Spinasie en Pampoen

24 02 2016

Scrapy wil die week gesels oor groente.  Ek is nou nie heeltemaal seker wat ‘n mens oor groente kan sê nie, maar ek skrik nie vir ‘n uitdaging nie.

Ek het nog nooit ‘n probleem met groente gehad nie.  Goed, blomkool lyk beslis nie lekker nie.  Nie eers as dit groen ingekleur is nie.  Ertjies lyk nie na kos nie en pampoen is nou nie my gunsteling nie.  Nietemin, ek eet hulle almal.  Ek sal vrywillig vir my van alle groentes in skep.  Selfs al is dit vaal gekook en lyk dit effens na kots.

Groentes kan seker diskriminasie skree as dit by restaurante kom.  Nou nie so hard soos vrugte nie, maar oor die algemeen word groente afgeskeep.  Ek praat nou nie van slaai nie, of dalk moet ek net tamaties (wat blykbaar vrugte is) en blaarslaai uitsluit.  Bittermin restaurante bied groente op hulle spyskaart aan.  Ek praat nou van groente as ‘n bykos.  Selfs die vegetariese etes is slaai en stysel, nie regtig groente nie.  Sou jy wel groente kan kry, is die keuse maar beperk.  Jy kry spinasie en pampoen – dit is al!

Goed, ek weet ‘n mens moet een rooi (oranje, geel) groente en een groen groente voorsit.  Kom ons vergelyk dit met vleis.  Jou keuse vir vleis berus basies op bees, skaap, vark, hoender en vis.  Die meeste restaurante het dit alles op hulle spyskaarte en jy kan kies uit verskillende snitte, gaarmaakmetodes en opdienings.  Alhoewel vleis duurder is, is dit ook gewoonlik die grootste porsie op jou bord.

As jy gelukkig genoeg is om groente te kry, kry jy basies “creamed spinach” en fyn pampoen (goed, eintlik botterskorsie, maar dit bly pampoen!).  Dit terwyl daar wortels, patats, boontjies, brokkoli, skorsies, kool, blomkool, brusselse spruite, beet, aspersies, eiervrug ens is.  Daar is ook ‘n magdom verskillende maniere waarop dit gaargemaak kan word.  Hoekom moet almal by spinasie en pampoen vashak?  Daar is niks verkeerd met spinasie en pampoen nie, maar regtig?  Elke restaurant, elke dag van die week.  Sou dit seer maak om dit af te wissel?  Om dalk ‘n groter keuse aan te bied?  Dalk pampoenkoekies met die pampoen maak?

Dit is seker maar ‘n saak van aanbod en aanvraag.  Ek is seker in die minderheid.

Watter groente sal julle graag op ‘n spyskaart wil sien?  Hou jy van groente?

Breinvasbrand:  Wie het sy krag geput uit ‘n blik spinasie uit?

Breinlosbrand:  IsiZulu.

 





Tuisdorp

17 02 2016

Scrapy neus die week oor ons Tuisdorpe.

Almal weet seker al dat ek myself as ‘n Pretorianer uitgee.  Ek is nou wel nie in Pretoors gebore of getoë nie.  Ek skree beslis ook nie vir die Blou Osse nie.  Nogtans is Pretoria die plek wat ek al langer as ‘n dekade huis noem.  Ek het basies na skool in Pretoria gaan swot en na swottings het ek in Pretoria begin werk.

‘n Vriendin van Johannesburg verkondig graag dat in Pretoria almal mekaar ken.  Growwe oordrywing, ek belowe julle.  Wat wel waar is, is dat Pretoria ‘n behoorlike stad is, met ‘n dorpsgevoel.  Ons geniet die voordele van die stadslewe, maar raak nog nie weg in die stads skaduwee nie.  Dalk is dit ‘n kwessie van identiteit?  Pretorianers is nog opregte mense, nie ‘n stuk masjienerie nie, maar ons kry nogtans dinge gedoen.

Een van die grootste voordele van Pretoria is die klimaat.  Dit is oor die algemeen sonnig, nie te koud of te warm nie en daar is selde wind.  Ons reën kom gewoonlik laatmiddag, maar dit is oor die algemeen opgeklaar teen die tyd wat jy wil braai.  Ek moet egter byvoeg dat ons huidige somer almal vir ‘n 6 slaan.  Niemand kan meer ‘n vinnige kykie na die hemel gooi en die weer voorspel nie.

Pretoria is gerieflik.  Jy kan gewoonlik al jou inkopies in ‘n 1 – 10 km radius doen.  As jy die dag avontuurlustig voel, kan jy doodeenvoudig jou radius vergroot.  Buiten die Gautrein, gebruik ek nie juis openbare vervoer nie.  Ek kan dus nie ‘n mening daaroor gee nie.  Mens sukkel nie met die Gautrein nie en dit kan baie tyd spaar as jy vinnig Johannesburg toe moet gaan.  Die grootste lughawe in Afrika is so te sê op ons agterstoep.  Verder hoef ons nie te reis vir ons mediese behoeftes nie.

As ‘n gebore plattelander, is die stad ‘n skatkis van geleenthede.  Ek kan byvoorbeeld nie net elke week kerk toe gaan nie, maar elke dag sou ek wou.  Boonop kan ek ‘n kerktyd kies wat my die beste pas, veral as ek die tye tussen die kerke met mekaar vergelyk.  Pretoria het heelwat opvoerings, maar dit is ook naby genoeg aan Johannesburg om daar iets te gaan bywoon.  Daar is restaurante vir elke smaak, gier of prysklas.  Boonop kan jy die weirdste belangstelling of stokperdjie hê, en jy sal iewers ‘n klub kan oopkrap.

Pretoria is bedrieglik groot.  Met die insluiting van Bronkhorstspruit, is Tshwane blykbaar een van die grootste metropole in die wêreld.  Nogtans, is die mense verdeeld soos die windrigtings.  Ek gaan eerder my voet uit my mond los en volstaan dat die Ooste, Noorde, Weste en Centurion (Suide) elkeen karakters uit eie reg is.

Ek sal maar moet sien waar die toekoms my sal neem.  Tot dan is ek heel gelukkig in Pretoors.

Breinvasbrand:  Watter bekende rugby stadion is in Pretoria geleë?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Lilymyn.





Stokperdjies en koeitjies

10 02 2016

Scrapy se huiswerk die week gaan oor jou eerste stokperdjie.

Orals word mense deesdae gemaan om geld te spaar en om geld baie versigtig te bestee.  Noudie dag lees ek in ‘n artikel dat ‘n mens jou stokperdjies moet gebruik om geld in te samel.  Asseblief!  Wie gaan my betaal om my stokperdjie te beoefen?  Ek het nog nooit van iemand gehoor wat van lees geld maak nie.

In elk geval, ek is nie heeltemal so seker dat lees ‘n stokperdjie kan wees nie.  Ek is ook nie heeltemal so seker dat ek regtig ‘n stokperdjie het nie.  Ek het al oor die jare hier en daar iets probeer.  Tuinmaak het nie vreeslik lank gehou nie, want die uwe hou nie vuil hande nie.  Dit is min of meer dieselfde lot wat lapverf getref het.  Behalwe nou dat ek nie een kreatiewe been in my liggaam het nie.  Wat my dan nou al ooit laat dink het ek gaan van verf hou.  Ek het nog nooit van inkleur of teken gehou nie.  Ek het vir ‘n rukkie seëls versamel, maar daar was nie juis seëls om oor huistoe te skryf nie.  Ek het nou nog ‘n skulp versameling en ek geniet dit wel om skulpies op ‘n strand op te tel.  Nogtans sal ek dit nie ‘n stokperdjie noem nie.  Dit is verseker ook nie my eerste stokperdjie nie.

As dit nou regtig iets moet wees, is my stokperdjie seker analises.  Dit het natuurlik begin die oomblik wat ek die woordjie hoekom bemeester het.  Ek het ‘n geneigdheid om iets oop te kloof tot daar nou regtig niks meer is wat gekloof kan word nie.  Dit is dan seker ook waar my internetverslawing vandaan kom.  As daar iets my pad kruis wat my interesseer, gaan ek dit opswot asof ek ‘n tesis daaroor sal moet skryf.

