So dom soos ‘n voël

20 02 2017

e03e79d70a2f4b1adefa0b1cfbea9a87

Julle onthou mos nog vir Lispiek?  Ek daag mos eendag doodonskuldig by die huis op en daar het die dom heks vir haarself ‘n perd gekry.  Die perd wat enige ander mens ‘n kat sal noem.  Blykbaar het sy gekwalifiseer vir die kat en ek moet maar net met kathare op en in alles lewe.  Laviga het natuurlik ‘n perd gekry wat genoeg hare vir ‘n dieretuin het.  Siestog, die hare maak seker op vir die gebrek aan ‘n gesig.

Wel, ek was seker nie so ontwaardig oor die kat soos ek moes wees nie.  Ek het maar net gehoop Lispiek (Laviga het die naam gekies) hou die heks darem uit die moeilikheid.  Dit is nou as sy die merrie van ‘n heks kan kry om te luister.  Verder is Lispiek baie ouliker as die hare wat sy rondstrooi.

Sy maak seker dat ‘n mens nie eensaam op die toilet is nie.  Sy sus jou prrrrr-prrrr aan die slaap.  Sy maak seker dat jy elke dag ‘n bietjie oefening kry en kom vertel jou alles wat die bure aanvang.  Boonop hou sy ‘n oog oor die tuinier en vertel hom goed sy fortuin as hy skeef trap.

Lispiek hou van maatjies – mits hulle nie kinders of mans is nie.  Hulle moet ook nie rook nie.  Sy hou ook nie van tannies nie.  Man, om eerlik te wees, is haar verskoning vir ‘n neus heel puntenerig oor van wie sy eintlik hou.  Nie dat sy ‘n snob is nie.  Sy het al vir haar ‘n padda heel geduldig gehelp om by die huis uit te kom.  Nogal liggies met die pootjie op die regte pad gehou.  Sy het ook al ure lank met ‘n mot wat amper groter as sy is gespeel.  Sy het hom (lewendig) buite gevat toe sy ma geroep het.  Meestal vermaak sy haarself met die voëltjies.

Ai!

Sy kan mooi met die maatjies speel, maar dit raak nogal ‘n probleem as die maatjies haar in die gesig vroetel.  Onthou, Lispiek verwyder enige mens van uit haar sit plek.  Opgee is teen haar beginsel.  So wanneer sy nou ‘n voëltjie huistoe bring en die voëltjie daag haar uit om te stoei . . . kom ons sê maar net Lispiek doen nie tweede plek nie.  Lispiek is ook nie die een wat beseer word nie.

Ons het noual die voëltjies vertel om nie met die kat te speel nie.  Om hulle te help, het ons  vir haar ‘n groot klokkie laat dra sodat hulle weet as sy kom.  Natuurlik red ons die voëltjie wanneer ons kan.  Mens is seker die oorlewendes het hulle storie gaan deel met die res?  Het hulle egter hulle les geleer?

Aikona!

Nee, gister kry ek mos die dom goed (heks verskoon die slag) wat al om die kat paradeer.  Sy kan kies en keur.

Nou wonder ek of voëls maar ‘n selfmoord neiging het?  Geniet hulle Lispiek se geselskap?  Of is hulle te dom om te leef?

Advertisements




Die liewe mens

10 02 2015

Ek vind dit nogal interessant dat daar Menseregte is en Vroueregte.  Alhoewel, dit behoort eintlik geen verrassing te wees nie.  ‘n Vrou is mos nie ‘n mens nie.

Nee, regtig!  Dit staan in die Bybel.  Gaan lees maar self.

Aan die einde van die skepping is die mens geskape om ‘n oog oor alles te hou.  Dit is nou wat ons vandag ‘n man noem.  Natuurlik het hy nie alleen die mas op gekom nie.  Daarom het God die mens geneem en ‘n diep slaap oor hom gebring.  ‘n Ribbebeen is geneem en die vrou is daaruit geskep.  Die mens het toe ‘n maat gehad.  Daar was dus ‘n mens en ‘n vrou.

Sien julle nou?  ‘n Vrou is dus nie ‘n mens nie.  Dit is ‘n goeie ding ook.

‘n Paar hoofstukke verder staan dit juis dat God spyt is dat Hy die mens geskep het.  Njannies, gaan lees maar self.  Maar ek het nog nie die stuk gekry waar dit stand dat God spyt is dat hy die vrou geskep het nie.

