Toeka Tokkel 5: Sport

27 01 2015

Ek is gewoonlik skuins van die regering, maar vir een keer in my lewe sal ek mooi saam speel.  Scrapydo kies weekliks ‘n tema waaroor mense dan kan skryf.  Die week se tema is sport.  En almal weet – ek is geen sport aanhanger nie.

Ek het al in die verlede genoem dat sport uitstekend is vir kranklikheid.  Dit sit ‘n tol op die liggaam wat gewoonlik op een of ander besering en/of pyn uitloop.  Ek is geen aanhanger van pyn nie.  Verder hou ek nie van die miljoene (of is dit biljoene) wat aan sport spandeer word nie.  Ek kan nie glo dat sport iemand se beroep kan wees nie.  Dit is veronderstel om ‘n stokperdjie en ‘n bietjie oefening te wees.  Ek weet – ek is in die minderheid.

Ek kom uit ‘n huis waar sport . . . wel ja.  Verpes is seker ‘n sterk woord – behalwe as jou gunsteling program moes plek maak vir een of ander sport uitsending.  Daar is beslis nie tuis gebly omdat daar die dag ‘n baie belangrike wedstryd was nie.  Ons het wel almal aan een of ander sport deel geneem – met die nodige seën en ondersteuning.

Ek was nog nooit in my lewe ‘n sportiewe meisie nie.  Ek het nie balvaardighede nie en ek is nie vinnig nie.  Dit word natuurlik nog gekomplimenteer met ‘n groot dosis lompheid.  Ek is ook swaksiende.  Aan die ander kant, word ek nie maklik uit iemand se pad gevee nie en ek is te dom om ooit op te gee.

Ek het dus al my merk op die sportbaan gemaak.  Al het ek elke jaar heel laaste in die 1500 m gekom.  Ek is in matriek ‘n gat in die kop gepraat om die 3000 m te doen – natuurlik net vir kleuresport.  Die meisie wat gewen het, het my twee keer verby gesteek.  Ek het dit voltooi, wat meer was as die ander mense wat saam weggespring het.

Alle sport was darem nie beroerd gewees nie.  Ek het een jaar provinsiale kleure verwerf vir karate.  Ek was lank ‘n karateka, dit is egter die een projek wat ek nog moet afhandel.

Op Hoërskool was ek verplig gewees om een balsport van my keuse te doen.  Ek is mos ‘n redelike mens en het ingestem om rugby te speel.  Die skool het nie my terme aanvaar nie en ek het hokkie en netbal vrygespring.  Ek het wel vir lank tennisafrigting gehad en dit is iets wat ek met tye oorweeg om sosiaal te speel.

Eintlik gee ek nie om vir sosiale sport nie.  In die sin dat ek self moet deelneem, nie op ‘n skerm skree nie.  Behalwe tennis het ek al so sokker, hokkie, volleyball en baseball gespeel.  Tel toutrek ook?  En eiergooi?  Dit is gewoonlik ‘n dag se storie en dan is dit oor en verby vir ‘n ruk.  Dit neem darem nie my lewe en finansies oor nie.

Wat meer kan ek sê?  Sport sal waarskynlik veel meer aanhangers hê as dit nie by almal se kele afgedruk word nie.  Dit sal natuurlik ook help as meer sportsoorte as rugby, krieket en sokker erkenning kry.


Aksies

Information

11 responses

27 01 2015
rondomtaliedraai

Jy is ‘n vrou so na my hart! Veral met die laaste paragraaf!

28 01 2015
Xena Phoenix

Daar is letterlik ‘n sport vir elke smaak. Onthou dat veerpyltjies, dans en selfs skaak as sport kan deurgaan. Ek dink skole (veral laerskole) behoort leerlinge net aan sport bekend te stel. Nie almal op die atletiekbaan / pawiljoen te boelie nie.

28 01 2015
rondomtaliedraai

Eish … jy verstaan nie die laerskool probleme nie. Geen skool kan bestaan sonder rugby nie… Ons het deur die jare al die verskillende veld items die vaardighede vir die kinders aangeleer. Nou is daar huissport op die derde dag nadat die skool begin het die interlaer is die einde Januarie Dis nie eers genoeg tyd om ‘n aflosspan van 13jariges af te reig nie laat staan nog 10jariges. Dis net die kinders met natuurlike talent wat nou iewers kom . In die verlede het ons die atlete in die bus gelaai en by naburige dorpe gaan deelneem … nou is dit net nie moontlik nie.

Ongelukkig wil die jong onderwysers ook nie meer soveel tyd by/vir die skool afstaan nie. Een was nou die dag diep in die moeilikheid Toe sy uitvaar teen die hoof/skool op FB omdat sy een middag na 5 nog by die atletiek was.

Kinders wat kinders net bekendstel aan sport kry ook nie plek by die bekende hoog aangeskrewe Hoërskole nie. Die hele onderwysstelsel is skeefgetrek

27 01 2015
scrapydo

Baie dankie vir die deelneem. Die keelgatafdrukkery is ook nie in my lyn nie. Ek kan bv nie so opgewonde raak oor rugby soos hierdie ou spul malles hier nie. Ek gun elkeen sy eie plesiertjies ek wil egter ook myne geniet en dit is om rustig te sit en te ontspan nie met n lawaai in my ore nie.

28 01 2015
Xena Phoenix

Waar ek bly hoef ek nooit oor rugby te wonder nie. Die mense wat rondom my maak seker ek mis niks. 😉

28 01 2015
scrapydo

Ha ha ek kan jou glo. Ek het hier n ou wat saans sy flieks sit en kyk op TV. Ek hoor die gedreun en lawaai in my sitkamer as my vensters oop is. (Bly so twee huise van my af!!!!)

29 01 2015
29 01 2015
Kameel

Jy het my nou ‘n paar keer laat glimlag. Jou “lompheid” in ag geneem het jy glad nie te sleg gevaar wat sport aan betref nie…. al het die meisie wat gewen het jou tweemaal verbygesteek. 🙂

29 01 2015
Xena Phoenix

Ek sweer – daardie verbrande st 6’sie het my twee keer verby gesteek. Daar meisie kon hardloop. Sy het daardie dag vir ons almal ore aangesit.

29 01 2015
Spokie sny spoor

hehehe, nee wat, jy het goed gevorder wat jou sports aanbetref het…

29 01 2015
Xena Phoenix

Van sports kan ek julle baie vertel. As ek nie al alles al reeds vertel het nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: