Inkopie oorlog

24 01 2015

Hoekom daar nie ‘n wet is wat die gang breedte in winkels bepaal nie, sal ek nie weet nie.  Mens sal tog immers verwag dat twee waentjies (in party gevalle twee mense) met gemak verby mekaar moet kan beweeg.  Wel, ideaal gesproke wil mens verby mekaar beweeg en nie deur die waentjies van die rak weggehou word nie.  Ek reik seker nou vir die sterre.

Die rakke is natuurlik veral op ‘n Saterdag ‘n probleem.  In geval jy nooit uit jou grot kruip nie, Saterdag bars winkels uit hulle nate uit.  ‘n Miernes kan nie kompeteer met die massas se gewemel en gedruis in ‘n winkel nie.  Die meeste van hulle met ‘n waentjie.   Daar is net soveel plek en niemand kan ‘n meter skoon radius om hulle verwag nie.

Ek was vanoggend sotlik genoeg om my weeklikse melk en vars produkte te gaan aanskaf.  In die groente afdeling was daar amper ‘n oorlog.  ‘n Man het hom liederlik vererg vir ‘n tannie wat hom met haar waentjie raak gery het.  Blykbaar vir ‘n tweede keer.  ‘n Kleuter sal grootoog by hom kon lesse neem oor ‘n vloermoer.  Die tannie het ten sterkste ontken dat sy ‘n tweede keer hom raak gery het.  Terselfde tyd het sy weer innig verskoning gevra oor die eerste ongelukkie.

Persoonlik dink ek dat die man heeltemal oorreageer het.  In ‘n besige winkel is ‘n stampie or stootjie te verwagte.  Dit is nie noodwendig die “drywer” se skuld nie.  Aan die ander kant, kan ‘n mens jou vererg as dieselfde person jou die tweede keer tref?

In sy skoene sou ek maar my skouers opgehaal het en my gang gegaan het.  Al het ‘n uitgegroeide man my twee keer gestamp.  Ek loop nou nie oor van respek net op ouderdom nie, maar mens gaan ook nie gal af op ‘n bejaarde nie.  Eintlik gaan ‘n mens nooit so af op ‘n ander mens nie.  ‘n Volwassene moet selfbeheer aan die dag lê of in ‘n grot gaan kruip waar jy nooit ‘n ander mens kan sien nie.

Dink julle dat sy reaksie regverdig is?  Moet mense ‘n lisensie hê om ‘n winkelwaentjie te kan rondstoot?  Het jy enige trollie frustrasie?

Terloops, die eerste inkopietrollies was deur Sylvan Goodman in 1936 ontwinkel.  Mense het aanvanklik nie daarvan gehou nie.  Mans het gevoel dit is sissie-rig en vrouens het gereken dat is soos om ‘n stootwaentjie te stoot.  Dit was as ‘n belediging gesien.  Goodman moes mense huur om die waentjie se gebruik in die winkel te illustreer.

Breinvasbrand:  Watter supermark het Sylvan Goodman besit?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Hari Kari.

Advertisements

Aksies

Information

12 responses

24 01 2015
Olga

Eerste! Eerste! Eerste!

Sun Grocery Company?

25 01 2015
Olga

Ek was so ‘n rukkie terug in ‘n supermark. ‘n Vrou het agter my geloop en nie besef die dae van die ossewa is verby nie. Sy het my die heel liewe tyd gestamp met die trollie. Aangesien sy gedink het sy is die touleier, het ek os gespeel. Ek het tweevoet vasgesteek, die trollie in my rug gevange gehou, toe tru gestoot. Toe het ek omgedraai en haar aangegluur. Sy was “as smug as a bug in a rug” tot sy besef het die persoon agter haar se trollie druk nou lelik in haar rug. Toe vra sy maar so halfhartig om verskoning. Dit was haar gelukkige dag die Olga was nie agter ‘n trollie nie. Dan sou daai bur gesquash gewees het.