Terloops, die Bybel vermeld ook nie dat God die mens weer wakker gemaak het nie.





#@# geheime organisasie

30 01 2015

Ek moet seker self ‘n geheime organisasie uitdink. Baie moeliker as ‘n mens sal dink. Olga het reeds ‘n vigilante groep wat die kinders sal wreek. Ek is seker sy sal my daar toelaat en ek hoop ek kry ‘n graaf borsspeld. So ek moet iets anders gaan soek.

Julle weet al teen die tyd dat dit nie veel neem om my te amuseer nie. Gee my net iets waarvan al die drade nie vas is nie of as 2 en 2 nie 4 maak nie. Dan praat ek nie eers van ‘n som sonder ‘n antwoord nie. Net omdat dit ‘n gevestige Geskiedenis feit is, beteken nie noodwendig dat ek dit sal glo nie. As iets nie vir my sin maak nie, gaan ek dit bevraagteken of my eie teorie vorm. Dit maak dan seker van my ‘n sameswerings teoretikus.

As ek dus ‘n geheime organisasie kan stig, sal dit ‘n groep wees wat die storie agter die storie gaan soek. As ‘n groep sal ons dus elke ding waaroor ons (ek) wonder gaan ondersoek tot ons nie meer wonder nie. Daar sal natuurlik twee bene moet wees: die ondersoekers en die ontwikkelaars. Die ondersoekers sal nie ver kan kom sonder ‘n tydmasjien nie. Die ontwikkelaars sal onder andere een moet ontwikkel. Ek dink iets soos Mannemarak se ruimteskip. Klein, maar weerstandbiedend teen gif en ‘n taai klap.

Oe! Die moontlikhede. Maar voordat ek weggevoer raak, moet ek eers aan aansluitingskriteria dink. Ek soek mense wat buite die boks kan dink, maar terselfde tyd krities kan dink. Hulle sal die perdedrolle van die feite moet kan onderskei. Hulle moet moet in beroepe wees of belangstellings hê wat ons doel sal bevoorbeeld. Hulle moet natuurlik aanvaar dat hulle deel van ‘n geheime organisasie is en besef dat hulle nooit krediet vir hulle bevindinge of ontwikkelings sal kry nie. Hulle sal dit ook nie kan gebruik om hulle eie agendas na te streef nie.

Ons ontmoet plek moet ‘n weggesteekte museum wees. Ons sal die museum natuurlik oor tyd kan vol maak. Ek hou nie van tattoeërmerke nie, dus sal ons maar juweliersware gebruik as identifikasie. Ek is nog nie presies seker wat nie, dit moet iets wees wat nie juis aandagtrek nie, maar dit moet so duidelik soos daglig wees vir die wat weet waarvoor om te kyk. Iets wat vir mans en vrouens werk, dus dalk ‘n ring op ‘n sekere vinger. Ek wil nou ook nie onnodige kanse vat nie, dus moet almal dalk ook ‘n mikroskyfie hê vir positiewe identifikasie. Tensy die ontwikkelaars ‘n DNA toets kan ontwikkel wat iemand binne 2 sekondes kan identifiseer.

Ek moet ook nog besluit wat ons met die inligting gaan doen. Aan die eenkant sal jy dit onder die wêreld se neuse wil vryf, maar onthou dat nog steeds ‘n geheime organisasie is. Dit sal dus anoniem gepubliseer moet word of as fiksie bemark moet word. Niemand glo mos fiksie nie, tensy dit natuurlik ‘n geloof uitmekaar haal.

Die organisasie kan maar iets wees waaroor mense wonder. Wonder, maar nooit die antwoord kry nie. Dit sal mos ons werk wees. Net die amptelike lede sal presies weet waaroor dit gaan.

Nou kort ek net die wêreld se ekonomie. Dalk moet ek eerder ‘n ander lewende planeet gaan kaap en klaarkry.

Breinvasbrand: Watse organisasie se kenteken is hieronder:

Breinlosbrand: Scrapydo was reg met Muizenberg.





51ste Staat

3 12 2014

Independence day (die een wat op 4 Julie gevier word), Halloween, Thanksgiving, Black Friday, Santa Clause . . . Ek het regtig niks daarteen nie, mits dit in Amerika gevier word. My probleem is dat ons in Suid-Afrika is. Ons onafhanklikheid van Engeland het ons op 31 Mei gekry en dit het net mooi niks met Abraham Lincoln te doen gehad nie. Toegegee, Republiekdag is met Vryheidsdag vervang, maar dit val op 27 April. Ons het nog nooit nodig gehad om dankbaar te wees dat die Idiane hulle kos met ons gedeel het nie. Siende dat Black Friday die dag na Danksegging is, het dit nie regtig rede om te ontstaan nie. (Ek stem wel vir 52 Black Fridays ‘n jaar). Ons het nooit Halloween gevier nie en Father Christmas was vir generasies goed genoeg om geskenke te kom aflewer.

Goed, goed – ek weet julle is nie lus om na my gesanik te luister nie. Dit is immers nie asof Amerika hier kom oorvat nie. Suid-Afrikaners ver-Amerikaans uit vrye wil. Nou wonder ek hoekom gaan ons nie vir goud nie? Hoekom hys ons nie die Amerikaanse vlag, sing die Stars Spangled Banner en word die 51ste staat nie?

Absurbte idee?

Miskien, maar nogal iets om aan te dink.

Kyk, Amerika is nou nie die land van melk en heuning nie. Hulle het hulle deel van geweldsmisdade, maar hulle is ook baie meer oop vir die idee dat elkeen die reg het om hulle self te verdedig. Hulle onderwys is nou niks om oor huis toe te skryf nie (mits jy nou natuurlik genoeg leer om te kan skryf). Hulle gesondheidsdienste kan op verbeter word, maar is darem aansienlik beter as ons publieke hospitale. Hulle het ook maar Unies wat diegene wie se werksverrigting nie vir hulle self kan praat nie.

Aan die ander kant, bly Amerika die land van geleenthede. Dit is ‘n land waar jy jou merk kan maak ongeag wie jy is of wat jy is. Amerika se ekonomie is die wêreld standaard. Op een of ander manier werk hulle land. Die publieke vervoerstelsel is veilig en min of meer betroubaar. Die infrastruktuur is prakties, veilig (tensy ‘n vliegtuig daarin vlieg) en word onderhou. Hulle regering is funksioneel en moet verantwoording doen. Daar is ook aansienlik meer waarde aan ‘n Amerikaanse paspoort as aan ‘n Suid-Afrikaanse paspoort.

Amerika is boonop ‘n Federale staat. As die 51ste staat, hoef ons nie noodwendig heeltemal volgens hulle pype te dans nie. Ons sal dus ‘n sekere mate van onafhanklikheid behou. Hier is dalk waar die hele idee inmekaar duiwel. Sal ons dus nogsteeds met die huidige gemors van regering sit? Sal euwels soos BBBEE nog bestaansreg geniet?

Alles kom natuurlik met ‘n prys. In die geval ons integriteit (wat ons oor het), IK en logika? Dalk is ek net te snobisties vir my eie goed.

Wat dink julle?

Breinvasbrand: Wie het die huidige 50 ster vlag in 1958 op 17 jarige ouderdom ontwerp?

Breinlosbrand:  God is redding (volgens my inligting)





Spaar jou sente

14 07 2014

Sover as wat my kennis strek, is die boom waaraan geld groei nog nie ontdek nie.  Salarisse groei minimaal jaarliks.  Tussen die petrolprysverhogings, inflasie, ESKOM en die vervlakste tol, is ‘n verhoging net meer rede om jouself by ‘n swart put af te gooi.  Dan praat ons nie eers oor stakings wat jou dalk maande lank van ‘n inkomste kan beroof nie.

Punt is dat ‘n mens maar moet bespaar waar jy kan.  Daar is goed wat noodsaaklik is, goed wat volgens jou noodsaaklik is en luukses.  ‘n Mens moet maar fyn na jou definisie van noodsaaklik kyk en nodige aanpassings maak.  Dit is bloot die verantwoordelike ding om te doen.  Anders moet jy maar kreatief raak.  Of slim.  Of ‘n kombinasie van die twee.

Daar kan byvoorbeeld geredeneer word dat ‘n gim lidmaatskap ‘n luukse is.  Aftrede is ‘n luukse wat min kan bekostig, dus is ‘n kort lewensverwagting dalk eerder ‘n voordeel as ‘n nadeel.  Aan die ander kant, saam met jou gimkontrak kry jy gratis wifi, gratis rekenaar toegang en toegang tot die meeste Supersport kanale as dit jou ding is.  Jy spaar dus op internet gebruik en sateliet televisie.  Boonop kan jy by die gim stort.  Behalwe dat jy elektrisiteit en water spaar, spaar jy ook jou ore van ESKOM se gesanik.

