Leer-Leer onder ‘n boom

28 01 2015

O die skande! Oopgevlek deur ‘n joernalis wat saggies om ‘n hoek sluip om die skuldiges op heterdaad te betrap. Sy sien haar kans en slaan toe. Daar is geen wegkomkans nie. Die onderwyseres is op heterdaad betrap. Nee, nee – sy het nie haar klas geleer om te paaldans nie. Sy het hulle nie toegelaat om in ‘n seksorgie deel te neem nie. Nee, haar sonde is veel erger! Sy het klas gegee onder ‘n boom! (‘n Insetsel op die Afrikaanse Nuus op SABC 2 op 27 Januarie 2015).

Die manier waarop die berig aangebied is, het my sommer dwars in die krop gesteek. Wat staan ‘n skool te doen as daar nie genoeg klaskamers is vir al die leerlinge nie? Dit is elke skool se plig om die beste te doen met die hulpbronne met hulle beskikking. As die hulpbronne nie daar is nie en daar is nie fondse nie, dan moet hulle maar sien kom klaar.

Weet julle wat ek gesien het toe die joernalis om die hoek gekruip het? ‘n Klas vol kinders wat besig is om te leer. Daar is nie op ‘n hopie gesit en geween oor die gebrek van infrakstruktuur nie. Nee, daar is ‘n plan gemaak en die kinders het onderrig ontvang. Daar het nie chaos geheers (voordat die SABC hulle onderbreek het nie) en dit het vir my gelyk of die juffrou hulle aandag gevange gehou het. Sy het dus haar salaris verdien.

Om skool te gaan onder die bome is tog niks nuuts of selfs vreemd nie. ‘n Onderwyser het my eendag vertel hoe sy nie haar eie klaskamer in die 80’s gehad het nie. Sy moes met haar leerlinge ‘n oop klas gaan soek het. Wanneer sy die dag nie ‘n oop klas gekry het nie of te lui was om een te gaan soek, het sy haar klas onder die bome aangebied. En ja, ons praat van ‘n blanke skool hier.

Ek het self ook al ‘n paar keer klas onder ‘n boom gehad. As daar byvoorbeeld ‘n steurnis in die betrokke klas was of selfs sommer net omdat dit ‘n lekker dag was. Ons sou nie eers gedink het om te kla nie.

Ek besef die verskil is dat die kinders op die nuus nie die opsie van ‘n klaskamer het nie. Hulle moet elke dag in die wind en weer sit om iets in hulle koppe te kry. Ek het opgelet dat hulle op stoele gesit het (wat party van die maatjies in die klasse nie gehad het nie). Ons het sommer gewoonlik plat op die gras gesit.

Skool onder die bome en in skeepshouers is beslis nie ideaal nie, maar dit is beslis ook nie die ergste nie. Dit is wat die Boere destyds na die Vryheidsoorloë moes doen. Dit is wat vandag nog die enigste opsie in die party derde wêreld en oorlogsgeteisterde lande is. Die belangrikste is WAT geleer word en nie WAAR geleer word nie.

Ek dink die hoof en die personeel verdien ‘n staande applous dat hulle dit laat werk. Die skool verdien beslis ordentlike klaskamers en die nodige meubels. Juis omdat hulle nie net hande in die lug gegooi het en “kannie” gepleit het nie.

Noudie dag was daar op Highveld 94.7 ‘n interessante vraag gevra. Deesdae is daar elke tweede dag ‘n nuwe privaat skool. Hoekom is daar nooit nuwe staatsskole nie?

Wat dink julle?

Breinvasbrand: Die Rhodes beurs is vir nagraadse studie by watter universiteit?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Primrose





Goeie huis

3 06 2013

Ek kry noudie dag die BBM:  “Weet jy van iemand wat ‘n blinde, gestremde seun ‘n huis voor sal gee?”  My eerste gedagte was: “Flippen hel, is die kind dan nou ‘n hondjie?”

Almal het dit al teëgekom.  Sannie se kat het 4 kleintjies wat almal nou vir goeie huise soek of Pietie gaan trek en daar is nie plek vir sy geliefde boerboel nie.  Nou soek Pietie vir iemand wat sy Knersus sal inneem en baie goed sal versorg.  Sannie en Pietjie is altwee goeie mense en hulle soek regtig baie hard vir ‘n plek waar hulle dierevriende veilig, gelukkig en welkom sal wees.

Die Seuna het nie die luukse nie.  Sy ma sien doodeenvoudig nie kans om na ‘n ernstige gestremde seuntjie om te sien nie.  Sy het hom soos verlede week se koerant weggegooi.  Net vir hom, nie sy SASSA kaart wat hom toekom nie.  Dit kan sy baie beter benut as hy nie in die omtrek is nie.  Ek durf seker nie my mening gee van haar as moeder nie, maar die SASSA kaart storie ruik sterk na bedrog.

Nou hang dit van ‘n vreemde vrou, wat die familie nie eers ken nie, om vir die seun ‘n veilige huis te soek.  Die engel het self ‘n gestremde kind om na omtesien.  Die mense waar hy nou is, het blykbaar nie die hulpbronne om hom behoorlik te versorg nie.  Die hoop beskaam egter nie dat daar iemand sal wees wat hom in liefde sal kan inneem nie.

Ek verstaan dat ‘n kind ‘n ontsettende groot verantwoordelikheid is.  ‘n Kind met spesiale behoeftes nog meer so.  Tog behoort dit nooit nodig te wees om vir ‘n mense maaksel ‘n huis te soek nie.  Die ironie het my egter nie ontgaan nie.

Sien, hemel en aarde word altyd beweeg om ‘n erg getraumatiseerde dier ‘n goeie huis te gee.  As die Seuna ‘n hond was, het die diereregte organisasies vir hom ingespring, sy lot in elke koerant bekla en 10 000 mense gekry wat sou baklei om vir hom ‘n huis te gee.  Waar is daardie genade waar dit die mens aangaan?  Hoekom word daar nooit so fel geëis vir barmhartigheid waar dit mense aangaan nie.  Hoekom is daar om elke hoek en draai organisasies wat diere ‘n vesting bied, maar die vir mense word weggesteek?

Op die ou einde kan so ‘n dier uitgesit word as dit nodig is.  ‘n Erg gestremde kind kan nie.  Tog is daar baie min aktiviste wat vir sulke kinders (sulke grootmense en sulke ou mense ook, om nie eers te praat van gewone mense nie) vir genade gaan soek.

En dit voel verkeerd.  As Langehoven vandag gelewe het, sou hy geen nut aan ‘n gedig van “Ag wat, dis maar ‘n hond nie” gehad het nie.  Dit is seker maar vandag “Ag wat, dit is dan nie ‘n hond nie”.

So vandag lig ek my hoed vir mense wat die stryd saam met erg gestremdes stry, mense wat oorneem waar ander nie meer kans gesien het nie en mense wat nog genade het vir die wat dit die nodigste het.  Hulle word te min onthou.

Breinvasbrand:  Wat is Avril Elizabeth Home se mascot?

Breinlosbrand:  Girl interupted.





Desperaat of Dapper

14 05 2013

As daar nou een ding is wat die Herriemerrie kan waardeer, is dit ‘n goeie geveg.  Ek kan seker ‘n boek skryf van al die vereistes waaraan ‘n goeie geveg moet voldoen.  Ek het bewondering vir iemand wat die durf het om teen die ondeurdringbare op te staan.  Hy of sy hoef nie eers te wen nie, die blote feit dat hulle tot die geveg toetree maak reeds ‘n impak.  Sou hy of sy as oorwinnaar uittree, maak dit my sommer liries.  Ek haal enige dag my hoed vir iemand af wat nie gaan lê nie – seker omdat ek self te dom is om op te gee.

Vandag het die wêreld gegons oor Angelina Jolie se voorkomende masektomie.  Jolie se ma is op 56 jaar weens borskanker dood.  Jolie het gevrees dat sy een of ander tyd in haar ma se voetspore gaan volg.  Waar gewone siele maar getrou voel vir knoppe, het sy gaan seker maak of sy die gevaarlike geen geërf het.  Haar vrese is bewaarheid, sy is ‘n draer van die BRCA1 geen.  Daarmee saam het sy ‘n 87 % kans gehad om borskanker en ‘n 50% kans vir eierstokkanker.  Nie juis goeie vooruitsigte nie.  Dit is amper nie eers ‘n kwessie of sy gaan borskanker kry nie, maar wanneer.

Jolie was egter nie van die soort wat gaan oë toeknyp en wag vir die beste nie.  Sy het ‘n masektomie vanjaar ondergaan om die skaal in haar guns te draai.  Nadat haar borste verwyder is, het sy nou minder as 5% kans om borskanker te ontwikkel.  In Amerika word 12.4 % van alle vroue getref deur borskanker – Jolie se kanse is dus onder die gemiddeld.  Die operasies het in die geheim geskiet, maar Jolie het dit self aan die wêreld verkondig nadat die proses afgehandel is.  Dit was haar besluit en dit was op haar terme gedoen.

Die aanvanklike nuusdraers het Angelina Jolie geloof vir haar dapperheid.  Tog het die gewone sterflinge dadelik gedink dat sy mal is.  Soos gewoonlik was ek ‘n draadsitter.

Aan die een kant voel dit verkeerd om iets wat niks makeer te laat verwyder.  Alle operasies is aan risiko’s verbonde.  Sou sy gereelde ondersoeke ondergaan, sou die kanker betyds opgetel geword het.  Sy sou dalk in elk geval nie ‘n kankerslagoffer geword het of daaraan gesterf het nie.

Tog, daar is net mooi niks romanties in die stryd teen kanker nie.  As jy dit kan vermy, hoekom nie?  Voorkoming was nog altyd beter as genesing.  Maar tot watter punt?  Mens kan nie alles laat uitsny wat jou moontlik in die toekoms ‘n kanker slagoffer gaan laat word nie.  Iewers moet daar ‘n lyn wees?  Nogtans is 87% seker ver oor daardie lyn.

Kanker het al baie mense baie desperate dinge laat doen.  Hoekom eers wag vir ‘n diagnose, as ‘n desperate optrede borskanker kan verhoed?

Daar is tog iets soos hoop?  Tog is daar niks verkeerd daarmee om hoop te verstewig nie?

Was Angelina Jolie se masektomie desperaat of dapper?

Dit maak seker nie saak wat mens dit noem nie.  Sy het opgestaan teen haar eie gene (volgens haar) ter wille van haar kinders.  Dit is ‘n geveg waarvoor ek my hoed sal lig.  ‘n Geveg wat ek hoop sy as oorwinnaar sal uittree.

Breinvasbrand:  Vir watter fliek het Angelina Jolie ‘n Oscar vir beste ondersteundende aktrise gekry?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Gill Marcus





Laaste Nuus

27 11 2012

7 uur nuus is amper ‘n instelling.  So deel van ‘n mens se lewe as tandeborsel voor jy gaan slaap en piepie wanneer jy wakker word.  Iets wat gedoen word – outomaties en sonder om regtig daaroor te dink.  Dit is amper net.

Niemand beplan om die nuus te kyk nie.  As jy toevallig daardie tyd by die huis is, is die TV aan.  Indien nie – wel, daar is die internet, radio en koerante om seker te maak jy mis nie iets nie.  As daar iets is wat jou belangstelling prikkel, maak jy wel ‘n plan.  Nogtans was dit waarskynlik die internet, sosiale media, radio of ‘n koerant wat die saadjie geplant het.  Dit is nogtans ‘n kort termyn beplanning – ironies genoeg om iets te sien wat jy reeds weet.

26 November 2012 sal seker altyd die uitsondering bly.  Ek het sedert 2 November 2012 al beplan om die 19:00 Afrikaanse Nuus op SABC 2 te kyk.  Die laaste nuus uitsending wat Riaan Cruywagen aangebied het.  Ek moes self ‘n afspraak skuif om seker te maak ek is betyds voor die kassie.  Nuus met Oom Riaan is ‘n tradisie en ek sal van my kop af wees om die einde van ‘n instelling te mis.

 

 

 

 

 

 





Province!!!!

27 10 2012

Ek moet erken dat rugby die jaar my so bietjie gemis het.  Ek het wel verneem dat dit Province teen die Haaie in die Curriebeker Finaal is.  Natuurlik was daar ‘n vlammetjie van hoop, maar ja.  Province het hoeveel keer bewys dat dit niks is om die finaal te bereik nie, maar helaas, dan kry hulle verhoogvrees.  Na ‘n dekade van hoop het ek al begin dink ek jinx die Strepies manne.  Lyk my die aanname was nie verkeerd nie.

Die jaar het ek besluit om ‘n stille ondersteuner te wees, ek sal immers altyd ‘n WP aanhanger wees.  Toevallig is daar tans soveel wat my aandag vereis, dat ek nooit by rugby uitgekom het nie.  Ek het nie eers geweet dit is vandag die finaal nie – wel, tot ‘n mede Province bittereinder my jubelend ingelig het dat die 11 jaar droogte verbreek is.  Die Curriebeker gaan huis toe – in die Kaap van Storms waar dit hoort.

Knap gedaan, Ouens.  Hoop julle raak verslaaf aan wen.





Gee die duiwel wat hom / haar toekom

13 08 2012

Wanneer ‘n mens met staatsdepartamente te doen het, verwag ‘n mens nie veel nie.  Ek jok nou blatant – mens verwag lang toue, bedompige, donker vertrekke en reuke wat ‘n mens eerder sal wil vermy.  Jy verwag eindelose frustrasies en mense wat geen idee het wat om te doen nie.  Jy verwag die slegste – punt.

Toegegee, dit is nie net in Suid-Afrika wat die landsburgers nie juis simpatie met die staatsdienswerkers het nie.  Buitendien, daar is baie staatsdepartamente wat ‘n mens eerder nie nugter moet aandurf nie.  Dit is nie net tipies staatsdiens nie, dit is sommer net verby pateties.  Tog, is daar departamente wat tog hulle gang gaan en boonop effektief is.  So tussen die Onderwysskandale, die gemors van die paaie en die toestand van die hospitale is dit net soms bitter moeilik om dit raak te sien.  

Ek moet erken dat ek nog nooit regtig ‘n krisis met Binnelandse Sake gehad het nie.  Dit beteken nie dat ek op en af gespring het toe ek vir ‘n paspoort moes aansoek doen nie.  Dit is en bly ‘n pyn in die agterent en ek was nie lus vir oë toeknyp, wag vir die ergste en bid vir die beste nie.    Almal by wie ek my lot bekla het, het getroos dat dit net 2 weke gaan vat.  Klink pragtig, so pragtig soos ‘n feëverhaal.  Ek het my tyd goed gekies en die nodige administrasie gaan doen.  Hopende vir ‘n wonderwerk het ek die klerk gevra hoe lank ek daarvoor moet wag.  5 – 7 weke was haar antwoord terwyl sy haar epos adres neerskryf dat ek my ID vir haar kan epos. 

Twee weke later kry ek die sms dat ek my paspoort kan gaan haal.  Verby is die dae wat jy moes 6 weke aftel en dan weer in ‘n tou moet gaan val om te hoor of jou boekie gekom het.  Verby is die dae wat jy na 6 weke moes bel om te hoor of iemand hulle al verwerdig het om na jou aansoek te kyk.  Verby is die dae wat jy die posbus verniet moet dophou terwyl jy vir jou boekies wag.  En wragtig, my paspoort was gereed. 

‘n Tipiese geval van: “Under promise and over deliver.” Die publiek verwag deesdae ‘n paspoort binne twee weke en hulle KRY dit binne twee weke.  Dit is knap gedaan. 

Dit laat my wonder oor wat verander het.  Dalk Nkosazana Dlamini Zuma wat in die departament koningin gekraai het?  Niemand het ooghare vir haar gehad in haar dae van gesondheid nie.  Daar was nie veel verwagtinge toe sy Buitelandse Sake oorgeneem het nie en nog minder toe sy Binnelandse Sake oorgeneem het nie.   Volgens die publiek was die departament in chaos en kon dit nie erger nie.  Niemand het verwag dat dit sal verbeter nie. 

Soos ek verstaan het Dlamini Zuma gereeld by die kantore ingeval en sommer self skouer aan die wiel gesit.  Blykbaar het dit gewerk.  En wie weet?  Miskien motiveer dit die departamente van onderwys en gesondheid ook.

Breinvasbrand:   Van watter organisasie is Dlamini Zuma in 2012 as die voorsitter aangewys?

Breinlosbrand:  Olga was reg met DJ Opperman. 





Vroue in Koue

8 08 2012

Ek wonder partykeer wat het die mense wat die vakansiedae bepaal gedink toe hulle die nuwe Vakansiedae gedoop het.  Vrouedag as ‘n voorbeeld.  Dit word op 9 Augustus herdenk oor die optog wat duisende vroue teen die paswet gehou het.  Maar om dit vrouedag te doen, gee ‘n mens die vryheid om enige waarde daaraan toe te ken.  Mits jy natuurlik vroue daarmee vier. 

So is ons nou op die vooraand van Vrouedag, ‘n dag nadat dit die eerste keer sedert die 60’s in Pretoria gesneeu het.  Dit is nie eers nodig vir my om daaroor te dink nie.  Daar is twee heldinne wat ek vandag wil vier en ek dink beide is baie verdienstelik. 

As ek aan helde dink, is die eerste naam wat in my kop kom, Racheltjie de Beer.  Tydens die Groot Trek, in 1843, het die De Beers se kalfie, Frikkie weggeraak.  Daar was ‘n soek geselskap uitgestuur en die De Beer kinders het gehelp soek.  Rachel en haar boetie het toe van die groep weggedwaal.  Toe Rachel agterkom hulle het verdwaal, het sy ‘n aardvarkgat vir haar boetie gekry.  Sy het al haar klere vir haar boetie aangetrek en hom in die uitgeholde miershoop laat lê.  Daarna het sy die bek van die gat met haar eie liggaam bedek.  Hulle is die volgende dag gekry en Rachel se selfopoffering was nie te vergeefs nie.  Sy het haar lewe gegee om die van haar boetie te red. 

Ek verstaan daar is baie mense wat die geskiedenis van die storie bevraagteken.  Eerlik, ek kan die meriete van die argument insien.  Ek dink nie dit maak juis saak of dit op die waarheid gebaseer of uit iemand se duim gesuig is nie.  Die is ‘n Afrikaner helde storie wat ek wel eendag met my kinders sal deel. 

Die tweede dame op wie ek vandag wil fokus, is Klara Majola.  Ek ken die storie van Klara Majola waarskynlik al net so lank as die een van Rachel de Beer.  Ons het haar beslis meer as een keer op die skoolbanke ontmoet.  In storie tyd, geskiedenis en Afrikaans – laasgenoemde was natuurlik in gedig vorm. 

KLARA MAJOLA

Klara Majola wou haar vader
toe die skemer sak, gaan haal
waar hy, die blinde, hout vergader;
maar Klara Majola het verdwaal.

Klein Klara Majola lê verkluim
in die Bokkeveld se bros kapok,
haar arms en bene bruin
en kromgetrek soos wingerdstok.

Klara Majola, die koue geweld
sif stadiger oor my uit die ruim,
maar nooit sal ek in die Bokkeveld
so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.

Klara se pa was blind, maar kon darem na die kinders kyk terwyl sy vrou in 1950 gaan werk het.  Die spesifieke dag het hy gaan hout soek vir die vuur en Klara het saam met die jonger kinders by die huis gebly.  Teen die tyd wat haar ma by die huis gekom het, was haar pa nog nie terug nie.  Klara het hom toe gaan soek.  Haar ma het later bekommerd geraak en werkers gevra om na hulle te gaan soek.  Hulle roepe is deur die pa gehoor, maar nie deur Klara nie.  Sy is die volgende dag dood gekry.  Volgens ‘n berig van die dag het sy vermoedelik op nat klippe gegly en was sy te koud om weer regop te kom. 

Nog ‘n heldin wat haarself opgeoffer het om iemand te gaan red.  Kan julle egter glo?  Ek het vandag eers besef dat Klara nie ‘n blanke meisie was nie.  Sy was al die jare net as ‘n heldin – wat sy was – vir my voorgehou. 

Dit laat my wonder, maar vir vandag vier ek net die heldinne – vroue van die koue. 

Breinvasbrand:  Wie het die gedig van Klara Majola geskryf? 

