Waar is Laviga?

31 01 2015

P1310969

Julle is aan!! 😀

Raai waar kruip ek weg!  😉  Julle moes spesiaal wees.  😯  Om te kan moet wen moet julle sê waar presies ek is.  🙂 Die den en die dorp.

Laaste een in is ‘n vrot eier.





#@# geheime organisasie

30 01 2015

Ek moet seker self ‘n geheime organisasie uitdink. Baie moeliker as ‘n mens sal dink. Olga het reeds ‘n vigilante groep wat die kinders sal wreek. Ek is seker sy sal my daar toelaat en ek hoop ek kry ‘n graaf borsspeld. So ek moet iets anders gaan soek.

Julle weet al teen die tyd dat dit nie veel neem om my te amuseer nie. Gee my net iets waarvan al die drade nie vas is nie of as 2 en 2 nie 4 maak nie. Dan praat ek nie eers van ‘n som sonder ‘n antwoord nie. Net omdat dit ‘n gevestige Geskiedenis feit is, beteken nie noodwendig dat ek dit sal glo nie. As iets nie vir my sin maak nie, gaan ek dit bevraagteken of my eie teorie vorm. Dit maak dan seker van my ‘n sameswerings teoretikus.

As ek dus ‘n geheime organisasie kan stig, sal dit ‘n groep wees wat die storie agter die storie gaan soek. As ‘n groep sal ons dus elke ding waaroor ons (ek) wonder gaan ondersoek tot ons nie meer wonder nie. Daar sal natuurlik twee bene moet wees: die ondersoekers en die ontwikkelaars. Die ondersoekers sal nie ver kan kom sonder ‘n tydmasjien nie. Die ontwikkelaars sal onder andere een moet ontwikkel. Ek dink iets soos Mannemarak se ruimteskip. Klein, maar weerstandbiedend teen gif en ‘n taai klap.

Oe! Die moontlikhede. Maar voordat ek weggevoer raak, moet ek eers aan aansluitingskriteria dink. Ek soek mense wat buite die boks kan dink, maar terselfde tyd krities kan dink. Hulle sal die perdedrolle van die feite moet kan onderskei. Hulle moet moet in beroepe wees of belangstellings hê wat ons doel sal bevoorbeeld. Hulle moet natuurlik aanvaar dat hulle deel van ‘n geheime organisasie is en besef dat hulle nooit krediet vir hulle bevindinge of ontwikkelings sal kry nie. Hulle sal dit ook nie kan gebruik om hulle eie agendas na te streef nie.

Ons ontmoet plek moet ‘n weggesteekte museum wees. Ons sal die museum natuurlik oor tyd kan vol maak. Ek hou nie van tattoeërmerke nie, dus sal ons maar juweliersware gebruik as identifikasie. Ek is nog nie presies seker wat nie, dit moet iets wees wat nie juis aandagtrek nie, maar dit moet so duidelik soos daglig wees vir die wat weet waarvoor om te kyk. Iets wat vir mans en vrouens werk, dus dalk ‘n ring op ‘n sekere vinger. Ek wil nou ook nie onnodige kanse vat nie, dus moet almal dalk ook ‘n mikroskyfie hê vir positiewe identifikasie. Tensy die ontwikkelaars ‘n DNA toets kan ontwikkel wat iemand binne 2 sekondes kan identifiseer.

Ek moet ook nog besluit wat ons met die inligting gaan doen. Aan die eenkant sal jy dit onder die wêreld se neuse wil vryf, maar onthou dat nog steeds ‘n geheime organisasie is. Dit sal dus anoniem gepubliseer moet word of as fiksie bemark moet word. Niemand glo mos fiksie nie, tensy dit natuurlik ‘n geloof uitmekaar haal.

Die organisasie kan maar iets wees waaroor mense wonder. Wonder, maar nooit die antwoord kry nie. Dit sal mos ons werk wees. Net die amptelike lede sal presies weet waaroor dit gaan.