Dit is natuurlik iets wat ek vandag nog doen.  Ek kyk gewoonlik met my selfoon TV.  Alles wat my interesseer word daar en dan gegoogle.  Raai hoekom wil niemand saam met my TV kyk nie.  As ek byvoorbeeld baie van die program hou, sal ek alles omtrent die produksie, die karakters, die akteurs, die karakters en akteurs se belangstellings, vorige projekte, nuwe projekte en natuurlik al die ‘weird & wonderful’ verwysings weet.

Natuurlik word al die inligting wat ek kry deeglik oordink vir patrone, ooreenkomste en verskille.  Hoekom?  Eintlik maar net om myself mee te vermaak.  Seker ook maar in ‘n mate besig hou.

Breinvasbrand:  In Lord of the Rings, watter Hobbit het die ring oorspronklik opgetel?

Breinlosbrand:  Martin Luther King is doodgeskiet.  HesterLeyNel was dus reg.

 





Eerste keer toe ek dit sien

2 02 2016

P1360609

Vanaf die oomblik dat ek ‘n verskoning gekry het om Philadelphia toe te gaan, het ek een doelwit gehad.  Natuurlik het die doelwit niks te doen gehad met die verskoning om daar te kom nie.  Ek wou die Philadelphia kunsmuseum gaan besoek het.  Soos julle weet is ek mos nie juis ‘n kunsliefhebber nie.  Baie van my vriende is en deur die loop van tyd het ek wel ‘n ding of twee op getel.  Nogtans was die binnekant van die kunsmuseum nie in my beplanning nie.

Ek wou die Rocky trappe met my eie oë gaan beloer het.  Die Rocky standbeeld ook.  Beide was nou nie so indrukwekkend soos dit in die flieks gelyk het nie.  Onfiks soos ek is, kon ek ook die trappe opdraf.  Die standbeeld is ook maar effentjies.  As ‘n 100 mense jou nie wys waar die standbeeld is nie, kan jy dit maklik miskyk.  Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is bly dat ek dit self kon sien.  As ek more terug gaan Philadelphia toe, gaan kyk ek weer.  Dit is net kleiner as wat ‘n mens jou voorstel.  Die Statue of Liberty ook, maar dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.

So land ons toe by die Rocky trappe op.  10 minute later het ons al die foto’s geneem wat die lig toelaat (dit was al donker), maar toe is dit moeite om terug te gaan.  Siende dat ons toe juis by die Kunsmuseum is, besluit ons toe om te gaan rondneus.  Ons het mos nie iets om te verloor nie.  Buitendien is die museum tot laat oop.

Merries en hingse, was dit museum ‘n verrassing.  Toegang is nogal stewig as ‘n mens dit omskakel rand toe.  Die kassiere vra ons egter om self ons prys te bepaal.  Ek hak toe nogal af met $2 en net so is ons almal vir $2 in by die museum (lw:  nie $2 elk nie).  Ons word vriendelik uitgenooi om foto’s te neem en versoek om ons sakke in die “cloak room” te laat.

Persoonlik kon ek nog nooit verstaan het hoe mense ure lank kan toustaan om na ‘n paar muwwe skilderye te gaan kyk nie.  Ek was al in Suid-Afrika in ‘n kunsmuseum, maar dit het nou nie my sokkies op en af gerol nie.  Ek kon vir die eerste keer die aantrekkingkrag insien toe ek langs ‘n skildery van die vroeë 1600’s staan.  Daar was boonop skilderye wat uit die 1400’s kom.

Jan van Riebeeck het in 1652 in die Kaap geland, ‘n datum wat ek geleer het die dag is wat Suid-Afrika ontstaan het.  Hier staan ek toe in ‘n kamer vol skilderye, wat ouer is as Suid-Afrika.  Die skilderye lyk nie eers oud nie.  Dit spreek seker vanself, Scrapy, maar vir die eerste keer het kunsmuseums op my prioriteitslys gestyg.

