Ek moet erken dat ek nie Pateet Laan slaafs volg nie, ek lê gewoonlik op straat wanneer dit uitgesaai word. Tog met die minuut hier en daar wat jy wel sien, het jy ‘n idee wat aangaan. Dalk nie in die fynste besonderhede nie, net genoeg om dankbaar te wees dat jou opwinding nie daarvan afhang nie.
Ek het toevallig vanaand gekyk. Blykbaar was Vince se meisie in die tronk gewees vir gewapende roof en sy is uitgevang. Vince se familie verwag van hom om haar dadelik te los, juis omdat sy agter tralies gesit het. Dit het my laat dink.
Tronkstraf word aan mense toegeken wanneer hulle die wet oortree het as ‘n straf. Wanneer die straf dus uitgedien is, behoort hulle skuld aan die gemeenskap vereffen te wees. Hulle skuld die gemeenskap dus niks verder nie en behoort mos tegnies gesproke weer die drade van hulle lewe te kan optel. Hulle het die prys van hulle fout betaal en behoort dus vergewe te word.
Dit is egter nie die geval nie. Jy kan dalk uit die tronk kom, maar die gemeenskap gaan jou die res van jou lewe in die tronk hou. Mense met ‘n kriminele rekord sukkel om werk te kry. Die tronkstraf het ook ‘n invloed op hulle persoonlike lewens. Sodoende word hulle keer op keer verneder. As daar geen inkomste is nie, niemand wat teleurgesteld kan word nie en niemand is wat omgee nie, is daar nie juis veel rede om misdaad te vermy nie.
Gun ons dus mense wat klaar gestraf is ‘n regverdige kans om weer lid van die gemeenskap te raak?
Tog, al is rehabilitasie deel van tronkstraf, moet ons ook erken dat daar geen salf is te smeer aan sommige mense nie. ‘n Pedofiel gaan weer een of ander tyd ‘n kind skade doen. Iemand wat bedrog gepleeg het, kan baie maklik weer in die slaggat val. Die vraag is eerder hoe onderskei ‘n mens tussen die wat regtig gerehabiliteer is en die wat net gedoen het wat nodig is om die gevangenis te verlaat?
Hoe sal jy byvoorbeeld voel as jou nuwe kollega Allan Heyl is? Of dat Charmaine Phillips jou hare vir jou kap? Gaan jy hulle ‘n regverdige kans gee? Of gaan jy jou teen ‘n reputasie vas staar?
Breinvasbrand: Wie was die hoofbrein van bankrowers bende waarvan Allan Heyl deel was?
Breinlosbrand: Olga was reg met James S. Ritty.
Wie runnik saam?