Ek gun elke mens sy / haar obsessie. Wat onsinnig vir een mens kan wees, irriteer die wit waks uit ‘n ander mens uit. Ek kan verstaan dat dit ‘n probleem kan wees as dit ontwrigtend op iemand se lewe inwerk. Dit is veral kommerwekkend as iemand se obsessie rondom ‘n mens draai. Dit hou selde iets goeds in vir ander mense.
Daar is die obsessies waaroor ‘n mens kan lag – vir die lyer en nie saam met die lyer nie. Vir ander van die obsessies kan jy maar net jou kop in ongeloof skud. Met die obsessies sal enige iemand die lyer jammer kry en opreg wens dat hy / sy van sy eie obsessie gered kan word.
Daar is byvoorbeeld mense wat tellers is. Hulle loop heeldag en aldag en tel. In die oggend moet die wekker ‘n sekere aantal luie gee voordat hulle dit afsit. Hulle tel hulle tree na die badkamer, tel met hoeveel hale hulle tande geborsel word en seker ook hoeveel druppels hulle piepie. So gaan dit die hele dag tot hulle weer skape gaan tel.
‘n Baie gewilde obsessie is om hande te was. Hierdie mense glo hulle hande moet altyd skoon genoeg wees om mee te eet. Hulle was hulle hande vir elke moontlike, onmoontlike en denkbeeldige oorsaak.
Daar is ook mense wat alewig moet regpak of skoonmaak. Ander loop weer die heeldag dinge en rangskik. Party mense verpes dit as die kosse aan mekaar raak en nog ‘n groep dink dalk weer die heeldag aan seks en alles wat daarmee saam gaan.
Ek kan eerlik sê dat ek net hande was wanneer dit van my verwag word en ek tel net goed as ek uiters verveeld raak. Natuurlik het ek geen obsessies nie. Almal skeur tog seker suikerpakkies, strooitjies ens oop. ‘n Ding wat skeef is moet moes reguit wees. My ma het my buitendien geleer om regverdig te wees, daarom sorg ek dat alles mooi verdeel is. Daar is niks onnatuurliks daaraan nie.
Wat is jou obsessies? Wat is die weirdste obsessie waarvan jy al gehoor het?
Breinvasbrand: Wie het altyd oor die plaveiselblokke gespring en moes oor begin het as die voet ‘n lyn geraak het?
Breinlosbrand: Seekat was reg met Moses.
Wie runnik saam?