Nou kort ek net die wêreld se ekonomie. Dalk moet ek eerder ‘n ander lewende planeet gaan kaap en klaarkry.

Breinvasbrand: Watse organisasie se kenteken is hieronder:

Breinlosbrand: Scrapydo was reg met Muizenberg.





Christuskirche

30 01 2015

P1330208





Wat sal jy in die geheim konkel?

29 01 2015

Cecil John Rhodes was nog nooit een van my gunstelinge nie.  Dit was waarskynlik Barney Barnato se skuld.  Ek het egter nog altyd geglo dat ‘n mens die duiwel moet gee wat hy toekom.  En Rhodes is beslis iemand om van kennis te neem.

As 5de, sieklike seun van ‘n predikant was sy sterre seker maar dof en verbeeldingloos.  Aan die ander kant, sy pa was ‘n man wat daarop geroem het dat hy nog nooit langer as 10 minute gepreek het nie.  Die Rhodes familie was dus seker geregtig op ‘n wonderwerk.

Of dit ‘n wonderwerk, skelmheid of knapheid was, Cecil John Rhodes het sy fortuin in Afrika kom maak.  Hy het op 48 jarige ouderdom sonder ‘n kind en kraai gesterf.  Vanuit sy boedel is die Rhodes Beurs gestig.  Die beurs stuur mans (later mense) van (voormalige) Britse Kolonies na Oxford vir nagraadse studies.  Die vol beurs word vir tussen 1 en 3 jaar  toegeken om “civic-minded leadership amongst young people with moral force of character and instincts to lead, and to help “render war impossible” through promoting understanding between the great powers” te bevorder.

In 1902 is 52 beurse toegeken.  In 2013 is daar 83 beurse toegestaan.  Toegegee, daar het ongeveer 40 ekstra beurse by gevoeg, maar vir meer as 100 jaar dra die Rhodes boedel die beurse.  Meer as 7000 mense het al voordeel uit die beurs getrek.  Dit is veilig om te sê die man het in die geld gerol.  Dit was nie eers sy hele boedel nie, UCT en Kristenbosch Tuine is gebou op grond wat hy die land nagelaat het.

Min mense sal betwis dat dit ‘n waardige nalatenskap was, maar die Rhodes Beurs was sy plan B.  Sy plan A was veel interessanter, alhoewel bisar.  Rhodes wou sy boedel gebruik het om ‘n geheime organisasie te stig.  Die doel van die organisasie sou wees om die wêreld onder Britse beheer te bring.  Nou nie om ‘n goeie storie met feite te bederf nie, ten tye van die testament was hy 24 jaar oud en nog nie die rykste man in die wêreld nie.

Ek was nog altyd gefassineer met geheime organisasies.  Helaas is geheime organisasies gewoonlik van die duiwel and ‘n korrupsie nes.  Wel, dalk net omdat ek nog nie een gestig het nie.   Soos die mot, glo ek mos ook dat ek nooit die kers sal tref nie.

Voor ek nou op my eie battery piepie, laat ons eerder onthou dat sê nou ‘n lekker sê is.  As jy ‘n geheime organisasie kan stig, wat sal die mandaat van die organisasie wees.  Onthou, dit is ‘n hipotetiese organisasie (of maak of dit ‘n geheime organisasie is).  Moet dus nie deur ‘n gewete, praktiese oorweging of die wet beperk word nie.  Watter rituele sal julle in jou organisasie hê en hoe sal die lede gemerk word?

Breinvasbrand:  Olga het reggeraai met Oxford.

Breinlosbrand:  Waar is Cecil John Rhodes dood?