Daar was natuurlik die insident met die Van Gogh en sekuriteitsbeamptes wat vining nader gedraf het, maar ek sal dit los vir ‘n ander dag.

Breinvasbrand:  Vir watter fliek het Sylvester Stallone sy eerste Golden Globe gewen?

Breinlosbrand:  Gustav Eiffel het beide die Statue of Libery en die Eiffel toring ontwerp.  Olga was dus reg.





Toeka Tokkel Bestuur

20 10 2015

Mens sou sweer ek hou van mostert, die dat ek dit altyd na die maal uithaal.  In elk geval, ‘n paar weke gelede het Scrapy bydraes gesoek oor bestuur.  Elke mens het seker iets daaroor te sê.

Ons weet natuurlik almal dat die goue reël van die pad is om links te hou.  Dit is egter nie ‘n universiële reël nie, dit is basies net van toepassing op die voormalige Engelse kolonies.  Die ironie is dat die meerderheid van lande aan die verkeerde kant van die pad ry.  Hulle is selfs verwaand genoeg om te glo ons ry aan die verkeerde kant.  Soos ‘n Duitser my eendag vertel het:  Hulle ry regs, want ‘right’ is right.  Left is mos nie right nie.  Ek weet nie of ek saamstem nie, maar daar is seker ‘n skerfie logika daaragter.

Blykbaar bestuur 65% van die wêreld se bevolking aan die regterkant, maar 90% van die paaie hanteer verkeer aan die regterkant.  Dit is volgens Wikipedia.

Oorsee is ‘n wonderlike plek waar openbare vervoer tot ‘n groot mate die verkeerde kant vir jou uitsorteer.  Gewoonlik.  As jy in die besige sentrums bly of bereid is om deur jou ore vir ‘n huurmotor te betaal.  Dit is nou as jy een in die hande kan kry.  Oor die algemeen is dit heeltemal genoeg en is daar nie juis rede om te kla nie.  Tog kom daar iewers ‘n dag wat die enigste sinvolle besluit is om ‘n kar te huur.  Daardie kar sal dan aan die verkeerde kant gery moet word.

‘n Dag waarteen baie mense opsien.  Hallo?  Dit is en bly aan die verkeerde kant van die pad.  Al voel die meerderheid van die wêreld anders, is die meerderheid nie noodwendig reg nie.  Behalwe dat ‘n mens aan die verkeerde kant moet ry, is die kar ook gatkantom.  Dit is genoeg om enige gesonde verstand te laat besin.

In standard 5 het een van ons onnies vir ons die volgende wyse woorde geleer:  “Groter sissies as ek is al daardeur.”  Die besoekers wat aan die verkeerde kant gewoond is, bestuur sonder om te hik aan die linkerkant.  As hulle kan, hoekom kan ons nie?

Dalk omdat ons nie ‘n internasionale lisensie het nie.  Uhm!  ‘n Internasionale lisensie is eintlik maar net ‘n vertaling van jou bestaande lisensie.  Dit leer jou nie om aan die verkeerde kant te ry nie.  As groter pissies en dommer swape as jy regkom om van kant te verander, behoort jy mos ook suksesvol te wees.

Natuurlik moet ‘n mens ook rede ingedagte hou.  Dit is een ding om kop te hou na ‘n goeie nagrus, maar is dit wys om te bestuur as jy al 40 uur lank reis?  Suid-Afrikaners is nie juis ‘n wetgehoorsame nasie nie.  Baie van die lande wat ons wil besoek is baie wetsgehoorsaam.  Kan ons so op die ingewing wetsgehoorsaam word?  Soos in 100% wetsgehoorsaam?

Goeie vrae!  Nogtans wil ‘n mens nie mis nie.  Wie weet wanneer kry jy weer ‘n kans om wettig aan die verkeerde kant te bestuur?

