Die ongekontaktes

27 01 2015

Dit klink amper soos ‘n fliek oor ruimtewesens.  Dit is moeilik om te glo dat daar vandag nog mense is wat nie kontak met die res van ons het nie.  Dit klink half onwerklik.  Mense wat op aarde woon, maar wat nie deel van die wêreld is nie.  Mense wat nie weet van ander lande, gelowe of tegnologie nie.  Mense wat bekend staan as die “uncontactable”.

Ek het al dikwels gespekuleer of daar dalk iewers in die Amasone ‘n nasie (Amasones) is wat nog nooit ontdek is nie.  Wat sal hulle dink as hulle ontdek hoe groot die wêreld eintlik is?  Dit was egter altyd eintlik maar ‘n “Sê nou” speletjie.  ‘n Wetenskaplike fiksie, waaroor ek nou nooit regtig te lank gedink het nie.

Daar is egter regtig nog mense wat heeltemal onafhanklik van die wêreld bestaan.  Mense wat nog nooit aan die moderne lewe en volke bekend gestel is nie.  Groepe waarmee die wêreld nie kontak het nie.  Daar is groepe waarvan die wêreld weet van hulle bestaan (deur aanvalle of lugfoto’s), maar of kontak geweier is of net nie gekontak kon word nie.  En ja, daar is baie van hulle in die Amasone.

Ek gaan vandag volstaan by die inwoners van die Noord Sentinel Eiland.  Verskoon my vertaling, maar ek gaan na hulle verwys as die Sentinelese.

Ek kan altyd ‘n goeie F-jou storie waardeer en vir eeue lank gooi die Sentilenese eintlik vir die moderne samelewing die vinger.  Daar word vermoed dat die Sentinelese al vir 60 000 jaar op die Noord Sentinel Eiland in die Bengaalse Baai woon.  Die Sentilenese se eiland is laagliggend en dig bebos.  eiland is ongeveer 72 km² groot.  Vandag bly daar vermoedelik tussen 50 en 400 mense op die eiland.  Weens die digte bos kan niemand verseker sê nie, dit is nie so maklik om ‘n helicopter te stuur om gou te gaan tel nie.  Hulle val onder Indië of eerder hulle geniet Indië se beskerming.  Dit is nie asof iemand hulle gevra het of hulle deel van Indië wil wees nie.  Indië kan ook nie daar maak en breek soos hulle wil nie.

Die Sentilenese is duidelik al eeue terug ontdek, waarom nog die afgesonderheid?  Basies maak die Sentilenese almal dood wat sonder ‘n uitnodiging op hulle drempel opdaal.  Hulle hou ook van hulle eie geselskap en sien dus nie die nodigheid in om ander oor te nooi nie.  Daar word ook vermoed dat hulle in die bos wegkruip wanneer dit hulle pas.

Daar was al mense wat probeer het. Maurice Vidal Portman, ‘n Brit, het in 1880 met ‘n groot weermag gaan probeer maatjies maak.  Die Sentilenese het vermoedelik in die bosse weggekruip.  Portman het na dae se gesukkel, het hulle ‘n ou paartjie ontdek wat nie kon weghardloop nie en vier kinders.  Hy het hulle Port Blair toe geneem, waar die ou mense siek geword het en gesterf het.  Portman het toe die kinders met geskenke terug geneem.  Die kinders het verdwyn en dit was die laaste sien van hulle.

Die Indiese regering het verskeie kere in die 70’s, 80’s en 90’s geskenke gaan aflewer met die hoop op vriendskap.  Hulle moes ook vining wegduik vir pyle.  ‘n Vragskip het in 1981 op die koraalriwwe om die eiland gestrand.  Hulle het geduldig vir ‘n paar dae vir hulp gewag, toe die Sentilenese hulle van die boot wou kom afhaal.  Soos die bewapende Sentilenese nader gerooi het, het die kaptein hulp ontbied en is die die bemanning met ‘n helicopter ontruim.  In 2006 het die Sentilenese twee vissers wat in hulle see kom krap het dood gemaak.  Toe ‘n helikopter hulle lyke kom soek het, was die helikopter met pyle bestook.

Selfs toe die Indiese vloot na die 2004 Tsunami kom kyk het of die Sentilenese nog lewe, was hulle met pyl en boog verjaag.  Daar word vermoed dat die Sentilenese die Tsunami op die hoogste punt van die eiland gaan uitwag het.  Blykbaar was daar min of geen Sentilenese dood in die Tsunami nie.

