seisoen?
Wie runnik saam?