Regte Balans

22 01 2015

Sekere regte / vryhede is ononderhandelbaar in ‘n beskaafde wêreld. Dit sluit die reg op menswaardigheid (insluitende vroue- en kinderregte), spraakvryheid (insluitende persvryheid), vryheid van assosiasie, vryheid om te trou met wie jy wil en natuurlik geloofsvryheid in.

Die regte of te wel vryhede is basies daar om elke mens vry te los om hulle eie leef te leef. Die regte kom egter met ‘n prys en is nie absoluut nie: saam met regte kom verantwoordelikhede en jy mag nie in die uitoefening van jou regte ‘n ander van sy of haar regte ontneem nie. Eenvoudig gestel: Leef jou eie leef verantwoordelik en laat ander toe om hulle eie leef te leef.

Die aanvalle op Charlie Hebdo van 7 Januarie is betreurenswaardig. Dit was ‘n aanval op persvryheid en vryheid van spraak. Elemente waarsonder ‘n gesonde demokrasie nie oor die weg kan kom nie. Hulle het terug gekap met die steun van die wêreld. Voorstaanders van vryheid van spraak hou nie noodwendig van wat iemand sê en doen nie, maar sal altyd hulle reg om dit te sê en doen beskerm.

Dit was natuurlik nie die einde nie. Die ekstremiste het weer terug gekap, die keer buite Frankryk en op Christenne. Goed en wel as jy bereid is om persvryheid te sterf. Die vraag is of jy van ander kan verwag om vir persvryheid te sterf? Dit is nie asof Charlie Hebdo al ooit Christenne ontsien het as hulle iets wou sê nie.

Ons het dus aan die een kant Charlie Hebdo wat nie gelowe (geloofsvryheid?) respekteer nie. Dan het ons die ektremiste wat nie persvryheid of geloofsvryheid respekteer nie. Mens durf nie die ekstremiste daarmee wegkom nie, maar mens kan ook nie onskuldige mense daarvoor opoffer nie. Wat is die oplossing?

Kom ons wees reguit. Daar is groepe wie se regte swaarder weeg as ander. Vryheid van spraak / uitdrukking is een ding, maar gaan sê iets skeef oor swartes? Veral as jy die k-woord gebruik. Jy sal nie net wetlik aanspreeklik gehou word nie, maar jy kan amper verseker wees dat jy jou werk sal verloor. Dit is net een voorbeeld. Of gaan lig ‘n mening oor homoseksueliteit wat nie ‘n applous is nie. Jy sal nooit weer uit daardie gat kom nie.

Alhoewel, daar bestaan so iets soos geloofsvryheid. ‘n Klein bietjie respek vir gelowe is seker nie te veel gevra nie. Veral as ‘n mens in ag neem dat dit heeltemal onaanvaarbaar is om sekere groepe in die gesig te vroetel. Almal is seker dieselfde respek waardig?

Hoewel fisiese geweld teen persvryheid nie goed gepraat kan word nie, wat staan iemand te doen wat voel hulle geloof word nie gerespekteer nie? Geloofsvryheid beteken nie dat almal ‘n geloof moet respekteer nie. Tot op watter punt kan ‘n geloof bespot word voordat genoeg genoeg is? Hoekom kan geloof aangeval word sonder gevolge?

Moet geloofsvryheid nie net so aggressief as vryheid van spraak beskerm word nie?

Waar is die lyn?

Breinvasbrand:  Wat is die naam van Charlie Hebdo se voorloper wat in 1970 verban is omdat hulle met Charles de Gaulle se dood gespot het?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Alaska.