Die wet van gemiddeldes. Hoeveel ek ookal daardie term haat, val ek oor die algemeen in daardie groepie. Met ‘n storie wat nie die moeite werd is om te deel nie en sonder enige hoegenaamde krisisse. Ons lewe ons lewe, sonder om dit vir ander te moeilik te maak en sonder om te veel droog te maak. Ons koppe hak gewoonlik met net genoeg verantwoordelikheid uit. Ons is okay en een van ons grootste sonde is dat ons diep in ons glo almal is okay.
Ons drink byvoorbeeld graag per geleentheid ‘n glas wyn of biertjie. Met tye is dit dalk ‘n bietjie te veel, maar ons maak nou nie noemenswaardige skandes nie. Dit is egter geen rede om die plesiertjie uit die bottel te bedank nie. Ons sal nie eers oor sondaarsbelasting kla nie, dit raak ons nie te erg nie. Ons verwag almal geniet ‘n drankie op hulle tyd en sal sonder om twee keer te dink vir almal ‘n ietsie aanbied.
Af en toe druk die lewe en dan is dit maklik om te vertel hoe ons van ‘n hoë gebou gaan afspring. Sou ons egter in die rigting van die toring beweeg, gaan niemand ‘n wenkbrou lig nie. Ons sal waarskynlik net die uitsig van bo waardeer en seker maak ons val nie per ongeluk af nie.
Ons dreig graag dat ons so dik soos busse is, waarskynlik met ‘n dik sny sjokolade koek voor ons. Een wat ons met lus ook gaan opeet. Daarna gaan ons met die beste ondernemings op aarde huis toe om more finaal met ‘n streng dieet te begin. More is die voornemings en die sjokolade koek al lankal vergete.
Ons vlerke is sterk en ons verwag dat almal net so sorgloos moet rondvlieg soos ons. Nie dat ons noodwendig onsensitief wil wees nie, baie afvlerk voëltjies versteek hulle pyn / probleme sorgvuldig. Die vrou wat vir 13 jaar nie na drank mag kyk nie, nadat sy ‘n helse stryd teen alkoholisme gestry het. Die man wat regtig met depressie stry en ernstig oorweeg om sy brein weg te plaas. Die meisie wat haar vinger in haar keel gaan afdruk omdat sy glo dat sy onaansienlik vet is. Ons weet daar is sulke mense, ons verwag net nie dat dit mense sal wees wat ons ken nie.
Aannames en ons weet wat veroorsaak aannames altyd. Aan die eenkant behoort gemiddeles seker as ‘n funksionele voorbeeld te dien aan die wat graag by hulle wil aansluit. Aan die anderkant moet ons dalk ons onverskillige woorde begin opweeg en onthou dat dit dalk vir iemand onverdiend ‘n dolk in die hart gaan wees. Gaan die prys vir sensitiwiteit nie dalk humor wees nie? Of het ons dalk net ‘n verwronge idee wat humor is?
Breinvasbrand: Wie het die term alkoholisme gemaak?
Breinlosbrand: Olga was reg met Amos Masondo
Wie runnik saam?