Ek is beslis nie ‘n voorbeeld van mededeelsaamheid waar dit ander padgebruikers insluit nie. Ek het al hoeveel kere gal gebraak oor die verbruikers met minder of meer as 4 wiele. Terselfde tyd is ek in die opsig ‘n sprekende voorbeeld van blaffende honde wat nie byt nie. Hoe ek ookal fietsryers, motorfietsryers, voetgangers, vragmotors; diere ens soms slegsê, sal ek enige iets in my vermoë doen om ‘n ongeluk met hulle te vermy.
Hoewel daar wetgewing is wat menslike padverbruikers moet nakom (al ignoreer hulle dit dikwels) moet ek nog die dier teëkom wat die wet gebestudeer en toegepas het. Hulle verstaan die basiese beginsel beter as baie mense. Sorg dat jy uit die pad kom of jy word padkos. Hulle instinkte is oor die algemeen beter as enige mens s’n. Tog gaan ek nie net aanvaar dat die dier wat op die pad is vanself uit die pad gaan beweeg nie.
Waar ek dus diere langs die pad gewaar, sal ek ten minste my voet van die petrol afhaal. Volgafstande in inderwaarheid enige dag van die dag of nag geldig, dus behoort dit nie ‘n probleem vir my medemotoriste te wees nie. Dit is seker selfsugtig van my, maar diere kan derduisende rande se skade aan jou kar aanrig. Tog gaan ek ook nie ‘n klein dier doodry nie as ek dit kan verhelp nie.
Daar is egter mense wat anders dink. Ek verwys nou nie na mense wat ‘n dier in die normale loop van omstandighede sal dood nie. Daar is mense wat die diere op die pad jag vir een of ander sadistiese plesier.
Soos die naweek toe ons by ‘n verkeerslig wegtrek (die verkeerslig by die volgende kruising is pas rooi, dus gaan ‘n mens weer moet stop), jaag daar ‘n vent met sy Focus verby om die duiwe te probeer raak ry. Hy het een getref dat daar net vere spat, net om gedwee by die volgende verkeerslig te gaan wag. Van daar het al die duiwe gaan begrafnis hou en hy het normaal verder gery.
Was dit normale verkeer kon ‘n mens dit dalk insien, maar hy wou aspris ‘n duif in sy kanon in ry. Dit sou niks van hom afgeneem het om rustig tot die volgende kruising te ry nie, dit sou hom inderwaarheid petrol gespaar het. Dan sou daar egter een meer duif in die wêreld gewees het.
Hoe voel julle daaroor? Is dit geregverdig om met ‘n kar diere op die pad te jag? Net vir ekstra skop? Of geld die beginsel van lewe en laat lewe nog steeds?
Breinvasbrand: Wat word ‘n bullbar in Australië genoem?
Breinlosbrand: Olga was reg met Magnus Huss.
Wie runnik saam?