Wat die oog nie sien nie

31 05 2011

Daar word gesê dat ‘n prentjie dieselfde effek as ‘n 100o woorde het.  Ek het vandag weer presies die waarheid van die gesegde ingesien.  Ek het teen laat middag weer ‘n oog oor die geveg van die dag gegooi.  Elke jan raap en sy maat het ‘n eiertjie daaroor gelê en ‘n paar ooggetuies het dit nodig gevind om hulle grafiese weergawe te gee.  Dit alles was hanteerbaar, maar toe sien ek die merrie met besering en al.  ‘n Foto en dit was die vinnigste dat ek ‘n webblad toegeklap het. 

Om een of ander rede kan ek iets wat beskryf word uitstaan.  Ek sal dit lees en dit in konteks plaas en aangaan.  ‘n Foto of beeldmateriaal is ‘n ander storie.  Dit kan dae of selfs weke lank by my spook.  Dalk maak my brein nie prentjies van alles wat ek lees of vertel word nie.  Ook nie heeltemaal waar nie, ek kan van die weirdste goed prentjies maak. 

Ek dink dit is dalk nader aan die waarheid dat ek sorg dat ek nie prentjies maak wanneer ek van ontstellende goed lees of hoor nie.  Natuurlik het ‘n mens nie ‘n keuse waar dit beeldmateriaal aangaan nie.  Die prentjie word by jou keel afgedruk en jy kan dit dan nie ondaan maak nie. 

Die ironie is dat ‘n prentjie my gewoonlik meer ontstig as die ware Jakob.  Ek onthou ‘n keer wat ons een hond geskiet was en veearts toe moes gaan.  Ek is ‘n selferkende pissie waar dit pyn en lyding aangaan, maar om een of ander rede is ek saam die ondersoek kamer in.  Ek  het op die ou einde die veearts gehelp toe al die dapperes en groot bekke verdwyn het.  Ek het gekyk hoe die wond skoon gemaak en verbind word. 

Op dieselfde manier het ek geen probleem om noodhulp te doen nie.  Ek gril my net dood vir ‘n laserasie op ‘n foto.  Ek kan kyk hoe ‘n naald in my arm gedruk word en dink ek sal iemand ‘n inspuiting kan gee.  Ek kan nie verklaar hoekom dit so grillerig op ‘n foto is nie.  Ek was al by ‘n slagpale waar ek gesien het hoe diere geslag word.  Alles in “real life” en dit het my nie juis iets gedoen nie.

Eienaardig, ek weet.  Dalk omdat die ware Jakob nie daar is om jou te skok nie.  Dit gebeur net, dit word nie met ‘n doel gedoen nie.  Dalk is daar dan net nie tyd vir issues nie.  Of dalk is ek net weird?

Hoe voel julle oor grafiese beskrywings, beeldmateriaal of vertellinge?  Wat laat jou maag draai?

Breinvasbrand:  Hoeveel oë het ‘n sprinkaan?

Breinlosbrand:  Olga was reg met uie, seldery en rissie.





‘n Geheim

31 05 2011

Daar is net een probleem met ‘n geheim.  “Vertroulike inligting – hoogs geheim” is dalk ‘n beter uitdrukking.  Die probleem is dat dit dikwels te goed is om vir jouself te hou.  Iemand moet weet hoe betroubaar, uitgesoek en sommer net briljant dit jy is.

Ten spyte daarvan is daar goed wat jy liefs saam met jou graf toe moet neem.  Jy wil nie die “net een persoon vertel” bal aan die rol sit nie en net jou stilswye kan dit verhoed.  So skryf jy maar jou geheim in ‘n boek neer en steek dit sorgvuldig in ‘n verlate grot weg.  Eendag gaan vertroulikheid nie meer saak maak nie, maar daar sal dalk iemand wees wat jou daad kan bewonder.

Ek het die moord van die millennium gepleeg en daarmee weggekom.  Dit voor dosyne professionele fotograwe wat alles in ‘n oogwink aan die media kon uitlap.  Almal dink dit was net ‘n tragiese ongeluk.  Daar word soms beweringe van moord gefluister, maar niemand het dit ooit ernstig opgeneem nie.  Dit is maar net ‘n strooihalm waaraan die desperates geklou het.

Wat ‘n goeie ding is . . . die waarheid is meer bisar as enige fiksie.

