
Op die vooraand van een van die belangrikste dae op die Christen almanak, is dit dalk ‘n goeie tyd om oor bid te praat.
Dit is deesdae opvallend hoeveel mense hulle bid op Facebook doen. Ek praat nou nie van die algemene woorde van bemoediging of die getuienis nie. Nee, bid – van die aanhef tot op die punt waar daar amen gesê word. Dit is amper asof God een van hulle vriende is en hulle Facebook Statusse slaafs navolg. Met die nodige respek gesê.
Ek weet dat God orals is, ook in Facebook en elke mens het seker die reg om te bid soos hulle goed dink. Ek weet ook dat waarvan die hart vol is, die mond (en statusse) sal oorloop. Niemand is tog skaam daaroor dat hulle Christenne is nie. Hulle het die reg om hulle Christenskap uit te leef, soos hulle goed dink.
Tog is dit nie iets waarmee ek gemaklik is nie. Persoonlik voel ek dat ‘n gebed iets is wat in privaatheid gedoen moet word en ‘n saak streng tussen jou en God is. Mens kan / wil / moet soms mense vra om saam met jou te bid en daarvoor is Facebook ideaal. Die eintlike gebed self, ek is nie so seker dat dit op Facebook hoort nie.
Ek verpes dit om met die Bybel onder die arm te loop, maar daar is twee verse wat ek tog met julle wil deel vandag.
Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om op die straathoeke te staan en bid sodat mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as julle bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. (Matt 6 : 5 – 6)
Hierdie is nie my amptelike Goeie Vrydag en Paasfees skrywe nie, maar ek wil graag vir die van julle wat nou in “Internet Stilte” gaan ‘n baie geseënde Paastyd toe wens. Vir almal wat in die pad val, reis veilig en kom uitgerus terug.
Breinvasbrand: Wie was die leier van die Isrealiete toe die Paasfees ingestel was? (Let wel, dit was eeue voor Jesus)
Breinlosbrand: Olga was reg met Andre Stander.
Wie runnik saam?