Toeka Tokkel: Geluk by die ongeluk

5 03 2015

Scrapy se voorwerp van die week is Geluk/Ongeluk.  Nou nie juis die maklikste iets om in ‘n inskrywing te beitel nie, maar nou ja, my bang hare het al lankal uitgeval.

Hande op wie nog nooit antibiotika nodig gehad het nie?  Wel, nodig is ‘n heel ander storie.  Wie het nog nooit antibiotika gebruik nie?  Seker net die ongekontaktes.  Die meeste ander sterflinge het waarskynlik deur verskeie kursusse gedraf voor hulle vyfde verjaarsdag.  Skree asseblief as ek ‘n growwe veralgemening maak.

Interessant genoeg was daar ‘n 100 jaar gelede nie iets soos antibiotika gewees nie.  Goed, die mense het darem oorleef om hulle kleinkinders te sien, maar die lewensverwagting was aansienlik laer as wat tans die geval in die meeste ontwikkelde lande is.  Alexander Flemming word as die ontdekker van Penicillin beskou.  ‘n Ontdekking wat aan ‘n ongeluk te danke was.

Op 28 September 1928 het Flemming sy Petri plate met Stapphylcoccus nagegaan.  Hy het een ontdek wat oop gelaat is en was op die punt om dit weg te gooi, toe hy die kringetjies (halo) om sy baterieë opmerk.  Hy het besef dat die die muf wat sy plaat gekontamineer het, die bakterieë op een of ander manier dood maak.  Een ding het na ‘n ander gelei, maar op die ou einde het hy Penicilin uit die Penicillium notatum geïsoleer en gebruik om bakteriese infeksies te beheer.

Alles te danke aan ‘n ongeluk, wat tot die die ontdekking van antibiotika gelei het.  ‘n Groot geluk in die mediese wêreld.

Is ons nie te geneig om iets wat geflop het, af te skryf en so gou as moontlik te vergeet nie.  Ons is dikwels so besig om onsself te verontskuldig, dat die geluk by die ongeluk heeltemal misgekyk word.  Die ontdekking van Penicilin is maar een voorbeeld.  Daar was egter baie ander wetenskaplike ontdekkings wat uit ongelukke ontstaan het.

‘n Ongeluk is nie (altyd) ‘n mislukking nie.  Dikwels is daar iets om te leer, iets wat die wêreld kan verander.  Mits dit net van nader beskou word.

Wetenskap is maar net een veld.  Waar het jy al ‘n geluk in die ongeluk gehad?

Breinvasbrand:  Wanneer is Flemming met die Nobel prys vir Medisyne vereer vir die ontdekking van antibiotika?

Breinlosbrand:  Tembinkosi Bonakele