My storie begin in 1989.  Ek het nou nie juis ‘n kantoor waarmee gespog kan word nie.  Diskresie is my middelnaam en my kliente waardeer hulle privaatheid.  Solank daar kontant betaal word, respekteer ek dit.

Die nat, mistroostige dag was my klient ‘n dame met ‘n burka gewees.  Haar uitstekende Engels het my nie verstom nie, ek kry dit baie.  Die koudbloedigheid van die dames verbaas my lankal nie meer nie.  Ek verstaan ten volle.  Eeue lank moor mense vir vryheid.

Met ‘n koninglike grasie en selfversekerheid het die dame voor my kom sit.   Ek kon sien hier kom groot geld.

“Ek verstaan jy is die beste huurmoordenaar beskikbaar.” het sy saaklik gesê.

Ek is ook al lankal gewoond daaraan dat daar nie doekies omgedraai word as my dienste benodig word nie.  Waar daar in die wêreldmagte se raadsale rondom die punt gedans word, is daar nie tyd vir mooi praatjies wanneer jy my vir jou vuil werk soek nie.

“Ek soek ‘n 50% deposito voordat jy een woord verder sê.  Die res is betaalbaar wanneer die taak voltooi is.” Het ek bruusk geblaf.

“Nie wat ek in gedagte gehad het nie.” Het sy geantwoord.

“Jammer Dame, hier speel ons volgens my reëls.” Ek het sommer ook opgestaan om haar die deur te wys.  Die beste in die besigheid is nie juis verleë oor bones nie.

“Jy maak ‘n fout, Meneer.” Het sy skouers opgehaal.  “Dit is my manier of die hele MI 6 is binne sekondes hier.  Jy is natuurlik welkom om dit te toets, maar dan sal ek na die tweede beste moet gaan soek.  Dit sal ‘n jammerte wees.”

Ek is nie die soort wat my deur ‘n gemaskerde teef aan die neus laat lei nie, maar ek was ook al lank genoeg in my veld om te weet dat enige iets moontlik is.

“Moenie my dreig nie!” het ek geknor, maar self geweet dat ek uitoorlê is.  As ek saam speel kon ek dalk weer die wenhand kry iewers.

“Ek sal jou vooruitbetaal vir jou dienste, ek verstaan jy is ‘n man wat hou by wat jy voorgeskryf is.” Het sy ongestoord voorgegaan.

Ek het belangstellend vorentoe geleun en gevra wie die teiken is.

“Ek” het sy kalm geantwoord.

“Ekskuus?” Julle moet verstaan, ek is ‘n huurmoordenaar.  Nie iemand wat sterwendes uit hulle lyding verlos nie.

“Ek.  Natuurlik nie vandag nie, maar wel voordat dit te laat is.”

“U sal moet verduidelik.” Het ek gefrons.

“Marilyn Monroe sal altyd ‘n legende wees.  Een van die redes daarvoor is dat sy nooit ooit in die publieke oog oud geword het nie.  Sy is met haar jeugdige gelaatstrekke verewig.  Juis daaroor sal sy nooit vergeet word nie.  Ek wil dieselfde doen.”

Ek kon nie help om die sarkasme krane oop te draai nie.  “Dame, u weet dat Marilyn Monroe bekend was voor haar afsterwe?  ‘n Tragiese dood maak u nie summier ‘n legende nie.”

“Dit is my afdeling, nie joune nie.” Het sy my koel meegedeel.

“Hoekom pleeg u nie net selfmoord nie?”

“’n Selfmoord gaan van my ‘n tragiese figuur maak.  Ek wil as die Koningin van Harte verewig word en dit sal ek nie kan regkry as mense dink ek het ineengestort nie.”

“Wat verwag u van my?”

“Ek verwag dat u my betyds moet doodmaak.  Voordat Moeder Natuur haar tol eis, maar op so ‘n manier dat die wêreld dekades lank oor my sal treur.  Ek wil verewig onthou word en daarmee moet jy my help.”

Terwyl sy praat sit sy ‘n tas op die tafel neer, knip dit oop en swaai die inhoud na my toe.

“Ek neem aan dit sal genoeg wees.  Ons kan die bedrag jaar na jaar opstoot, tot die tyd ryp is.”

“Wanneer sal die tyd ryp wees?” van alles wat ek al in my lewe moes gedoen het, het die een die koek gevat. In enige ander beroep sou ek ‘n boek daaroor kon skryf.