Die Sentilenese jag, vang vis en vergader kos in die woud om te oorleef.  Hulle maak hulle meter lange pyle met staal van die skepe wat rondom hulle eiland vergaan het.  Hulle vra niks – behalwe om alleen gelaat te word.

Vandag weet mense beter as die kolonialiste van destyds.  Mens kan nie net met ‘n reuse skild en ‘n paar biere gaan kennis maak nie.  Een van die gevare van kontak is dat die Sentilenese (en ander verlore volke) nie noodwendig immuniteit het teen ons kwale nie.  ‘n Vreemde virus of bakterieë kan hulle in groot getalle doodmaak.

Hoe dit ook al sê, hulle is beslis ‘n interessante nasie.  Vandag weet ons niks van hulle taal, geskiedenis, filosofie, medisyne, wetenskap (hoe het hulle geweet daar kom ‘n tsunami) ens nie.  Ons kan ons afleidings maak, maar kan dit nie toets nie.

Ek moet egter wonder – met ‘n geslote populasie soos hulle, hoe groot probleem is inteling?

Wat dink julle van die Sentilenese?  Is dit reg om kontak af te dwing op die groepe wat nie gekontak is nie?  Moet dit op hulle terme gebeur?  Kan daar ingemeng word as daar een of ander tragedie op die eiland is?

Ek weet waar ek ‘n antropoloog kan word, maar waar kan ek leer om vinnig ‘n onbekende taal te leer?

Breinvasbrand:  Wat is die naam van die skip wat in 1981 naby die Noord Sentinel Eiland gestrand het?

Breinlosbrand:  Olga was reg.  ‘n Debiteur skuld jou geld en jy skuld ‘n krediteur geld.


Aksies

Information

10 responses

27 01 2015
Olga

Eerste.

Die Primrose.

27 01 2015
Olga

Good luck aan hulle. Stuur vir ou Zum zum laat hy gaan kyk hoe lewe nasies waar die witman nog nooit voet kon waag nie.

28 01 2015
Xena Phoenix

Zum Zum sal dalk die verkeerde boodskap kry. Hy besluit dalk nou om die kolonialiste met pyl en boog te verjaag. Natuurlik nadat die kolonialiste die pyl en boog verskaf het.

28 01 2015
seegogga

Sjoe. So geheimsinning soos die aliens! Hulle is duidelik gelukkig soos hulle is, het niks van die buitewereld nodig nie dus glo ek hulle kan met liefde heeltemal uitgelos word. Die oomblik wat hulle “oopgemaak” word, gaan hulle probleme begin.

28 01 2015
Xena Phoenix

Iemand het blykbaar eendag van ‘n boot af probeer maatjies maak. Die geskenke was aanvaar, mits die nuwe maatjies op die boot gebly het. Die volgende oomblik was daar gevryery op die strand wat vir niks geskrik het nie. Ek weet nie of die skrywer dit beleef gestel het en of daar ‘n orgie was nie.

28 01 2015
HesterLeyNel

Ek reken ek sal sommge dae ook hierdie leefwyse waardeer; nou nie die interlingsdeel nie😀 , maar die res klink gaaf.

29 01 2015
Xena Phoenix

Al moet jy ‘n eiland met ten minste 50 ander deel? 😉 Ek dink ek verkies my eie persoonlike eiland – met elektrisiteit en internet asseblief. ‘n Helikopter sal ook gaaf wees vir wanneer ek iets moet gaan koop.

28 01 2015
seegogga

‘n mens wonder nogal wat hulle doen om getalle te beperk….. en dis sopas bevind dat pyl en boog baie beter wapen is as geweer. kyk hier: http://www.youtube.com/watch?v=BEG-ly9tQGk

29 01 2015
Xena Phoenix

Seegogga, ek vermoed dat daar baie inteling moet wees onder mekaar. Daar is dus ‘n groot moontlikheid dat daar baie afwykings sal wees, wat weer na miskrame en jong sterftes sal ly. Ons kan net raai oor die mediese sorg wat het, maar ek dink dit is veilig om te sê dat hulle lewens nie onnatuurlik verleng word nie. Hulle lewe ook in balans met die natuur, dus sal die natuur hulle getalle beheer.

29 01 2015
Spokie sny spoor

Baie interessant opgetrek. Dankie al jou moeite met die artikel. Ja – ek droom saam julle om my eie eiland te besit, en net niks te doen nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: