Die ongekontaktes

27 01 2015

Dit klink amper soos ‘n fliek oor ruimtewesens.  Dit is moeilik om te glo dat daar vandag nog mense is wat nie kontak met die res van ons het nie.  Dit klink half onwerklik.  Mense wat op aarde woon, maar wat nie deel van die wêreld is nie.  Mense wat nie weet van ander lande, gelowe of tegnologie nie.  Mense wat bekend staan as die “uncontactable”.

Ek het al dikwels gespekuleer of daar dalk iewers in die Amasone ‘n nasie (Amasones) is wat nog nooit ontdek is nie.  Wat sal hulle dink as hulle ontdek hoe groot die wêreld eintlik is?  Dit was egter altyd eintlik maar ‘n “Sê nou” speletjie.  ‘n Wetenskaplike fiksie, waaroor ek nou nooit regtig te lank gedink het nie.

Daar is egter regtig nog mense wat heeltemal onafhanklik van die wêreld bestaan.  Mense wat nog nooit aan die moderne lewe en volke bekend gestel is nie.  Groepe waarmee die wêreld nie kontak het nie.  Daar is groepe waarvan die wêreld weet van hulle bestaan (deur aanvalle of lugfoto’s), maar of kontak geweier is of net nie gekontak kon word nie.  En ja, daar is baie van hulle in die Amasone.

Ek gaan vandag volstaan by die inwoners van die Noord Sentinel Eiland.  Verskoon my vertaling, maar ek gaan na hulle verwys as die Sentinelese.

Ek kan altyd ‘n goeie F-jou storie waardeer en vir eeue lank gooi die Sentilenese eintlik vir die moderne samelewing die vinger.  Daar word vermoed dat die Sentinelese al vir 60 000 jaar op die Noord Sentinel Eiland in die Bengaalse Baai woon.  Die Sentilenese se eiland is laagliggend en dig bebos.  eiland is ongeveer 72 km² groot.  Vandag bly daar vermoedelik tussen 50 en 400 mense op die eiland.  Weens die digte bos kan niemand verseker sê nie, dit is nie so maklik om ‘n helicopter te stuur om gou te gaan tel nie.  Hulle val onder Indië of eerder hulle geniet Indië se beskerming.  Dit is nie asof iemand hulle gevra het of hulle deel van Indië wil wees nie.  Indië kan ook nie daar maak en breek soos hulle wil nie.

Die Sentilenese is duidelik al eeue terug ontdek, waarom nog die afgesonderheid?  Basies maak die Sentilenese almal dood wat sonder ‘n uitnodiging op hulle drempel opdaal.  Hulle hou ook van hulle eie geselskap en sien dus nie die nodigheid in om ander oor te nooi nie.  Daar word ook vermoed dat hulle in die bos wegkruip wanneer dit hulle pas.

Daar was al mense wat probeer het. Maurice Vidal Portman, ‘n Brit, het in 1880 met ‘n groot weermag gaan probeer maatjies maak.  Die Sentilenese het vermoedelik in die bosse weggekruip.  Portman het na dae se gesukkel, het hulle ‘n ou paartjie ontdek wat nie kon weghardloop nie en vier kinders.  Hy het hulle Port Blair toe geneem, waar die ou mense siek geword het en gesterf het.  Portman het toe die kinders met geskenke terug geneem.  Die kinders het verdwyn en dit was die laaste sien van hulle.

Die Indiese regering het verskeie kere in die 70’s, 80’s en 90’s geskenke gaan aflewer met die hoop op vriendskap.  Hulle moes ook vining wegduik vir pyle.  ‘n Vragskip het in 1981 op die koraalriwwe om die eiland gestrand.  Hulle het geduldig vir ‘n paar dae vir hulp gewag, toe die Sentilenese hulle van die boot wou kom afhaal.  Soos die bewapende Sentilenese nader gerooi het, het die kaptein hulp ontbied en is die die bemanning met ‘n helicopter ontruim.  In 2006 het die Sentilenese twee vissers wat in hulle see kom krap het dood gemaak.  Toe ‘n helikopter hulle lyke kom soek het, was die helikopter met pyle bestook.

Selfs toe die Indiese vloot na die 2004 Tsunami kom kyk het of die Sentilenese nog lewe, was hulle met pyl en boog verjaag.  Daar word vermoed dat die Sentilenese die Tsunami op die hoogste punt van die eiland gaan uitwag het.  Blykbaar was daar min of geen Sentilenese dood in die Tsunami nie.

Die Sentilenese jag, vang vis en vergader kos in die woud om te oorleef.  Hulle maak hulle meter lange pyle met staal van die skepe wat rondom hulle eiland vergaan het.  Hulle vra niks – behalwe om alleen gelaat te word.