“Jy sal weet.  Solank ek in die publiek se goeie boekies is en ‘n goeie lewe gehad het.”

“Ek is nie heldersiende nie, Mevrou.  Ek moet darem seker weet wanneer u gereed is en waar om u te kry.”

Die dame lag eers honend en haal dan die burka af.  “Almal weet wie ek is en elke koerant basium uit waar ek is.”

Een kyk na haar blonde hare, steeds netjies nadat die burka af is en haar baba blou oë en ek moet haar gelyk gee.  Ek bevind my in die teenwoordigheid van een van die bekendste, gewildste en geliefste mens op aarde.  Een wat geroem word oor haar liefdadigheids werk in teenstrydigheid met die koue vrou wat ek leer ken het.  Een wat inderdaad die hele MI 6 in ‘n oogwenk op my kan sit.

“U majesteit.” Stotter ek verleë

“Die eintlike term is ‘U hoogheid’, maar dit daargelaat.  Ek neem aan u aanvaar die aanbod?”  Nog voordat ek kan antwoord, was sy by die deur uit.

Ek het nooit gehoor hoe sy van my te wete gekom het nie.  Getrou aan haar woord is my voorskot jaar na jaar verhoog, sonder dat ek weer met ‘n besoek vereer is.  Om my werk na behore uit te voer, moes ek elke tydskrif, elke koerant en elke biografië van haar my eie maak.

Af en toe wanneer ek dit die minste verwag het ek ‘n oproep gekry, sommer net ‘n bevestiging van die ooreenkoms tussen ons.  Hoe leër die uurglas geloop het, hoe kouer het my voete geraak.  Mens bestudeer nie iemand so lank in soveel besonderheid sonder om iets te voel nie.  Die meeste van my teikens het afsku en woede ontlok.  Sy het niks gedoen wat ‘n teregstelling regverdig het nie.

Later het ek van desperaatheid gedreig om media toe te gaan.  Dit was met die minagting behandel wat dit verdien het.  Wie sou my ooit geglo het?  Tussen al die ander spekulasies sou dit gou vervaag het in die lig van ‘n nuwe skandaal.  Nie dat enige skandaal ooit haar onskuld kon besoedel nie.

Die eerste keer wat sy ontevrede was met my diens was kort na haar egskeiding.  Ek het gevoel dat daar nog soveel is wat sy kon doen, maar sy het gevrees dat haar status daarmee heen is.  Ek was bekommerd oor haar twee jong seuns.  Sy het my verseker dat sy ‘n gesonde grondslag gelê het en dat hulle alles het waarvoor ‘n kind kan smag.  Die oppassers het hulle meer gesien en gehelp as wat sy.

Daar was die keer wat sy by haar berader ‘n ineenstorting gehad het.  Sy was woedend vir my dat ek toegelaat het dat sy die vernedering moes smaak.  ‘n Paar dae later het die woede oorgewaai na ‘n besoek aan ‘n landmynkamp waar ‘n paar foto’s met slagoffers weer harte gewen het.  Dit het egter die patroon van die laaste paar jaar geword.  Sy het gevoel dat sy op die afdraende pad is, maar ek het geweet sy sou weer hoër kon uitstyg.

In 1997 het ek weer ‘n oproep ontvang.  Soos altyd was dit nie nodig dat sy haarself moes identifiseer nie.

“Jy moet nou ‘n plan maak, die kontrak sal nie weer verleng word nie” het sy moeg gesê.

“Wat van jou kinders” het ek weer die holruggeryde, maar tog effektiewe verskoning probeer gebruik.

“Ek is besig om vir hulle ‘n verleentheid te word.  Ek wil eerder weg wees voordat hulle hulleself vir my kan skaam.”

“Ek dink nog steeds dit is drasties – “

“As jy dit nie wil doen nie, sal ek iemand anders kry”.  Ek kon hoor dat sy haar vererg het en het in gegee.  Ek was al jare terug betaal gewees en ek kon dit net so wel afhandel.

“Wanneer?”

“Net wanneer jy wil, maar verkieslik wanneer ek in die buiteland is.”

Dit was die laaste keer wat ek met haar gepraat het.

As ‘n laaste guns aan haar, sou ek die blaam vierkantig op die skouers van die papparazzi plaas.  Ek sou my een man moes opoffer.  Oor die pierewaaier saam met haar was ek minder bekommerd.  Sover ek kon vasstel het hy min gedoen buiten suurstof steel.