So jy druk deur en kom agter dit is nie eintlik so ‘n groot storie nie.  Gelukkig het niemand gesien toe jy in die verkeerde kant van die kar geklim het om te bestuur nie.  Volgende keer is dit dalk net ‘n roetine besluit.

Breinvasbrand:  In watter jaar het Namibië begin om aan die linkerkant te bestuur?

Breinlosbrand:  Toortsie was reg met Andrew Lloyd Webber.





Herinneringe

30 09 2015

Scrapy se huiswerk die week is herinneringe.

Die mens sal seker nooit weet wat regtig in ‘n dier se kop aangaan nie.  Wat dink hulle, wat vind hulle snaaks, wat onthou hulle?  Diere het tog seker ook herinneringe.  Hoe herleef hulle dit en hoe sal hulle dit met ander deel.  Dit is goed bekend dat diere droom, maar gee slegte herinneringe hulle ook nagmerries?

Toevallig dat Memory juis uit Cats uitkom.  Soos julle weet het die heks mos eendag met ‘n kat oor die skouer by die huis aangekom.  Voordat ek my oë kon uitvee, is die kat ingeburger, het sy my uit die bed geskop en staan sy aan die stuur van sake.  Die kat is ook op ‘n planeet van haar eie.  Daar was eendag ‘n groot geveg omdat sy wou gaan buite speel het terwyl dit hael.  Sy speel mos buite as dit reën en selfs as dit donderweer is.  Sy het nie so lekker besef dat hael seer maak nie en die hael was te groot dat sy persoonlike ondervinding kon gaan opdoen.

Al hou sy daarvan om in die reën te speel, geniet sy glad nie nat gras nie.  Sy hou ook nie van water nie.  Ek verstaan self nie die logika daar agter nie.  Toegegee, ek is nie welkom op die kat en heks se planeet nie.

Die kat was nog jonk toe iemand eendag die tuin natspuit.  Siende dat sy aan die stuur van sake staan, moes sy persoonlik self toesig gaan hou het oor die takie.  In die proses word sy toe per ongeluk raak gespuit.  Ons praat hier van 3 druppels maksimum.  Daar was nie eers ‘n nat kolletjie op haar nie.  Vererg die kat haar in ‘n ander haarstyl in.  Water is mos nie reën nie.

IMG_20150928_193940

Julle sal my nie glo nie, maar die kat onthou die dag asof dit ‘n groot trauma was.  Sy maak doodseker dat die ongeluk nie herhaal kan word nie.  As iemand net na die tuinslang kyk, hol sy om in die huis te kom.  Sy sal maar eerder later kom kyk of sy tevrede met die werk is.

Wat was vir julle diere ‘n goeie of slegte herinnering?

Breinvasbrand:  Wie het Cats gekomponeer?

Breinlosbrand:  Olga was reg dat Charles Darwin die vader van evolusie was.  Teilhard de Chardin was ‘n paleontoloog wat ook heelwat werk oor evolusie gedoen het.





Alle paaie gaan na Rome

24 09 2015

Scrapy praat oor paaie die week.  ‘n Onderwerp wat my laat rooi sien, veral as ek in Moerse Potholes soos ‘n dronk mens moet ry om my bande te beskerm.  Dan, in plaas om die paaie reg te maak, wil hulle mos nou die spoedgrens verlaag om padsterftes te voorkom.  Kom ek kots eerder ‘n volgende dag daaroor.  As ek daaraan dink, wil ek sommer gaan 200 km/h ry uit protes.

Kom ek vertel julle eerder ‘n ander storie.  Ek vermoed eintlik ek het dit reeds gedoen, vergewe my maar as ek julle verveel.

Ek moet een dag my ma en haar suster in Johannesburg ontmoet.  Hulle is al ‘n paar dae lank in die Goudstad en is al so effens uitgekuier.  My tannie bly boonop nie in Suid-Afrika nie en is eintlik lus om so ‘n bietjie rond te neus.  Dit vat dus nie lank nie, toe skiet ons deur Pretoors toe.  In my kar, hulle kar was by die hotel.  So is ons skaars op die N1 (vroeg middag) en ek maak die grappie dat ons moet Bloemfontein toe gaan.  My ma se ander suster bly daar.

