Koop advies

21 01 2015

Mens werk vir geld.  Punt!  Mens kan dae lank praat van werksbevrediging, om jou werk te geniet en persoonlike groei, maar op die ou einde van die dag werk jy vir geld.  Indien dit nie die geval was nie, sou jy mos verniet gewerk het.  Tensy jy glo dat jy werk vir liefde en trou vir geld.  Op die einde van die dag soek ons geld.  Ideaal gesproke wil ‘n mens nie net jou uitgawes daarmee dek nie.  Af en toe wil jy iets koop sommer net omdat jy wil.  Jy het mos hard gewerk vir jou geld (al het jy getrou daarvoor) en mens wil darem iets daarvoor wys.

Dit bring my by koop.  Dit is nie net koopverslaafdes wat soms iets begeer nie.  Dan en wan gaan enige mens iets hê wat luid na hom/haar roep.  Of sommer net inspring wanneer jy dit die minste verwag.  Daar is niks daarmee verkeerd nie.  Tog wil ‘n mens nie graag ‘n kat in ‘n sak huistoe sleep nie.  Dit is immers sonde om jou bloedsweet te vermors.

Ek is nie heeltemal seker wat katte met die storie uit te waai het nie.  Ervaring het my egter geleer om maar eerder altyd die kat goed uit die boom te kyk.  (Hoe kom die kat in elk geval uit die boom in die sak?)

Ernstig nou.  Ek weet dat verkoopspersone se mantra “Close, Close, Close” is.  Dit is hulle werk om jou so gou as moontlik in ‘n ding in te praat.  Hoewel, dikwels as die produk vir homself kan praat, is die verkoopspersoon bereid om terug te staan dat jy jou besluit kan maak.  Wanneer ‘n aanbod verval die oomblik wanneer jy by die deur uit verdwyn, kan jy maar weet dat dit nie ‘n goeie kopie is nie.  Die oomblik wanneer jy ruimte het sal jy besef dat dit ‘n truuk was.  Buitendien, as jy ‘n week later van besluit verander kan jy op die spesiale aanbod aandring.  Hulle sal beslis daarvoor val.

Ek sal nou nie lieg en sê dat ek nog nooit ‘n impulsiewe kopie gemaak het nie.  Ek sal nie eers sê dat elke impulsiewe aankope ‘n ramp was nie.  Ek weet wel dat wanneer ‘n mens dadelik tot ‘n ooreenkoms gedruk word, is dit die tyd om hard en duidelik nee te sê.  En die dag moet nog kom dat ek die nee berou.

Watse gevaarligte het julle waar dit aankope aangaan?  Het jy al ‘n leeu in ‘n sak gekoop?  Hoe weet jy dat jy die regte ding koop?

Breinvasbrand:  Watter Amerikaanse staat is in 1867 van die Russe gekoop?

Breinlosbrand:  Johannes en Olga was reg met Markus.