Ek weet van mense wat al hulle toestelle by die werk gaan herlaai.  Werksvoordele kan seker verder gerek word.  Hoekom enigsins soggens by die huis koffie maak?  Jy kan verder elektrisiteit spaar om dit by die werk te doen.  Verder kan jy toiletpapier bespaar om al jou toiletbesoeke tot kantoor ure te beperk.

Die vraag kan seker gevra word of ‘n mens dan enigsins ‘n huis (met meubels, sekuriteit ens) benodig.  Dalk kan jy sommer in jou kar bly.  Dink net hoe bly jy ESKOM gaan maak.  Jou kar het dan ook ‘n dubbel doel en kan dan as ‘n uitgawe regverdig word.  As jy sommer by die werk (of gim) parkeer, gaan jy minimum petrol gebruik.  As jy 24 uur kan uithou, kan jy in elk geval nie van die perseel afgeskop word nie.  Trek aan die begin van ‘n langnaweek in.

In die somer (vir die Vaalpense) kan jy jou vuil klere in die reën hang en in die winter moet jy net seker maak jy stink nie.

Siende dat alles jou vet maak of gruwelik ongesond is, moet ‘n mens dan seker nie eet nie.  As jy nou opsluit daar die lyn wil trek, is dit seker ‘n goeie tyd om iewers ‘n tuin te begin of om jag as ‘n stokperdjie op te neem.  Jag met ‘n pyl en boog.  Jy kort geld vir ‘n geweer met of sonder ‘n lisensie.

Watter “af” metodes het jy om geld te spaar?

Breinvasbrand:  Watter nasionaliteit is bekend daarvoor om suinig te wees?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Clementine





Sharing is Caring ;-)

5 06 2013

As daar nou twee mense van die Bybel is met wie ek kan identifiseer, is dit Petrus en Thomas.  Ja, Ongelowige Thomas wat geweier het om te glo tot hy sy vinger in die spieswond kon druk.  Ek verstaan presies waar daardie denke vandaan kom.  Nie dat ek vanaand Bybelsake wil praat nie, kom ons volstaan maar dat ek nogal swaarsluk aan mense se slimstories.  Ek oorweeg alles, maar word eers met die nodige bewyse oortuig.  My bang hare het dalk uitgeval, maar my versigtiges sit nog pik.

Vreeslike lang aanloop, maar ek moet my lot vandag aan julle bekla.  Sien, gewoonlik dink ek dit is nogal ‘n goeie ding dat ek so katvoet is.  Toe Ayesha Gaddafi my ‘n paar weke terug geëpos het en vir hulp gesmeek het, het ek my daaraan afgevee.  Nie omdat ek daaruit genot put om ‘n ander hulp te weier nie.  ‘n Mens kan dit in elk geval seker nie hulp noem nie.  Sy het aangebied om enige iets wat sy met my samewerking sou kry met my te deel.

Die ongeluk is dat ek sommer summier (ironies genoeg sonder enige bewyse) aangeneem het dit is spam.  Ayesha het ‘n goeie vier kere vir my dieselfde epos gestuur.  Al wat sy gevra het is dat ek help om haar pa se fortuin in die hande te kry.  Dit is nou nie of Ayesha sommer net kan instap en haar erfporsie kan opëis nie.  Die CIA tel seker elke druppel wat sy piepie.  Ek hoef haar maar net toestemming te gegee het om my naam te gebruik.  En dan sou sy gedeel het: 50/50.

Toe vang slim sy baas.  Ek stuur elke een van haar desperate eposse reguit na Junk Mail.  Ek dog toe mos nog dit is spam.  Ek weet Gaddafi het geld gehad, soveel as die stofkorrels in sy land en meer as genoeg om te deel.  Hoekom sou Ayesha juis vir my gevra het om haar te help?  Sekerlik is daar iewers ‘n familievried of lojale bediende wat kan uithelp.

Die week kom ek toe mos effens te laat agter die kap van die byl.  Daar is meer as R10 miljard Gaddafi kontant, goud en diamante in Suid-Afrikaanse banke.  Sien, Ayesha het toe geweet wat sy doen.  Plaas het sy eerder net aan my deur kom klop.  Ek sou daarmee kon aftree het en alles kon doen wat ek in my wildste drome oor gedroom het.

As ek maar net op haar pleidooi gereageer het.  As ek nie summier goed sonder bewyse as spam gemerk het nie.  As ek maar net ‘n bietjie in die mensdom geglo het.

As . . . as is gebrande hout en ek het my kanse verbrou.

Nou wonder ek: het Ayesha een van julle dalk gekontak?  Ek sou jou help en ek vra net 10% van die totale wins.  Dit los jou nog met 40%.  4 keer meer as Suid-Afrika se begroting.  Moet nou nie suinig wees nie.

Breinvasbrand:  Wanneer is Muammar Gaddafi dood?

Breinlosbrand:  Olga was reg met ‘n teddiebeer.





Die Vegatariese Vyand

28 03 2013

Daar was ‘n tyd wat jy ‘n kind van die duiwel was as jy rondgeslaap, gesteel of gemoor het.  Vandag nog is die steel en moor ‘n goeie aanduiding of jy hemel of hel toe gaan.  Jy mag egter slaap saam met wie jy wil, wanneer jy wil en hoe jy wil.  Niemand mag waag om na jou vingers te wys nie, dit maak hulle dan satan se kloon.

Daar het egter ander goed gekom wat jou dadelik die duiwel se witbroodjie maak. Rook is deesdae een van die grootste sondes ooit.  Selfs die geleentheidsdrinker binne perke word deesdae as ‘n alkoholis beskou.  Bewaar jou siel as jy nie emosioneel afgepers genoeg voel om ‘n dier van ‘n skuiling af te neem nie.  Die mens hou seker daarvan om skuldig te voel en hulle het doodluiters die blaam gedra.  Daar was egter een sonde waaraan hulle nie wou erken nie.

Vleis!  Mense hou daarvan om op ‘n gereelde basis hulle tande in ‘n vleiserigheid te slaan.  Die vermaninge dat dit sleg vir jou hart, cholestrol en bloeddruk is, gaan maar by die een oor in en by die ander uit.  Almal weet tog dat jy proteiene moet inkry en dat vleis ‘n baie goeie bron van proteiene is.  Die wreedheid teenoor diere het ‘n paar mense na hulle harte laat gryp.  Nogtans het ‘n tjoppie op die kole hulle gou van die dilemma laat vergeet.  Vir die hardnekkiges, is slagpale verplig om die diere met so min as moontlik trauma te slag.

Toe begin iemand van ‘n koolstofspoor te praat en daar word die vleiseters weer blameer.  Die keer probeer hulle die vleiseters met ‘n kwas heuning oorhaal.  Sny dit net op ‘n Maandag uit en red die aarde?  Wie kan so ‘n kreet weerstaan?  Vleiseters natuurlik.  Buitendien, danksy vleiseters het diere soos beeste, skape, varke en hoenders ‘n kans op lewe.  Was dit nie vir vleiseters nie, was daar geen mark vir hulle nie en geen rede vir hulle bestaan nie.

‘n Ander strategie was benodig.  Iets om mense finaal van vleis af te sit.  Vleiseters is redelik kieskeurig met wat hulle eet.  Natuurlik wil hulle nie donkies, perde of kangaroos eet nie.  Almal het hulle standaarde.  Nadat die aanvanklike gruwel verflou het, het hulle tog onthou dat vleis koning is.  Niemand is dood van perd, donkies, kangaroos of enige ander diere nie.  Wat die oog nie sien nie, het die hart nie seer gemaak nie.  Mens kan wegkyk en bid om te vergeet (dalk met ‘n bietjie alkohol waaroor mens nou minder skuldig voel).

Tog het die vegatariërs ‘n troefkaart gehou.  Vleis is vleis, maar mensvleis neig na kannabalisme.  En daar is mensweefsel in vleisprodukte gekry.  Skielik verloor vleis hulle roepkrag.  Toegegee, daar is mense wat meer van nut gaan wees op ‘n ander se bord, maar darem nie as jy dit moet eet nie.  Al reken die kenners dit is nie gevaarlik nie, is en bly dit mensvleis.

Gelukkig beinvloed dit net maalvleis.  En wors.  Steak en tjops is nog pure bees, nie waar nie?  As ons oumas en oupas kon wors maak, kan ons seker ook.  Dan weet ons wat daar in is.

Skielik klink vleisproduksie vir eie gewin na die beste idee ooit.