Ek het geweet die aasvoëls sou op hulle toesak die oomblik wat hulle die restaurant verlaat.  Natuurlik het my man alles in die stryd gewerp om hulle af te skuld, maar dit was soos verwag te vergeefs.  In die tonnel van die Pont de l’Alma pad in Parys het hy teen ‘n hoë spoed teen die versperring vasgejaag.  Niks meer was nodig nie.

In die vroeë oggend ure van Sondag, 31 Augustus 1997 het ek my eienaardigste opdrag afgehandel.  Die Koningin van Harte was weer aan die toppunt van die gewildheidsleer.  Die wêreld was in rou gedompel en sy is verewig in almal se harte vasgemessel.

Die hartseer het vergaan, maar die gedagtenis aan haar het nie.  Elke mylpaal wat haar seuns bereik, onthou die aardlinge haar weer.  Sonder skande en pragtig soos wat sy nou altyd sal wees.

(Die storie is heeltemaal fiktief, hoewel daar ooreenkomste met die waarheid is.)





Lunch Week 21 / 11

31 05 2011

Uilspieël

(Watter een pas nie en hoekom pas dit nie?)

  1. Korporaal; Kaptein; Kolonel
  2. Sjokolade Koek; Melktert; Quiche
  3. Rugby; Swem; Gholf
  4. Uniedag; Republiekdag; Vryheidsdag
  5. Orange; 1 time; Kulula




Ui vs die mens

30 05 2011

‘n Mens kan nog iets eet sonder vleis, jy kan kos eet sonder groente en daar is baie disse wat jy sonder Mrs Balls kan voorstel.  Tog, die oomblik wat potte uitgehaal word, word daar na uie gesoek.  Amper enige iets wat souterig is, word gewoonlik met uie vergesel.  Daar is wel die uitsonderings van allergië en fiemies, maar waar ek vandaan kom is kos nie kos sonder uie nie.

In beginsel het ek niks teen uie nie.  Ek eet dit sonder ‘n om te kla of dit nou sigbaar, grof, fyn, rou of gaar is.  Wat my wel grief is om dit te verwerk.  Die skil van een ui kan nog gaan.  Die opkerf of rasper daarvan is ‘n ander storie.  Ek is in snot en trane as ek dit net sorteer.  Nie ‘n aangename prentjie waar ‘n mens met kos werk nie.

Daar is omtrent vir elke dis wat uie benodig ‘n raad hoe om traan oë te vermy.  Blybaar brand dit nie jou oë as jy dit onder water skil nie.  Baie mense sweer dood dat as jy brille dra, die ui jou nie kan looi nie.  ‘n Ui wat in die vrieskas rus, wek glo nie trane nie.  ‘n Stuk brood in jou mond, sorg dat die waterwerke afbly.  Die nuutste een is glo dat jou oë nie kan brand as jy kougom kou nie.

Ek het lank gelede al moed opgegee met al die wenke.  In ‘n era van genetiese manipulasie, hoekom het niemand al ‘n ui so bewerk dat dit nie meer tande het nie?  Dit is teen my menseregte om so te ly as gevolg van ‘n plant.  Hoekom brand dit nie ‘n mens se oë as jy dit rou op ‘n broodjie of in ‘n slaai kry nie?

Hoe beskerm jy jouself as jy met uie werk?  Het uie jou al ooit in ‘n verleentheid gebring?  Wat is jou gunsteling uie verwerking?

Breinvasbrand:  Wat word saam met uie as ‘n drie eenheid gesien in Cajun Kookkuns?

Breinlosbrand:  Selene was reg dat dit dieselfde skrywer gehad het.  Olga was reg met Stella Blakemore.





Lunch Week 21 / 11

30 05 2011

Algemene Kennis

  1. Wat is die naam van mascot (nar) van McDonalds?
  2. Aan watter kant van die liggaam sit jou hart?
  3. Wie was die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat vanjaar die Comrades voltooi het?
  4. In watter kontinent is Peru geleë?
  5. Wie is die hoofkarakter in die “Pirates of the Caribbean” flieks?




Is Vakke Omvattend Genoeg?