Ek glo mense wie hulle aan trollie aanranding skuldig maak, moet aangekla en deur die winkel bestuur beboet word. Ook die mense wie glo hulle het winkel toe gekom om die Saterdagmore om te kuier met die buurvrou wie ook kom inkopies doen het.

25 01 2015
Xena Phoenix

LOL!!! Plaas het jy net ‘n bom gelos en dan het sy geweet dit is oorlog. 😉

Ek hou van daardie waentjie met die 3 mandjies. Vat seker ‘n derde van die ruimte van ‘n waentjie, maak dit moontlik om die inkopies te skei en is soveel gemakliker om inkopies te doen. Dit is nou as jy een van die wonderwerke kan kry.

25 01 2015
Toortsie

24 Desember… is ook ‘n frustrasiedag…
Meer frustrerend is die kinders wat onbeheersd rondhardloop, op die skopfietsies speel, ens asof die goed aan hulle behoort.

25 01 2015
Xena Phoenix

Mens het hare op jou tande nodig as jy op 24 Des naby ‘n winkel wil kom.

Ek wonder altyd of die mense wat hulle kinders so laat rondhardloop nie bang is iemand gryp die kinders nie. Of hoop hulle dalk iemand gryp hulle. Dit is bloot nie veilig nie.

25 01 2015
Toortsie

“hoop”… 😉

25 01 2015
seegogga

Ag neewat leef en laat leef, veral op n besige dag en ou tannies. Die man was onopgevoed en dit klink of hy aan kleinmannetjiesindroom ly ( waaraan sommige lang mans ook ly.) Hier by ons in die platteland gesels jy in die gange. Daar is genog plek off jy staan opsy as jy in iemand se pad is. Maar jy gesels want dis lekker ,want ons ken mekaar en om bekendes raak te loop en nuus te deel is lekker. En in die stad ken niemand in d supermark mekaar nie.

25 01 2015
Xena Phoenix

Dalk het kleinmannetjiesindroom niks te doen met die lengte van die rug nie. 😉

Dit laat my nou dink. Een van my ma se vriendinne was geneig om van die een hoek van die winkel te skree vir wie sy ookal aan die ander kant van die winkel ken. En sommer dan oor die breedte van die winkel begin gesels.

Weet jy hoeveel plattelanders doen inkopies in die stad? Waarskynlik omdat hulle nie in die platteland reggekom het nie.

26 01 2015
seegogga

Nee, hulle doen inkopies in die stad omdat hulle glo dis goedkoper daar ( en soms is dit, maar hulle vergeet van die R400 se petrol wat hulle daarheen uitry, praat nie eers van die wear en tear van die motor nie. Verder is dit ‘n lekker ‘ outing’ en kan mens dalk gan fliek of teater toe gaan, wat skaars is op die platteland. Ek kan eerlik se dat ‘n mens op die platteland alles kan kry wat jy nodig het en selfs meer, al moet jy soms die dienste van ‘n koerier inspan, wat ook baie goedkoper is as om self te ry. Wat wel hier skaars is, is erg professionele mense soos bv spesialiste en snydokters.

25 01 2015
spokiesnyspoor

Ek kan nie verstaan hoekom hul nie trollies se voorwiele bietjie dieper onder inbou nie. Gewoonlik is dit die wiele wat teen ander mense se enkels stamp. Kan nogal seer wees. Het al paar keer met my gebeur. Vernaam as kinders dit stoot.

Maar ja, ek het dan maar my seer gesluk en aangehou loop. Maar dit is ‘n frustrasie as die gange te nou is vir 2 trollies.

25 01 2015
Xena Phoenix

Die trollies word seker deur mense ontwerp wat nooit een rondgestoot het nie. Of eerder nooit deur een gestamp is nie.

26 01 2015
rondomtaliedraai

Ek is tog bly so met die aftree saam kan mens gaan as die winkels stil is

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: