Lewenslank gemerk

2 03 2015

Ek weet ek maak weer van myself Satan se eie bloedsuster, maar ek hou nie van tattoo’s nie.  Ek weet baie mense vind dit baie aantreklik.  Vir baie mense is dit baie geestelik met ‘n diep betekenis daaragter.  Ek respekteer ook elkeen se reg om sy / haar liggaam te maak wat hulle wil.  Maar persoonlik, vind ek dit grillerig.  Ek is buitendien te vlak om enige dieper betekenis daaragter te kan waardeer.

Ek diskrimineer nie voor die voet nie.  Julle weet mos dit vat nie veel om my te amuseer nie.  Daardie geisoleerde tattoo’s kan nog gaan en selfs heel vermaaklik wees.  Party mense het hulle tattoo’s nogal knap beplan.  Ek dink nou byvoorbeeld aan een van die Gladiators wat ‘n puma gehad het wat by sy rug opgeklim het.  Party meisies het weer ‘n elfie of ‘n ding wat stuitig om haar skouerband loer.  Alhoewel, die oomblik wat daar meer tattoo’s is wat ‘n mens met een blik kan bestudeer, raak dit aardig.  Om die minste te sê.

Goed, goed – ‘n beskaafde mens is nie veronderstel om na ander se lyfkuns te staar nie.  Dit is net deksels moeilik om iets wat jou in die oog steek mis te kyk.  Is dit tog nie immers die doel van kuns nie?  Om na gekyk te word?

Soos wanneer jy in iemand vasloop wat dadelik ‘n tattoo aanval op jou loots.  Daar is ‘n tattoo op sy/haar voet, 3 op die linker arm en 6 op die regter arm, een op elke vinger en ‘n slang wat op sy / haar nek krul . . . Ek vind dit om die minste te sê grillerig.  Des te meer as die tattoo’s in mekaar begin vloei om een algehele skildery te vorm.  Minimalisities is vir die mense ‘n vloekwoord.

Ek verwonder my altyd as twee sulke verfdoeke loop met ‘n paar kleintjies tussen hulle.  Dit pas net nie.  Ek weet die kuns is net veldiep en dat wat onder die vel is wat regtig saak maak.  Nogtans lyk dit verkeerd.

Neem ook vir Adam Levine hierbo.  Watse beeld sou hy nie gewees het met ‘n skoon vel nie.

Is julle ook so bevooroordeeld soos ek?  Of is dit bloot my probleem waaroor ek ‘n brug moet bou?  Wat is die mooiste tattoo wat jy al ooit gesien het?  En die lelikste?  Is daar iets soos te veel?

Breinvasbrand:  Wie is die meisie met die draak tattoo?

Breinlosbrand:  Ontvoering verjaar nooit nie.  Olga het reggehoop en Recién het reggedink.  😉