29 05 2011

Suid-Afrika het, soos die meeste ander lande, ‘n wet dat elke mens van ‘n sekere ouderdom op een of ander manier skool moet gaan.  Dit hou seker in ‘n mate die bloedjies van die straat af en ontwikkel die brein – wel, ten minste soort van.  Skool is nie die enigste plek waar ‘n kind kan kennis op doen nie.  Dit is ook nie die enigste plek om die brein te ontwikkel nie.  Ek sal selfs so ver gaan as om te sê dat skool seker maar die minste is vir die ontwikkeling van ‘n kind.

Dit ter syde, skole is nou ook nie juis bruikbaar met hulle silabus nie.  Wanneer laas moes jy ‘n trig probleem oplos?  Het jy al ooit in jou lewe buite skoolverband kaartwerk gedoen?  ‘n Woord in lettergrepe verdeel of ‘n rympatroon uitgewerk?  Genugtig, wanneer laas het jy omgegee of iets ‘n selfstandige naamword of selfs ‘n werk word is?  Jou algemene kennis het waarskynlik ‘n stoot in die regte rigting gekry, maar hoe dikwels neem ‘n mens aan Flinkdink deel?

Goed, ek soek darem nie ‘n samelewing met nog meer kluite as wat daar op die oomblik is nie.  Die goed lyk dalk onbruikbaar, maar daar was tog ‘n doel daaragter.  Al was dit net om ons almal “Jacks of all Trades” te maak, tot ons die dag besluit het waarvan ons meesters wil wees.  Die basiese fondasie het ons beslis nie slegter af gelaat nie. 

Ek wonder tog of skole dalk nie ‘n paar meer bruikbare goed kan inwerk nie.  Om mee te begin, ons is Suid-Afrikaners en selfs die suidpunt van Afrika raak onmenslik warm.  Dit is net natuurlik om in water af te koel, maar kyk net hoeveel mense verdrink elke jaar.  Behoort elke kind nie sommer in Gr 1 te leer swem nie? 

Hoekom word almal nie in Gr 11 geleer hoe om te bestuur nie?  As deel van die leerplan, ek meen, mens verwag deesdae dat almal ‘n lisensie moet hê.  Op die manier kan daar verseker word dat hulle die regte manier geleer word.  Maak dit sommer deel van die vereisde om st 9 te slaag (en op die manier ‘n lisensie te verwerf). 

Ek dink daar moet dalk ‘n basiese kursus van regte (bedoelende die wet) ingedruk word.  Iets soos arbeidsreg is van toepassing op almal, maar die meeste mense se kennis is gegrond op wat hulle iewers gehoor het.  Wie weet hoe jy in die hof moet optree?  Het julle geweet dat die polisie nie ‘n lid van die publiek hulp mag weier nie?  As jy byvoorbeeld nie ‘n slaapplek vir die aand het nie, kan jy by die polisie aanklop en hulle moet jou help.  Daar is altyd ‘n moontlikheid dat ‘n mens vir ‘n noodgeval iewers heen moet jaag.  Jy kan (moet?) egter polisie begeleiding daarvoor kry, wat dit nie net makliker maak nie, maar ook veiliger. 

Skole behoort ook sommer kinders te leer hoe om persoonlike belasting te doen.  Dit is oor die algemeen baie eenvoudig en dit is ‘n mors om altyd iemand aan te stel om dit te doen. 

Net ‘n paar gedagtes.  Ek weet ouers kan baie van die goed self vir kinders leer, maar hulle kan ook self die kinders Afrikaans, Engels en Geskiedenis leer.  Lewens Orientering kan soveel verder strek as veilige seks.  Iemand moet net gaan dink wat nog benodig word.

Wat behoort nog by die leerplan ingesluit te word?

Breinlosbrand:  Wat het die Maasdorp en Keurboslaan reekse in gemeen?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Live Strong.





Oplossing Week 20

29 05 2011

Algemene Kennis

  1. Patricia de Lille (Demoerin)
  2. Springbok (Demoerin / Pofmuis)
  3. Ashton Kutcher (Pofmuis)
  4. 8 maande (Demoerin / Pofmuis)
  5. Die nylrivier (Demoerin / Pofmuis)

Uilspieël

  1. Melk – is nat en is nie ‘n stysel nie (Pofmuis / Olga)
  2. Christopher Columbus – Was nie ‘n Romein nie (Pofmuis / Olga)
  3. Dogmatix – was ‘n hond (Pofmuis / Olga)
  4. See – Nie ‘n kenmerk van Bloemfontein nie (Pofmuis / Olga)
  5. Dokter – Nie ‘n regsgeleerde nie (Pofmuis / Olga)

Toorwoorde

  1. Oosterse vaartuig met twee maste
  2. Rus in Vrede (Pofmuis / Olga)
  3. Laatkommers maak ook klaar (Pofmuis / Olga)
  4. Kaggel (Pofmuis / Olga)
  5. Tandeborsel (Pofmuis / Olga)

Couples Theraphy

  • Amy – Maxine (Olga)
  • Darlene – Roseanne (Olga)
  • Vanessa – Charmaine (Olga)
  • Dorothy – Sophia (Olga)
  • Rory – Lorelei (Olga)

Televisie ma’s en dogters (Olga)

Liedjiepret

  1. You Can Leave Your Hat On – Joe Cocker (Pofmuis)
  2. The Heat Is On – Glenn Frey (Pofmuis / Olga)
  3. Seasons In The Sun – Terry Jacks / Westlife (Pofmuis / Olga)

Liriekeraai

  1. You Sexy Thing – Hot Chocolate (Pofmuis / Olga)
  2. Hot Stuff – Donna Summer (Pofmuis / Olga)
  3. I Think We’re Alone Now – Tiffany (Pofmuis / Olga)
  4. Unwell – Matchbox 20 (Pofmuis / Olga)
  5. Stoom – Amanda Strydom (Pofmuis / Olga)




Vlêrhuise Jag

27 05 2011

Hallo Maatjies!

Ek was baie besig om vir vlêrhuise te soek die week.  :mrgreen:  Was julle al ooit in in ‘n vlêrhuise gewees?  😕

Merriegriet is mos pers met my!  😡  Elke keer as sy na die Sodorro Vlêrhuise vat nie.  👿  Sy vat al die maatjies en dan moet ek elke keer by die huis bly.  Kan julle dit glo?  😯 Ek gaan sommer gatjies in haar sokkies byt omdat sy so lelik is met my.

Nie dat ek my laat vermaak nie!  Sien julle hoe slim is ek?  😀  Vermaak beteken dat ek my neus deur die grond sleep.  🙂  Ek wil nie my neus laat bloei nie.  😯 

Ek het my eie vlêrhuise gaan soek.  😆  En wanneer ek ene kry, gaan ek nie vir Merriegriet wys nie.  😈  Dit gaan net my vlêrhuis wees. 

Het julle iewers ‘n vlêrhuis gesien?  ❓

Tata Maatjies





Hoe is dit moontlik?

27 05 2011

In 1905 het Eugene N. Marais ‘n gedig geskryf wat bewys het dat Afrikaans meer waarde as net ‘n kombuistaal het.  ‘n Gedig wat Afrikaans basies as ‘n taal gevestig het.  Dit was ‘n besonderse gedig.  Tot op hede kon niemand ‘n hoëveldse winter beter beskryf het nie.  Mens kan tog nie op die beste verbeter nie.

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
le die velde in sterlig en skade
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ‘n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk’ grashalm se vou
blink ‘n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou!





Lunch Week 20 / 11

27 05 2011

Liedjiepret

(Geen een woord titels sal aanvaar word nie.  Die vertaalde titels van 3 liedjies is verskuil.  Identifiseer dit met die sanger.)

Jy kan jou hoed oplos, maar dit gaan nie eers troos nie.  Al verloor jou kop die meeste hitte, bly dit koud.  Die hitte is aan en die ysbere dwaal buite rond.  Dit is dalk die seisoene van die son, maar dit beteken nie die kwik styg nie.

Liriekeraai

(Liedjie en sanger)

  1. My angel from above lying next to me
    How did ya’ know that I’d be the one
    Been a long time coming only just begun
    Doing all the things that makes my heart sing
  2. Lookin’ for a lover who needs another
    don’t want another night on my own
    wanna share my love with a warm blooded lover
    wanna bring a wild man back home
  3. Children behave
    that’s what they say when we’re together
    And watch how you play
    they don’t understand.
  4. I’m not crazy, I’m just a little impaired
    I know, right now you don’t care
    But soon enough you’re gonna think of me
    And how I used to be…me
  5. Ek het gedroom jy staan weer voor my
    Soos die nag op Naval Hill
    Jare gelede, in die koue in Bloemfontein
    En alles was dieselfde, asof niks verander het
    Die hamburgers van Moses, die Tassies langs ons bed