
Demoerin pleit vandat vir verantwoordelike, ouerlike seksopvoeding by hulle kinders. Dit het my aan ‘n ware storie laat dink – ek het dit by die vrou, kom ons noem haar Tannie Dot, self gehoor.
Daar was ‘n tyd waar dit doodsonde was om vulgêr te wees. Die blote verwysing dat iemand moontlik swanger is, kon jou ‘n pak slae op die hals gebring het. Goed soos menustruasie, geslagdele en enige verwysing na seks was taboe. Die ooievaar het babas gebring en basta met die res.
Die voorval het in die laat 40’s en vroeë 50’s afgespeel. Die jong Dot was ‘n meisie van goeie inborste gewees. Alles gedoen soos dit ‘n goeie Afrikaner dogter betaam het. Haar ma het haar en haar suster ook vroeg-vroeg van die lewe vertel. As ‘n wakker Afrikaner dogter nie uitkyk nie, kan sy in die moeilikheid land. Sy mag nooit ‘n man soen voordat sy getroud is nie anders gaan sy ‘n baba kry. ‘n Baba vir ‘n ongetroude vrou was die grootste skande ooit.
So het Dot oor die agterdeur begin loer. Sy was nogal ‘n mooi meisie gewees en daar was nie ‘n tekort aan bewonderaars nie. Sy het dus ‘n heel besige sosiale lewe gehad. Sy het egter nooit haar ma se raad vergeet nie. Sy het gesorg dat nie een van die jongetjies haar ooit soen nie. Sy was ‘n ordentlike meisie en ‘n baba sou nie deug nie.
Tot die dag wat die een jongetjie onthuts wou weet nou hoekom mag hy haar dan nie soen nie. Sy het hom onomwonde ingelig dat soen haar ‘n baba sou laat kry. Groot was haar verbasing toe die jongetjie skater van die lag. Hy was ‘n geleerde man boonop. “Kom sit,” nooi hy haar “sodat ek jou ‘n paar dinge kan vertel voordat jy in die moeilikheid land”. Sy het regtig tot hy haar anders vertel het geglo dat sy sal swanger raak as sy ‘n man soen.
Dot was hom so dankbaar, dat sy ingestem het om met hom te trou en hulle het 5 kinders saam gehad. As ‘n mens tannie Dot egter moet glo, was die kinders die gevolg van nagvlugte gewees (die oom was ‘n vlieënier). Darem nie van soen nie.
Wie runnik saam?