Op die vooraand van een van die belangrikste dae op die Christen almanak, is dit dalk ‘n goeie tyd om oor bid te praat.
Dit is deesdae opvallend hoeveel mense hulle bid op Facebook doen. Ek praat nou nie van die algemene woorde van bemoediging of die getuienis nie. Nee, bid – van die aanhef tot op die punt waar daar amen gesê word. Dit is amper asof God een van hulle vriende is en hulle Facebook Statusse slaafs navolg. Met die nodige respek gesê.
Ek weet dat God orals is, ook in Facebook en elke mens het seker die reg om te bid soos hulle goed dink. Ek weet ook dat waarvan die hart vol is, die mond (en statusse) sal oorloop. Niemand is tog skaam daaroor dat hulle Christenne is nie. Hulle het die reg om hulle Christenskap uit te leef, soos hulle goed dink.
Tog is dit nie iets waarmee ek gemaklik is nie. Persoonlik voel ek dat ‘n gebed iets is wat in privaatheid gedoen moet word en ‘n saak streng tussen jou en God is. Mens kan / wil / moet soms mense vra om saam met jou te bid en daarvoor is Facebook ideaal. Die eintlike gebed self, ek is nie so seker dat dit op Facebook hoort nie.
Ek verpes dit om met die Bybel onder die arm te loop, maar daar is twee verse wat ek tog met julle wil deel vandag.
Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om op die straathoeke te staan en bid sodat mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as julle bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. (Matt 6 : 5 – 6)
Hierdie is nie my amptelike Goeie Vrydag en Paasfees skrywe nie, maar ek wil graag vir die van julle wat nou in “Internet Stilte” gaan ‘n baie geseënde Paastyd toe wens. Vir almal wat in die pad val, reis veilig en kom uitgerus terug.
Breinvasbrand: Wie was die leier van die Isrealiete toe die Paasfees ingestel was? (Let wel, dit was eeue voor Jesus)
Breinlosbrand: Olga was reg met Andre Stander.
eerste.
More, more.
Of ek saamstem met hierdie praktyk (en soortgelykes) of nie, dit is die individu se keuse en sy/haar reg om ‘n gebed neer te skryf en op ‘n sosiale netwerk te publiseer. Net soos dit my keuse is of ek dit wil lees of nie.
Solank dit nie aan my opgedring word nie (en daarmee bedoel ek ek het die keuse om dit te lees/hoor/sien of nie), en my nie te na kom nie, kan mense maak nes hulle wil.
Hello Merrie
Sien jy is alweer/nogsteeds op ‘n roll!! Oor die bid op facebook, “sommige” van daardie is vir my ook vreemd, moontlik is dit ‘n roep om hulp, moontlik kort hulle bietjie motivering – is opsoek na hulle mojo. Soos ek alreeds nou die dag vir jou gesê het: onthou sommige mense se lewens draai om die internet (internet verslawing *wink-wink*), ander is eensaam, ander het regtig hulp nodig en voel dalk die gebed het meer krag as hulle dit neerskryf en ander vra om saam te bid, dis hoe ek na die storie kyk of liewer net my eie beskeie opinie. 😉
Geseënde Paasfees ook vir jou en joune, wees veilig x
Hallo (((((Wiperasie)))))! Tjirts ek het jou lanklaas raakgelees! My eerlike opinie, vrye land, vrye keuses, dit word nie aan enigeen opgedring nie, dis nie nodig om dit te lees as jy nie wil nie. En op die einde van die dag kan jy mos maar hierdie friend delete of hide as dit jou nie aanstaan nie. Maar die punt is dis elkeen se reg. Party vloek, party tjank hulle longe uit oor verlore liefdes, party biets oor hulle slegte base, ander bid. Dis seker ‘n kwessie oor wat jy verkies om te sien???
ek fb nie. Maar die neiging om kinders se foto’s as profile pics te gebruik vind ek absoluut sotlik en gevaarlik ook.
Moses.
Daar is baie digters wat gebede geskryf of gedig het wat vandag baie voor gelees word. Kyk net na al die Psalims wat gebede was wat uitgeskryf is. Selfs die stem kan gesien word as n gebed. Jou gesprek met God, Jesus en die Heiligegees is in jou binne kamer en die loon sal in die openbaar wees. Die vraag is of jou gebed wat jy so publiek wil he vir jou self was of vir die ander mense was dit dan volgens die will van God of is dit n dooi werke gebed wat die antwoord nee is in elk geval. Jy kan net vrae wat binne die will van God is die res is die antwoord nee.
Ons doen maar soms goed op fb en die blogs wat ander dalk ongemaklik maak. Ekself is dalk ook skuldig daaraan, al het ek nog nie gebid op fb nie!! God ken daardie persoon se hart, en solank die hart wat dit doen, opreg is, is die saak by my ook reg.
Mooi Paasfees vir jou ook!
Interessante ene hierdie…