Leer-Leer onder ‘n boom

28 01 2015

O die skande! Oopgevlek deur ‘n joernalis wat saggies om ‘n hoek sluip om die skuldiges op heterdaad te betrap. Sy sien haar kans en slaan toe. Daar is geen wegkomkans nie. Die onderwyseres is op heterdaad betrap. Nee, nee – sy het nie haar klas geleer om te paaldans nie. Sy het hulle nie toegelaat om in ‘n seksorgie deel te neem nie. Nee, haar sonde is veel erger! Sy het klas gegee onder ‘n boom! (‘n Insetsel op die Afrikaanse Nuus op SABC 2 op 27 Januarie 2015).

Die manier waarop die berig aangebied is, het my sommer dwars in die krop gesteek. Wat staan ‘n skool te doen as daar nie genoeg klaskamers is vir al die leerlinge nie? Dit is elke skool se plig om die beste te doen met die hulpbronne met hulle beskikking. As die hulpbronne nie daar is nie en daar is nie fondse nie, dan moet hulle maar sien kom klaar.

Weet julle wat ek gesien het toe die joernalis om die hoek gekruip het? ‘n Klas vol kinders wat besig is om te leer. Daar is nie op ‘n hopie gesit en geween oor die gebrek van infrakstruktuur nie. Nee, daar is ‘n plan gemaak en die kinders het onderrig ontvang. Daar het nie chaos geheers (voordat die SABC hulle onderbreek het nie) en dit het vir my gelyk of die juffrou hulle aandag gevange gehou het. Sy het dus haar salaris verdien.

Om skool te gaan onder die bome is tog niks nuuts of selfs vreemd nie. ‘n Onderwyser het my eendag vertel hoe sy nie haar eie klaskamer in die 80’s gehad het nie. Sy moes met haar leerlinge ‘n oop klas gaan soek het. Wanneer sy die dag nie ‘n oop klas gekry het nie of te lui was om een te gaan soek, het sy haar klas onder die bome aangebied. En ja, ons praat van ‘n blanke skool hier.

Ek het self ook al ‘n paar keer klas onder ‘n boom gehad. As daar byvoorbeeld ‘n steurnis in die betrokke klas was of selfs sommer net omdat dit ‘n lekker dag was. Ons sou nie eers gedink het om te kla nie.

Ek besef die verskil is dat die kinders op die nuus nie die opsie van ‘n klaskamer het nie. Hulle moet elke dag in die wind en weer sit om iets in hulle koppe te kry. Ek het opgelet dat hulle op stoele gesit het (wat party van die maatjies in die klasse nie gehad het nie). Ons het sommer gewoonlik plat op die gras gesit.

Skool onder die bome en in skeepshouers is beslis nie ideaal nie, maar dit is beslis ook nie die ergste nie. Dit is wat die Boere destyds na die Vryheidsoorloë moes doen. Dit is wat vandag nog die enigste opsie in die party derde wêreld en oorlogsgeteisterde lande is. Die belangrikste is WAT geleer word en nie WAAR geleer word nie.

Ek dink die hoof en die personeel verdien ‘n staande applous dat hulle dit laat werk. Die skool verdien beslis ordentlike klaskamers en die nodige meubels. Juis omdat hulle nie net hande in die lug gegooi het en “kannie” gepleit het nie.

Noudie dag was daar op Highveld 94.7 ‘n interessante vraag gevra. Deesdae is daar elke tweede dag ‘n nuwe privaat skool. Hoekom is daar nooit nuwe staatsskole nie?

Wat dink julle?

Breinvasbrand: Die Rhodes beurs is vir nagraadse studie by watter universiteit?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Primrose





Die ongekontaktes

27 01 2015

Dit klink amper soos ‘n fliek oor ruimtewesens.  Dit is moeilik om te glo dat daar vandag nog mense is wat nie kontak met die res van ons het nie.  Dit klink half onwerklik.  Mense wat op aarde woon, maar wat nie deel van die wêreld is nie.  Mense wat nie weet van ander lande, gelowe of tegnologie nie.  Mense wat bekend staan as die “uncontactable”.