Ek was die enigste een wat gedink het die grappie is snaaks.  Ek is sonder meer as mal gediagnoseer en Bloemfontein was heeltemal te ver.  Ons gaan gooi al die toeriste draaie in Pretoors en gaan kamp by Mugg & Bean uit.  Natuurlik kuier ons toe heeltemal te lank.  Dit was al na middernag toe ons terug Johannesburg toe in die pad val.

Teen die tyd is alles natuurlik al snaaks.  Ek maak toe die fout om dieselfde flou grappie van die middag te herhaal.  “Kom ons gaan Bloem toe!”  My metgeselle het nog steeds nie die grap ingesien nie.  Nee!  Dit is toe vir hulle sommer ‘n plan.  Ten spyte daarvan dat my Tannie die volgende middag ‘n afspraak het.

Wie is ek om te stry?  As hulle in die vroeë oggendure Bloemfontein toe wil gaan, dan neem ek hulle Bloemfontein toe.  Dit is in die middel van die pad en dit is die ideale verskoning om ‘n bietjie voet in die hoek te sit.  Dit was knap voor 4 toe ons op die derde suster se deur drempel opdaag.  Of wat ons gedink het haar deur moet wees.  Sekere mense het mos nie haar telefoon geantwoord nie.

Ons het nogal die vermoede gehad dat vreemde mense nie geamuseerd sou wees as ons ongenooid by hulle wou kuier nie.  Ons pluk toe maar my neef telefonies uit sy bed om die regte nommer te kry.  Terwyl hy uit die bed is, kan hy sommer my karsleutels wat ek in my kar toegesluit het kom haal.

In elk geval, so kuier ons toe al te lekker in Bloemfontein.  Na ‘n vroeë ontbyt moes ons weer in die bad val om teen 14:00 weer in Johannesburg gewees.  Almal het saam gestem dat dit ‘n mal idee was, maar niemand het dit al ooit ‘n slegte plan genoem nie.





Die alewige skottelgoed

16 09 2015

Scrapy se toeka tokkel die week is skottelgoed.  Beslis nie my gunsteling onderwerp van bespreking nie.

Soos ek reeds al verduidelik het:  Xena Phoenix is nie die skoonste of netjiesste mens ooit nie.  Inteendeel, ek kan maklik aan ‘n Olimpiade vir luiheid deelneem en baie goed daarin vaar.  Helaas, vind ek die kat se manier van skottelgoed was nie baie aanvaarbaar nie.  Sy is ook nogal puntenerig oor watter skottelgoed sy sal was.  Ons het toe maar tot ‘n vergelyk gekom dat ek dit maar eerder sal was voordat sy in die versoeking kom om die taak oor te neem.  😉

Grappies op ‘n stokkie.  Ek haat dit as daar vuil skottelgoed die wêreld volstaan.  Ek het eendag ‘n braai by my huis gehad.  Teen die einde van die aand, was elke glas wat ek besit vuil.  Glo my, ek het verskeie kere deur die loop van die aand skottelgoed gewas, maar een van my gaste het himself elke keer aan ‘n skoon glas gehelp.  Ongelukkig het hy nie sy vuil glas kom omruil vir ‘n skone nie.

Ek glo in ‘n een beker, een bord, een bakkie ens. aanslag per persoon.  My skottelgoed is in die minimum, hoewel ek gewoonlik die reël oortree.  Dit is nogal ‘n probleem as jy jou glas gebruik vir jou vitamienpil, maar ook gou water wil drink.  Ek was dus gewoonlik een keer ‘n dag skottelgoed.  As ek in die nag iets oorkom en vreemde mense my huis moet inkom, gaan hulle lekker kan skinder.  Ek was gewoonlik in die oggend net voordat ek ry skottelgoed.

