Ons is op die punt om Jesus se kruisiging te herdenk. Weer ‘n tyd te onthou hoe sondig ons regtig is, so sondig dat God se Seun opgeoffer moes word om ons te red.
Wanneer daar oor die kruisiging besin word, is mens geneig om half meewarige houdinge te hê teenoor die sterflikes van die tyd. Tog, as ons eerlik moet wees, met almal na wie daar verwys word, is daar iemand met wie ‘n mens kan identifiseer.
Daar was Judas. Hy het ‘n geleentheid gesien om Jesus te verraai vir geld. Daar was Petrus, wat eers grootbek belowe het om Jesus altyd by te staan. Hy kry selde krediet daarvoor, maar hy het regtig probeer. Nadat Jesus hom self gekeer het, was hy seker dikbek daaroor. Hy het Jesus toe verloën soos dit voorspel was. Daar is al die ander dissipels wat weggehardloop het toe Jesus gevange geneem is.
Daar was die priesters wat bedreig gevoel het deur Jesus en Hom ten alle kostes wou dood hê. Die mense wat vals getuienis gelewer het om waarskynlik die priester se guns te wen. Die soldate wat Jesus verneder en gemartel het. Pilatus wat nie sy steun wou verloor het nie en Jesus tog oorgelewer het. Die skare wat bloed gesoek het en op Jesus se kruisiging aangedring het. Hulle het moontlik geglo dat Hy wel skuldig was. Die spotters om die kruis.
Dan was daar Pilatus se vrou wat regtig gesê het dat Hy vrygelaat moet word, maar dit het by woorde gebly. Johannes, wat tot op die einde stil by Jesus gebly het. Die vroue wat nie juis kon help nie, maar wat Hom nogtans nie verlaat het nie. Simon van Sirene wat Jesus se kruis gedra het.
As jy moet eerlik wees, watse rol sou jy in Jesus se dood gespeel het?
Van ‘n ander hoek af. Daar is ‘n liedjie van “Whatsoever you do to the least of my brothers, that you do unto Me.” Dit is een ding om te antwoord as Jesus betrokke is, mens skiet jouself nie so blatant in die voet nie. Dit is ‘n heel ander storie as jy ‘n ander moet behandel asof hy/sy Jesus is.
As jy mense vir geld uitverkoop, sou jy vir Jesus ook uitverkoop. As jy altyd sulk as iemand jou terregwys en eers bloed wil sien vloei, sou jy dieselfde gedoen het met Jesus. As jy ‘n mooiweersvriend is, sou jy van Jesus ‘n mooiweersvriend gewees het. As jy ‘n ander nie in jou lig verdra nie, sou jy ook planne beraam het om Jesus dood te maak. As jy ‘n gatkruiper is, sou jy ook gekruip het waar dit vir jou die meeste voordeel inhou. As jy bang was vir mense, sou jy ook soos Pilatus alles gedoen het wat die skare gesoek het. As jy jou verlekker in ‘n ander se lyding, sou jy ook gespoeg en geslaan het. As jy genadeloos op ‘n ander se ondergang aandring – selfs al is hulle skuldig – sou jy ook vir Jesus op ‘n kruis wou sien.
Daar was natuurlik die goeies ook, ‘n handvol en selfs stil. Hoeveel van ons is dan regtig goed?
Mag die kruisiging en opstanding ons inspireer om soos ware Christenne op te tree. Dit is tog aan die vrugte wat die boom erken word.
Wie runnik saam?