Ek het al dikwels gespekuleer of daar dalk iewers in die Amasone ‘n nasie (Amasones) is wat nog nooit ontdek is nie.  Wat sal hulle dink as hulle ontdek hoe groot die wêreld eintlik is?  Dit was egter altyd eintlik maar ‘n “Sê nou” speletjie.  ‘n Wetenskaplike fiksie, waaroor ek nou nooit regtig te lank gedink het nie.

Daar is egter regtig nog mense wat heeltemal onafhanklik van die wêreld bestaan.  Mense wat nog nooit aan die moderne lewe en volke bekend gestel is nie.  Groepe waarmee die wêreld nie kontak het nie.  Daar is groepe waarvan die wêreld weet van hulle bestaan (deur aanvalle of lugfoto’s), maar of kontak geweier is of net nie gekontak kon word nie.  En ja, daar is baie van hulle in die Amasone.

Ek gaan vandag volstaan by die inwoners van die Noord Sentinel Eiland.  Verskoon my vertaling, maar ek gaan na hulle verwys as die Sentinelese.

Ek kan altyd ‘n goeie F-jou storie waardeer en vir eeue lank gooi die Sentilenese eintlik vir die moderne samelewing die vinger.  Daar word vermoed dat die Sentinelese al vir 60 000 jaar op die Noord Sentinel Eiland in die Bengaalse Baai woon.  Die Sentilenese se eiland is laagliggend en dig bebos.  eiland is ongeveer 72 km² groot.  Vandag bly daar vermoedelik tussen 50 en 400 mense op die eiland.  Weens die digte bos kan niemand verseker sê nie, dit is nie so maklik om ‘n helicopter te stuur om gou te gaan tel nie.  Hulle val onder Indië of eerder hulle geniet Indië se beskerming.  Dit is nie asof iemand hulle gevra het of hulle deel van Indië wil wees nie.  Indië kan ook nie daar maak en breek soos hulle wil nie.

Die Sentilenese is duidelik al eeue terug ontdek, waarom nog die afgesonderheid?  Basies maak die Sentilenese almal dood wat sonder ‘n uitnodiging op hulle drempel opdaal.  Hulle hou ook van hulle eie geselskap en sien dus nie die nodigheid in om ander oor te nooi nie.  Daar word ook vermoed dat hulle in die bos wegkruip wanneer dit hulle pas.

Daar was al mense wat probeer het. Maurice Vidal Portman, ‘n Brit, het in 1880 met ‘n groot weermag gaan probeer maatjies maak.  Die Sentilenese het vermoedelik in die bosse weggekruip.  Portman het na dae se gesukkel, het hulle ‘n ou paartjie ontdek wat nie kon weghardloop nie en vier kinders.  Hy het hulle Port Blair toe geneem, waar die ou mense siek geword het en gesterf het.  Portman het toe die kinders met geskenke terug geneem.  Die kinders het verdwyn en dit was die laaste sien van hulle.

Die Indiese regering het verskeie kere in die 70’s, 80’s en 90’s geskenke gaan aflewer met die hoop op vriendskap.  Hulle moes ook vining wegduik vir pyle.  ‘n Vragskip het in 1981 op die koraalriwwe om die eiland gestrand.  Hulle het geduldig vir ‘n paar dae vir hulp gewag, toe die Sentilenese hulle van die boot wou kom afhaal.  Soos die bewapende Sentilenese nader gerooi het, het die kaptein hulp ontbied en is die die bemanning met ‘n helicopter ontruim.  In 2006 het die Sentilenese twee vissers wat in hulle see kom krap het dood gemaak.  Toe ‘n helikopter hulle lyke kom soek het, was die helikopter met pyle bestook.

Selfs toe die Indiese vloot na die 2004 Tsunami kom kyk het of die Sentilenese nog lewe, was hulle met pyl en boog verjaag.  Daar word vermoed dat die Sentilenese die Tsunami op die hoogste punt van die eiland gaan uitwag het.  Blykbaar was daar min of geen Sentilenese dood in die Tsunami nie.