Dit is natuurlik ‘n taak wat ek uit noodsaaklikheid verrig.  Niemand kan daarvan hou om skottelgoed te was nie.  As jy eet en drink, gaan jy skottelgoed maak.  Party mense trou met ‘n skottelgoedwasser, ander los dit vir die feetjies en dan is daar die ape wat altyd met die skottelgoed opeindig.   Die enigste manier om skottelgoed te vermy, is om nie te eet nie.  Dit is ook nie so onmoontlik soos wat jy dink nie.

Prahlad Jani het blykbaar sedert 1940 nie nat of droog oor sy lippe gehad nie.  Hy het nie eers ‘n toilet nodig nie.  Hy produseer wel uriene, maar skei dit nie uit nie.  Hy was al vir 15 dae sonder kos en water toegesluit en het oorleef sonder dat hy ooit die toilet hoef te gebruik het.  Hy reken sy Hindu godin sorg vir hom deur ‘n gat in sy verhemelte.  Ander mense reken dat sy liggaam aangepas het aan langdurige gebrek aan kos en water.  Hy is egter baie gesond.

Hoe dit ook al sê:  hy maak nie skottelgoed nie en hy het ook geen rede om ooit ‘n toilet te was nie.  Hy maak my amper jaloers.  As kos nou nie so lekker was nie.

Breinvasbrand:  Aan watter godin het Jani sy lewe gewy?

Breinlosbrand:  Olga was reg met “Ek wil jou nooit weer sien”.





Gemufdhede

9 09 2015

O aarde!  ‘n Week se gedwonge internetloosheid het gemaak dat ek nie vir Scrapy van soek kon vertel nie.  Glo my, ek is ‘n kenner van soek.  Water onder die brug.  Vandag se huiswerk gaan oor oudhede.

Ek kon nog nooit die bohaai van ou, gemufde goed verstaan nie.  Sommige mense noem dit antieke ware.  Hoekom sal jy deur jou ore wil betaal vir 10de-handse meubels as jy dit vir ‘n fraksie van die prys nuut kan kry?  Ek het wel van plan verander nadat ek die eerste keer die Sammy Marks museum besoek het.  Toe kon ek ook die malligheid verstaan.

Dit is nogal ironies. Meubelstukke wat dekades en eeue lank bestaan en nogsteeds na generasies se gebruik in ‘n puik toestand is.  Sal ‘n mens se sitkamer of eetkamerstel jou leeftyd hou?  Dan praat ons nie eers van jou nageslagte nie.  Daar is natuurlik ‘n rede daarvoor.  As dit generasies lank gaan hou, gaan jy geen rede hê om nog te koop nie.  Dit wil die vervaardigers nie hê nie.  Dit is nog erger met elektroniese goed.  Hoe later die model, hoe vinniger sal jy dit moet vervang.  Dit is skandalig.

Dit laat my aan die veteraankarre dink.  Dit is natuurlik ‘n stokperdjie van ‘n ander aard.  Punt is egter dat mense dit vandag nog kan ry.  Hulle kan selfs Afrika deurtoer met die antieke voertuie.  Hoeveel moderne karre kan Afrika deurkruis sonder om herstelwerk langs die pad te benodig?  Gaan jou kar oor 10, 20 of selfs 50 jaar nog padwaardig wees?  Indien wel, ry jy nie ‘n nuwerige model kar nie.  Mense lag dalk nou vir jou kar, maar jy sal wel die laaste lag hê.

Ek hou wel van ou huise.  Ek het ‘n vriendin wat in ‘n huis woon wat ouer as ‘n 100 jaar oud is.  As daardie mure darem kon praat?  ‘n Eeu van vreugdes, tragedies, skandes, skinderstories en raaisels.  Dalk nog met die antwoord op die raaisel.  Wanneer haar TV oppak sal sy geen ander vermaak nodig hê nie.

My droomhuis sal natuurlik ‘n kasteel in die middle van ‘n woud wees.  Ek sal vingeralleen daar bly, mits daar natuurlik internet en elektrisiteit is.  Wel, vingeralleen met my ego, gesplete persoonlikheid, die hekse en hulle diere.  Ek sal wel die enigste mens wees.  Wanneer ek nie meer na my gemors kan kyk nie, sal ek net na ‘n ander vleuel verhuis.  Daar is egter net een klein tegniese probleempie.  Sulke kastele het spoke en ek hou nie van spoke nie.

