Daar heers tans nogal ‘n groot debat in Beeld oor die twee kleuters wat die naweek in hulle huis doodgebrand het. Die dood van kleintjies is altyd tragies, veral as dit nog op so ‘n wrede manier geskiet. Dit is net menslik om iemand verantwoordelik te hou, maar geen beskuldiging gaan die tweetjies weer lewendig maak nie.
Hoewel ‘n mens nie ‘n tragedie ongedaan maak nie, kan jy wel lesse leer en dit toepas om hopelik so ‘n tragedie in die toekoms te voorkom. Ek sidder om te dink dat die enigste brandweerwa oppad na die brand gebreek het. Ek besef dat die brandweer moontlik nie die nodige wonderwerk kon verrig het nie. Tog, was daar ‘n beter kans as hulle wel by hulle bestemming gekom het as wat hulle verleë of traak-my-nie-agtig langs die pad gaan staan het.
In die geval is daar ‘n dogtertjie (3) en ‘n seuntjie (2) wat die gelag betaal het. Hulle is egter nie die enigstes nie. Ons kan hoop dat hulle die laastes is, maar daardie hoop gaan waarskynlik beskaam. Die probleem is dat geen mens kan waag om hulle lewe in die staat se hande te plaas nie. Jy moet op eie genade sien kom klaar. Die ambulanse, die polisie en die brandweer sal opdaag wanneer dit hulle behaag.
Daar is seker weinig te doen met die houding van die mense wat vir die nooddienste werk. Die minste wat ons kan verwag, nee, waarop ons moet aandring is dat die hulpbronne daar moet wees vir die wat wil probeer. Dit sluit voertuie in! Voertuie wat gebruik kan word wanneer daar ‘n nood toestand ontstaan – dus moet die sleutels beskikbaar wees, die drywers moet toegang tot brandstof hê, dit moet teen vandalisme beskerm word en dit moet in ‘n goeie lopende toestand wees.
Geen regdenkende mens koop / ry ‘n kar sonder om die nodige voorsorg te tref vir onderhoud nie. ‘n Kar is vir die meeste van ons ‘n vervoermiddel, iets om van punt A tot punt B te kom. Die meeste privaat karre is nie aangeskaf met die idee om mense lewens te red nie. As privaat motoreienaars soveel sorg in hulle karre sit, hoeveel te meer sorg moet daar net nie in noodvoertuie gaan nie. Die idee met gereelde onderhoud is om te voorkom dat die voertuig iewers breek. Bitter eenvoudig, mits jy nie politieke voornemens het nie.
Ongelukkig kan nie een van ons sê dat ons lewe nooit op die reaksie van nooddienswerkers gaan afhang nie. Van ons het die luukse dat ons privaat dienste kan bekostig, maar selfs dit is nie ‘n waarborg nie.
Hoe gaan dit reg gestel word? Moet ons dalk ‘n kultuur kweek vandat jou werk jou trots is? Moet ons dalk die lakses regtelik verantwoordelik hou? Of moet ons dalk net die nooddienswerkers vol Bar One pomp?
Breinvasbrand: Wat is ‘n I.C.E nommer?
Breinlosbrand: Olga was reg dat die armes dit nie wou hê nie.
Wie runnik saam?