Vandag weet mense beter as die kolonialiste van destyds.  Mens kan nie net met ‘n reuse skild en ‘n paar biere gaan kennis maak nie.  Een van die gevare van kontak is dat die Sentilenese (en ander verlore volke) nie noodwendig immuniteit het teen ons kwale nie.  ‘n Vreemde virus of bakterieë kan hulle in groot getalle doodmaak.

Hoe dit ook al sê, hulle is beslis ‘n interessante nasie.  Vandag weet ons niks van hulle taal, geskiedenis, filosofie, medisyne, wetenskap (hoe het hulle geweet daar kom ‘n tsunami) ens nie.  Ons kan ons afleidings maak, maar kan dit nie toets nie.

Ek moet egter wonder – met ‘n geslote populasie soos hulle, hoe groot probleem is inteling?

Wat dink julle van die Sentilenese?  Is dit reg om kontak af te dwing op die groepe wat nie gekontak is nie?  Moet dit op hulle terme gebeur?  Kan daar ingemeng word as daar een of ander tragedie op die eiland is?

Ek weet waar ek ‘n antropoloog kan word, maar waar kan ek leer om vinnig ‘n onbekende taal te leer?

Breinvasbrand:  Wat is die naam van die skip wat in 1981 naby die Noord Sentinel Eiland gestrand het?

Breinlosbrand:  Olga was reg.  ‘n Debiteur skuld jou geld en jy skuld ‘n krediteur geld.





Toeka Tokkel 5: Sport

27 01 2015

Ek is gewoonlik skuins van die regering, maar vir een keer in my lewe sal ek mooi saam speel.  Scrapydo kies weekliks ‘n tema waaroor mense dan kan skryf.  Die week se tema is sport.  En almal weet – ek is geen sport aanhanger nie.

Ek het al in die verlede genoem dat sport uitstekend is vir kranklikheid.  Dit sit ‘n tol op die liggaam wat gewoonlik op een of ander besering en/of pyn uitloop.  Ek is geen aanhanger van pyn nie.  Verder hou ek nie van die miljoene (of is dit biljoene) wat aan sport spandeer word nie.  Ek kan nie glo dat sport iemand se beroep kan wees nie.  Dit is veronderstel om ‘n stokperdjie en ‘n bietjie oefening te wees.  Ek weet – ek is in die minderheid.

Ek kom uit ‘n huis waar sport . . . wel ja.  Verpes is seker ‘n sterk woord – behalwe as jou gunsteling program moes plek maak vir een of ander sport uitsending.  Daar is beslis nie tuis gebly omdat daar die dag ‘n baie belangrike wedstryd was nie.  Ons het wel almal aan een of ander sport deel geneem – met die nodige seën en ondersteuning.

Ek was nog nooit in my lewe ‘n sportiewe meisie nie.  Ek het nie balvaardighede nie en ek is nie vinnig nie.  Dit word natuurlik nog gekomplimenteer met ‘n groot dosis lompheid.  Ek is ook swaksiende.  Aan die ander kant, word ek nie maklik uit iemand se pad gevee nie en ek is te dom om ooit op te gee.

Ek het dus al my merk op die sportbaan gemaak.  Al het ek elke jaar heel laaste in die 1500 m gekom.  Ek is in matriek ‘n gat in die kop gepraat om die 3000 m te doen – natuurlik net vir kleuresport.  Die meisie wat gewen het, het my twee keer verby gesteek.  Ek het dit voltooi, wat meer was as die ander mense wat saam weggespring het.

Alle sport was darem nie beroerd gewees nie.  Ek het een jaar provinsiale kleure verwerf vir karate.  Ek was lank ‘n karateka, dit is egter die een projek wat ek nog moet afhandel.

Op Hoërskool was ek verplig gewees om een balsport van my keuse te doen.  Ek is mos ‘n redelike mens en het ingestem om rugby te speel.  Die skool het nie my terme aanvaar nie en ek het hokkie en netbal vrygespring.  Ek het wel vir lank tennisafrigting gehad en dit is iets wat ek met tye oorweeg om sosiaal te speel.

Eintlik gee ek nie om vir sosiale sport nie.  In die sin dat ek self moet deelneem, nie op ‘n skerm skree nie.  Behalwe tennis het ek al so sokker, hokkie, volleyball en baseball gespeel.  Tel toutrek ook?  En eiergooi?  Dit is gewoonlik ‘n dag se storie en dan is dit oor en verby vir ‘n ruk.  Dit neem darem nie my lewe en finansies oor nie.

Wat meer kan ek sê?  Sport sal waarskynlik veel meer aanhangers hê as dit nie by almal se kele afgedruk word nie.  Dit sal natuurlik ook help as meer sportsoorte as rugby, krieket en sokker erkenning kry.