Die Sentilenese jag, vang vis en vergader kos in die woud om te oorleef.  Hulle maak hulle meter lange pyle met staal van die skepe wat rondom hulle eiland vergaan het.  Hulle vra niks – behalwe om alleen gelaat te word.

Vandag weet mense beter as die kolonialiste van destyds.  Mens kan nie net met ‘n reuse skild en ‘n paar biere gaan kennis maak nie.  Een van die gevare van kontak is dat die Sentilenese (en ander verlore volke) nie noodwendig immuniteit het teen ons kwale nie.  ‘n Vreemde virus of bakterieë kan hulle in groot getalle doodmaak.

Hoe dit ook al sê, hulle is beslis ‘n interessante nasie.  Vandag weet ons niks van hulle taal, geskiedenis, filosofie, medisyne, wetenskap (hoe het hulle geweet daar kom ‘n tsunami) ens nie.  Ons kan ons afleidings maak, maar kan dit nie toets nie.

Ek moet egter wonder – met ‘n geslote populasie soos hulle, hoe groot probleem is inteling?

Wat dink julle van die Sentilenese?  Is dit reg om kontak af te dwing op die groepe wat nie gekontak is nie?  Moet dit op hulle terme gebeur?  Kan daar ingemeng word as daar een of ander tragedie op die eiland is?

Ek weet waar ek ‘n antropoloog kan word, maar waar kan ek leer om vinnig ‘n onbekende taal te leer?

Breinvasbrand:  Wat is die naam van die skip wat in 1981 naby die Noord Sentinel Eiland gestrand het?

Breinlosbrand:  Olga was reg.  ‘n Debiteur skuld jou geld en jy skuld ‘n krediteur geld.





Toeka Tokkel 5: Sport

27 01 2015

Ek is gewoonlik skuins van die regering, maar vir een keer in my lewe sal ek mooi saam speel.  Scrapydo kies weekliks ‘n tema waaroor mense dan kan skryf.  Die week se tema is sport.  En almal weet – ek is geen sport aanhanger nie.

Ek het al in die verlede genoem dat sport uitstekend is vir kranklikheid.  Dit sit ‘n tol op die liggaam wat gewoonlik op een of ander besering en/of pyn uitloop.  Ek is geen aanhanger van pyn nie.  Verder hou ek nie van die miljoene (of is dit biljoene) wat aan sport spandeer word nie.  Ek kan nie glo dat sport iemand se beroep kan wees nie.  Dit is veronderstel om ‘n stokperdjie en ‘n bietjie oefening te wees.  Ek weet – ek is in die minderheid.

Ek kom uit ‘n huis waar sport . . . wel ja.  Verpes is seker ‘n sterk woord – behalwe as jou gunsteling program moes plek maak vir een of ander sport uitsending.  Daar is beslis nie tuis gebly omdat daar die dag ‘n baie belangrike wedstryd was nie.  Ons het wel almal aan een of ander sport deel geneem – met die nodige seën en ondersteuning.

Ek was nog nooit in my lewe ‘n sportiewe meisie nie.  Ek het nie balvaardighede nie en ek is nie vinnig nie.  Dit word natuurlik nog gekomplimenteer met ‘n groot dosis lompheid.  Ek is ook swaksiende.  Aan die ander kant, word ek nie maklik uit iemand se pad gevee nie en ek is te dom om ooit op te gee.

Ek het dus al my merk op die sportbaan gemaak.  Al het ek elke jaar heel laaste in die 1500 m gekom.  Ek is in matriek ‘n gat in die kop gepraat om die 3000 m te doen – natuurlik net vir kleuresport.  Die meisie wat gewen het, het my twee keer verby gesteek.  Ek het dit voltooi, wat meer was as die ander mense wat saam weggespring het.

Alle sport was darem nie beroerd gewees nie.  Ek het een jaar provinsiale kleure verwerf vir karate.  Ek was lank ‘n karateka, dit is egter die een projek wat ek nog moet afhandel.

Op Hoërskool was ek verplig gewees om een balsport van my keuse te doen.  Ek is mos ‘n redelike mens en het ingestem om rugby te speel.  Die skool het nie my terme aanvaar nie en ek het hokkie en netbal vrygespring.  Ek het wel vir lank tennisafrigting gehad en dit is iets wat ek met tye oorweeg om sosiaal te speel.

Eintlik gee ek nie om vir sosiale sport nie.  In die sin dat ek self moet deelneem, nie op ‘n skerm skree nie.  Behalwe tennis het ek al so sokker, hokkie, volleyball en baseball gespeel.  Tel toutrek ook?  En eiergooi?  Dit is gewoonlik ‘n dag se storie en dan is dit oor en verby vir ‘n ruk.  Dit neem darem nie my lewe en finansies oor nie.

Wat meer kan ek sê?  Sport sal waarskynlik veel meer aanhangers hê as dit nie by almal se kele afgedruk word nie.  Dit sal natuurlik ook help as meer sportsoorte as rugby, krieket en sokker erkenning kry.





Dit is nie die venstertjies se skuld nie

26 01 2015

Persoonlik hou ek daarvan om die vensterkoevertjies te verwens.  Niks goeds kom ooit uit ‘n vensterkoevertjie nie.  Danksy die poskantoor en die geneul van die Groenes is venstertjiekoeverte deesdae ver in die minderheid.  Dit is basies net SANRAL wat volhard om hulle te pos.  Watse plesier is dit nie om dit te ignoreer nie.  Die ander geldsoekers speel deesdae eerder met epos en/of sms op jou gewete.

Dit is nie regtig die vensterkoeverte te skuld nie.  Jy is immers die een wat jou in ‘n kontrak begeef het (behalwe SANRAL).  Jy het dienste en goedere aanvaar met die verstandhouding dat jy dit op ‘n sekere dag sal betaal.  ‘n Kontrak wat vrywillig aangegaan is.  Die vensterkoevertjie is eintlik maar net die boodskapper.  Blameer eerder die heelal.  Hoekom groei geld nie aan bome nie?  Nie kat ‘n mens noodwendig die geld van die bome noodwendig aan die venstertjies wil gee nie.  Dit is nie lekker om ‘n venstertjie te kry en dit is nie lekker om skuld te betaal nie.

Daar is helaas net een manier om van die vensterkoevertjies ontslae te raak.  Betaal die plekke wat jy hulle skuld, soos jy in skrif belowe het om te doen.  Dit laat gewoonlik die venstertjies opdroog.  Behalwe vir die vervlakste rekeningbeskerming waartoe jy ingestem het.  Al skuld jy hulle maande lank niks nie, sal hulle steeds jou rekening teen dood en pakkette wil beskerm.  Maar dit is ‘n ander storie.

As jy nie jou verpligtinge nakom nie, gaan die koevertjies een of ander tyd aanmanend raak.  Dit sal op ‘n stadium begin dreig en die dag gaan kom wanneer jou venstertjie van ‘n prokureurskantoor gaan kom.  Dit is die gevolge daarvan om jou nie aan ‘n vensterkoevert te steur nie.  ‘n Volwassene is veronderstel om die gevolge van hulle dade (nie-dade) te besef.  Juis een van die redes hoekom jy ‘n volwassene moet wees voordat jy jouself tot ‘n venstertjie kan verbind.

Mens sou verwag dat iemand erg verleë sal wees as ‘n venstertjie eers hulle stem dik begin te maak.  Persoonlik sal ek daardie venstertjie so gou as moontlik van my rug wil afkry terwyl ek my kop in die grond sal druk.  Baie mense voel egter nie so nie.  Hulle voel beledigd en / of geirriteerd en skroom nie om hulle misnoeë bekend te maak nie.  Dan word daar baklei vir hulle waardigheid en eer.  Hulle vergeet gerieflikheidshalwe van die prestasie wat hulle teenoor die ander party skuldig is.  Daar word ook van die ander party ‘n verskoning verwag.  So al asof mens jou aan ‘n vloermoer van ‘n stout kind steur.

Ja nee, die mens bly ‘n interessante wese.

Breinvasbrand:  Wat is die verskil tussen ‘n debiteur en ‘n krediteur?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Electricity Supply Kommisie.  EVKOM (Afr naam) en ESCOM (Eng naam) in in 1986 gebaster om ESKOM te word.





Wie kom beurtkrag toe?

25 01 2015

Ek belowe plegtig dat ek net een keer in 2015 oor hierdie onderwerp sal kerm.

My moermeter spring dadelik verby rooi as ESKOM met hulle dreigemente oor beurtkrag kom.  Julle ken dit:  verminder julle krag gebruik met 10 % of ons verminder dit vir julle.  Ek praat nie eers daarvan wanneer beurtkrag ingestel word of as die kabels (alweer) gesteel word nie.  Waar dit by elektrisiteit kom, is my geduld maar min.  Mense soos Tony Ehrenreich help natuurlik net niks.  Dit is die mannetjie wat eers aangevoer het dat beurtkrag rassisties is en toe weer voorgestel het dat rykes die juk van beurtkrag moet dra.

Is elektrisiteit ‘n reg of ‘n voorreg?

Vanuit my boom lyk dit asof dit in Suid-Afrika ‘n reg en ‘n voorreg is.  Elektrisiteit is jou reg as jy onder ‘n sekere inkomste en/of ‘n sekere ras is.  Anders is dit ‘n voorreg waarvoor jy ten duurste moet betaal.  Ek het eendag gelees dat die sotte in Pretoria omtrent dubbel vir elektrisiteit betaal om elektrisiteit vir die armes te subsideer.  Ek glo dit heeltemal.  Veral nadat ek verneem het dat daar mense is wat presies die helfte betaal per eenheid as ek.

Dit laat my oor drie dinge wonder:

  1. Hoekom kan mens nie elektrisiteit aankoop soos selfoon lugtyd nie?  Almal betaal dus Rx / eenheid ongeag wie jy is en waar jy bly.  Hoekom is die verskillende tariewe nodig?
  2. Hoekom moet diegene vir wie elektrisiteit ‘n voorreg is, betaal om vir ander ‘n reg tot elektrisiteit te gee?  In dieselfde asem:  hoekom moet diegene wat verniet elektrisiteit kry, minder ongerief verduur as diegene wat betaal vir hulle elektrisiteit?  Nee, regtig, my kop is te plat vir die vraag.

Verwag ESKOM regtig dat mense nie ‘n drupel krag moet gebruik tussen 5 en 9 in die aand nie?  Regtig?  Moet mense hulle kinders vuil, honger en vroeg bed toe stuur?  As ‘n mens eers na 5 by die huis kom, moet jy in die donker sit omdat ESKOM nie instandhouding gedoen het soos hulle moes nie?  Een van die hoofredes hoekom mens tog elektrisiteit het, is tog om van die donker gespaar te word.  Hoekom iets hê, wat jy nie mag geniet nie?

Hoe bespaar mens 10 % elektrisiteit?  As jy net twee keer ‘n dag jou ketel kook vir koffie en jou mikrogolf gemiddeld 5 minute ‘n dag gebruik?  As jy nie ‘n lugverkoeler, verwarmer of selfs ‘n waaier gebruik nie?  As jy nooit jou haardroër gebruik nie?   As jy dalk net so twee keer ‘n maand jou stoof gebruik?  As jy net een bondel wasgoed ‘n week was en nie eers by jou huis stryk nie?

Moet jy dalk 10% van jou weeklikse gebruik spaar?  As jy dus 14 koppies koffie ‘n week tuis drink, moet jy met 1.4 koppies afskaal.  Jy moet dus seker net 12 koppies ‘n week drink.  Jou yskas net 6 dae gebruik en sommer jou geyser laat uithaal sodat jy dit nooit kan gebruik nie.

My punt is dat die mense vir wie elektrisiteit ‘n voorreg is, al reeds so min as moontlik gebruik.  Moet hulle heeltemaal ophou om elektrisiteit gebruik?  Dalk net aanhou betaal vir die armes se gerief?

Praat van welvaartsbelasting.

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Waarvoor staan ESKOM?

Breinlosbrand:  Die antwoord wat ek het is Piggly Wiggly.





Inkopie oorlog

24 01 2015

Hoekom daar nie ‘n wet is wat die gang breedte in winkels bepaal nie, sal ek nie weet nie.  Mens sal tog immers verwag dat twee waentjies (in party gevalle twee mense) met gemak verby mekaar moet kan beweeg.  Wel, ideaal gesproke wil mens verby mekaar beweeg en nie deur die waentjies van die rak weggehou word nie.  Ek reik seker nou vir die sterre.

Die rakke is natuurlik veral op ‘n Saterdag ‘n probleem.  In geval jy nooit uit jou grot kruip nie, Saterdag bars winkels uit hulle nate uit.  ‘n Miernes kan nie kompeteer met die massas se gewemel en gedruis in ‘n winkel nie.  Die meeste van hulle met ‘n waentjie.   Daar is net soveel plek en niemand kan ‘n meter skoon radius om hulle verwag nie.

Ek was vanoggend sotlik genoeg om my weeklikse melk en vars produkte te gaan aanskaf.  In die groente afdeling was daar amper ‘n oorlog.  ‘n Man het hom liederlik vererg vir ‘n tannie wat hom met haar waentjie raak gery het.  Blykbaar vir ‘n tweede keer.  ‘n Kleuter sal grootoog by hom kon lesse neem oor ‘n vloermoer.  Die tannie het ten sterkste ontken dat sy ‘n tweede keer hom raak gery het.  Terselfde tyd het sy weer innig verskoning gevra oor die eerste ongelukkie.

Persoonlik dink ek dat die man heeltemal oorreageer het.  In ‘n besige winkel is ‘n stampie or stootjie te verwagte.  Dit is nie noodwendig die “drywer” se skuld nie.  Aan die ander kant, kan ‘n mens jou vererg as dieselfde person jou die tweede keer tref?

In sy skoene sou ek maar my skouers opgehaal het en my gang gegaan het.  Al het ‘n uitgegroeide man my twee keer gestamp.  Ek loop nou nie oor van respek net op ouderdom nie, maar mens gaan ook nie gal af op ‘n bejaarde nie.  Eintlik gaan ‘n mens nooit so af op ‘n ander mens nie.  ‘n Volwassene moet selfbeheer aan die dag lê of in ‘n grot gaan kruip waar jy nooit ‘n ander mens kan sien nie.

Dink julle dat sy reaksie regverdig is?  Moet mense ‘n lisensie hê om ‘n winkelwaentjie te kan rondstoot?  Het jy enige trollie frustrasie?

Terloops, die eerste inkopietrollies was deur Sylvan Goodman in 1936 ontwinkel.  Mense het aanvanklik nie daarvan gehou nie.  Mans het gevoel dit is sissie-rig en vrouens het gereken dat is soos om ‘n stootwaentjie te stoot.  Dit was as ‘n belediging gesien.  Goodman moes mense huur om die waentjie se gebruik in die winkel te illustreer.

Breinvasbrand:  Watter supermark het Sylvan Goodman besit?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Hari Kari.