Nuut, gebruik en vodde

13 04 2011

Olga skryf vandag dat sy nie van die teddiebere onder haar sorg kan afstand doen nie.  Ek stem volmondig met haar saam.  My teddiebere (onder andere) is myne en ek deel nie graag nie.  Ek sal ook self veel eerder ‘n nuwe speelding gaan koop as om van myne afstand te doen. 

Die rede is dat ek sentimenteel is – niks meer en niks minder nie.  Ek het in beginsel niks teen die herversprei van gebruikte speelgoed, klere of komberse nie.  As jy iets nie meer gebruik nie en bereid is om daarvan afstand te doen, hoekom nie.  Iemand anders kan dit wel gebruik en is dalk heeltemaal desperaat daarvoor.  Dit kos jou immers niks nie. 

Tog is daar deesdae ‘n neiging onder liefdadigheid organisasies om op nuwe goed aan te dring.  Hulle soek nuwe speelgoed vir kinders, nuwe klere vir die mense wat niks het nie en nuwe komberse vir die mense wat op straat bly.  Die laasgenoemde steek my veral dwars in die krop.  ‘n Tweedehandse kombers is sekerlik tog net so dienlik as ‘n nuwe een?  Dit gaan immers vuil word, verloor word, gesteel word en verkoop word vir drankgeld.  Hoekom dan nuwe komberse uitdeel?

Terselfde tyd kan gebruikte klere naakheid net so goed bedek soos nuwe klere.  Kinders speel net so lekker met gebruikte speelgoed as nuwe speelgoed.  Juis daarom ondersteun ek uit beginsel nie ‘n groep wat op nuwe klere aandring nie.  Dit blyk ‘n onnodige vermorsing te wees. 

Dit gaan nie oor suinigheid aan my kant nie.  Kanse is dat ek in elk geval ‘n nuwe kombers, speelding of klere sou gekoop het.  Dit steek my net dwars in die krop.  Aan die anderkant van die munt is daar mense wat onbruikbare vodde sal skenk en dan trane van dankbaarheid sal verwag.  Dit het waarskynlik gelei tot die nuwe goed vereiste.  Skenkers moet realisties wees en darem gemors van bruikbaar kan onderskei. 

Tog het ek al gesien hoe vrouens in my asblik krap en hoe hulle gesigte ophelder vir my vodde en selfs bederfde groente.  Baie van ons het nie ‘n idee wat armoede is nie.  Ek wil my amper verstout om te sê dat die wat hulle neuse vir gebruikte goed optrek, nog nie hulp nodig het nie.  As hulle regtig hulp nodig gehad het, sou hulle nie kieskeurig gewees het nie.

Ek gun iemand wat aan aardse besittings gebrek ly, waardigheid.  Waardigheid is egter nie gelykstaande aan luukses nie.  Iewers moet daar ‘n onderskeid wees.

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  In Sound of Music, waarom het Maria nie haar lelike, enigste rok vir die armes geskenk nie?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Ralph Macchio.





Lunch Week 15 / 11

13 04 2011
Toorwoorde
  1. Wat is “leek”?
  2. Wat beteken die afkorting “biol.”?
  3. Wat beteken die uitdrukking “van sit en staan kom niks gedaan”?
  4. Gee ‘n sinoniem vir “koffer” (3 letters)?
  5. Herrangskik die volgende in ‘n sinvolle woord:  OTUNGISIM