So bly ek maar in my moderne huisie, met moderne meubels, met ‘n moderne (maar AWESOME) kar.  Sal alles seker een of ander tyd moet vervang, maar ten minste is hier nie spoke nie.

Breinvasbrand:  Wat was Sammy Marks se vrou se naam?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Robbie Gould.





Ouer as ‘n dekade en nog nooit gebruik nie

26 08 2015

Scrapy toeka tokkel die week oor Wasdag.  Laat ek vir julle vandag een ding vertel.  Ek is loshande die luiste huisvrou in die hele Suid-Afrika.  Dit is nou my nederige streep wat praat – die wêreld is immers baie klein.  Gelukkig soek ek mos nie eie roem nie, ek sal maar volstaan by die slegste huisvrou in Suid-Afrika.  Ek hou nie van huiswerk nie.  Ek hou beslis ook nie van wasgoed nie

Op skool het wasgoed wat in die wasgoedmandjie geland het maar die gewoonte om skoon en netjies terug in die kas te kom.  Wonderlike stelsel, wat helaas nie met vingersklap geskiet nie.  In elk geval, dan skryf mens mos matriek en skielik verander die wêreld.  In my geval, ek het in die stad gaan swot waar ek bloot te ver was om elke week vir my ma ‘n bondel (of 3) wasgoed te bring.  Ek sou dit self moes was en wee jy!  Self moes stryk!

Ek neem aan my ma het haar nogal verlekker aan die gedagte.  So oppad universiteit toe, kry ek toe ‘n strykyster.  Daar was net een klein tegniese besonderheid waarvan sy nie geweet het nie.  Geen koshuisstudent wat sy / haar sout werd stryk iets nie.  Nie eers as ‘n eerste jaar vir ‘n senior student nie.  Ek dink ons het sommer in oriëntering geleer dat stryk onnodig is as jy jou goed direk uit die tuimeldroeër opvou.  Buitendien, in ‘n koshuis is daar ook net soveel wasmasjiene.  As jy per ongeluk 5 minute laat is, het een of ander oorhaastige siel sommer jou klere vir jou opgevou.

Helaas kan ‘n mens nie altyd ‘n student bly nie.  Die groter tragedie is dat wat netjies is vir ‘n student, is nie noodwendig wending vir jou eerste pos nie.  Weereens, geen probleem.  Ek het seker gemaak dat ek by ‘n tannie loseer wat wel wasgoed gedoen het.  Later het ek  in ‘n tuinwoonstel gewoon.  Ek het toe my klere na ‘n washuis of na my ma geneem om skoon en gestryk te kom.  Julle wil nie weet vir hoe lank nie.  Ek het bloot nie plek vir ‘n wasmasjien gehad nie.  Wie stryk as jy nie wasgoed gewas het nie?  Dus was die strykyster wat saam met my universiteit toe is, nog net so in die oorspronklike verpakking.

So word ‘n mens se studielenings afbetaal en skielik is ‘n tuinwoonstel(letjie) net te klein.  Jy kry ‘n kamermaat en trek by ‘n meenthuis.  Jou kamermaat het ‘n wasmasjien.  Die strykyster is al ‘n dekade gelede gekoop en is nog nooit uit die verpakking gehaal nie.  Dalk is dit nou die tyd om ‘n verhouding met ‘n strykyster aan te koop.  Dankie tog daar is soveel droogskoonmakers wat bereid is om vir jou te stryk.

Vandag deel ek ‘n huis met die heks en die kat.  Nie die heks of die kat kom naby die wasmasjien nie.  Ek moes toe maar noodgedwonge begin wasgoed was op ‘n gereelde basis.  Ek het lanklaas vir my ma gaan kuier met ‘n groot bondel vuil wasgoed.  Maar ek trek die lyn by stryk!  Daardie strykyster is nog steeds ongebruik.

Breinvasbrand:  Van watter land is die Speed Queen afkomstig?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Kim Hong-Hee.