Aflewering Pyne

28 04 2011

Ek gun regtig elke mens hulle brood met botter en konfyt.  Ek dink darem nie inhaligheid is een van my groot foute nie.  Ek trek egter die streep waar ek ingedoen word.

Nou die dag is ek opsoek na ‘n paar meubelstukke.  Ek weet nie van julle nie, maar ek besit nie ‘n vragmotor nie.  Ek sal dink dat dit tot voordeel van die winkel is om te sorg dat daar nie met aflewering gesukkel word nie.  Voorraad wat onverkoop op die vloer staan is ‘n vermorsing van geld en ruimte.  Die meeste winkels sien dit ook so in en bied dus aflewerings kostes.  Ongelukkig het een of ander nar ook gesien dat dit ‘n gulde geleentheid is om ‘n paar rand te maak.

As ‘n winkel jou dus die guns doen om ‘n paar duisende rand van jou geld vir hulle ware te ontvang, kan daar nie aanvaar word dat dit aflewering insluit nie.  Daar word ekstra daarvoor gevra, met ‘n dreigement as jy nie van hulle aflewering gebruik maak nie, jou goed in ‘n ongeluk sal kom wat hulle nie dek nie.

Op skool het ek rekeningkunde gehad en ons is daar geleer dat aflewering deel van die besigheid se bedryfskostes is.  Ek neem aan die kennis is verouderd.  In ‘n mate kan ek dit verstaan (as ek baie hard probeer).  Stedelinge het dalk ‘n swetterjoel keuses op hulle voorstoep, maar die voorstoep kan nogal lank raak.  My bietjie rekeningkunde vertel ook dat dit sinneloos is om ‘n aflewering te doen wat die hele wins van die transaksie opvreet.  Petrol en versekering is duur.  As ‘n redelike mens, sal ek dus instem om ‘n redelike bedrag vir aflewering te betaal.  Dit is juis hier waar dinge eers taai raak.

Baie plekke vra een standaard tarief vir aflewering, ongeag die afstand, grote of gewig van jou aankope.  Dan is daar diegene wat die afstand in berekening bring met die aflewering.  Daar is die een plek wat 40 km van my af is, wat ‘n aflewering vir R240 sal doen.  (Ek het mos gesê die voorstoep kan lank raak).  Ek kan die tarief insien.  Plekke rondom my se aflewering het gewissel van R60 tot omtrent R150.  Die wenner was ‘n aflewering wat my R450 sou kos en ek is net 1.5 km van die winkel af.  Hulle sou my dus R150 / km (as ek die retoer rit moes dek) gevra.  Die ironie is dat die pryse van die produk nie radikaal van mekaar verskil het nie.

Dit bring my weer tot my geykte rympie van goeie diens en uitmuntende diens.  Goeie diens is ‘n billike afleweringsfooi.  Uitnemende diens is gratis aflewering.  Selfs al is dit net in ‘n 10 km radius, vir aankope bo ‘n sekere bedrag of goed wat die klient nie self kan vervoer nie.  Ek is seker dit sal die opoffering werd wees.

Hoe voel julle hieroor?  Is daar nog plekke (behalwe pizzaplekke) wat gratis aflewering doen?  Is dit nie net bloot slegte maniere om nie die bedryfkostes so laag as moontlik te hou en by die prys in te reken nie?

Breinvasbrand:  Hoeveel kilometer radius van die restaurant, is Debonairs se aflewering gratis?

Breinlosbrand:  Saartjie