Breinlosbrand:  Little Black Dress





Missy Paige

6 08 2012

Verlede week was nogal ‘n goeie week vir Suid-Afrikaanse swem gewees.  Cameron van der Burgh en Chad le Clos is twee name wat nie sommer vergeet gaan word nie.  Roland Schoeman ook nie – kyk, as daar die dag wat daar ‘n Olimpiese item vir whine (is die Afrikaans daarvoor neul?) is, gaan hy loshande goud, silwer en brons vat.  Maar dit tersyde. 

Vrydagaand sien ek toe dat Chad le Clos veronderstel is om net na Noot vir Noot te swem.  Ek moet tog seker ten minste een Olimpiese item kyk en siende dat ek in elk geval niks beters het om te doen nie, besluit ek maar om vir Chad te kyk.  Almal praat van daardie 0.05 sekondes waarmee hy goud voor Michael Phleps se neus weggesteel het.  Dit is weer hy teen Phleps en enige iets kan weer gebeur.  Tipies, sweer die uitsaaiers weer saam en toe hulle oorskakel, is dit beslis nie die mans vlinderslag item op die skerm nie. 

Dit is eers een of ander vroueswem item – ek het nie juis opgelet wat nie.  Swem is swem in my boekies.  Ek het maar so met ‘n halwe oog gekyk en gesien dat die poppie van Amerika gewen het.  Siende dat geen Suid-Afrikaner gewen het nie, was dit vir my maar om ewe wie wen.  Toe hoor ek iets wat my dadelik ‘n aanhanger van ‘n Amerikaanse swemmer gemaak het. 

Haar naam is Missy Franklin.  ‘n 17 jarige Amerikaner van Denver wat pas haar tweede goue medalje in haar eerste Olimpiese spele ingepalm het.  As ‘n amateur! 

In vandag se sportmal wêreld is amateursport – wel, net vir drawwers en fietsryers bedoel.  Die meeste sportgeesdriftiges is met ‘n drankie in die hand voor elke sport uitsending voor die TV.  Dit help hulle nou nie juis om na sport geesdriftiges te lyk nie.  As jy naam wil maak in sport, doen jy sport vir ‘n lewe. 

Mej Franklin het daardie idee ‘n bietjie nek omgedraai.  Sy is nog steeds by dieselfde afrigter as wat sy as ‘n 7 jarige gehad het.  Sy gaan selfs nog skool en is beplan om na skool te gaan swot.  Sy bedank egter alle prysgelde en borgskappe om te verseker dat sy ‘n amateur bly. 

Missy het ook moed, iets wat ek in enige mens kan waardeer.  Haar ouers is Kanadese en Missy het dubbele burgerskap.  Toe dit begin blyk het dat sy dalk Olimpiese drome kan droom, wou haar ouers hê dat sy vir Kanada swem.  Juis omdat dit daar makliker sal wees om die swemspan te haal.  Sy het egter besluit dat sy in haar hart ‘n Amerikaner is en sy sal vir Amerika swem of glad nie. 

Dan gaan wen sy boonop nonchalant 2 individuele goue medaljes.  Dit sit nie in enige een se broek nie, of jy nou nommer 13 voete het of nie. 

Wow!

Breinvasbrand:  Watter jaar het Penny Heyns twee goue Olimpiese medaljes gewen?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Roseanne Bar

(Verskoon die posts wat Vrydag in die slag gebly het.  Eers het my internet nie gewerk nie en toe het ek nie gewerk nie).





Prettige Resies

24 07 2012

Nonchalantheid.  Ongeërgdheid dalk.  Ek is nie heeltemal seker watter woord die mees toepaslike is nie.  Ek praat van mense wat buitegewone dinge na kinderspeletjies laat lyk.  Mense wat iets moeilik na pret laat lyk.  Soos Michelle Jenneke in die video hieronder.

Danksy 12 jaar (eintlik 13 jaar) se gedwonge atletiek bywone weet ek dat daar gewoonlik nie tyd vir grappies op die wegspringstreep is nie.  Selfs nie eers onder die wat vir spangees hardloop nie – waarskynlik omdat hulle teen daardie tyd wonder wat hulle besiel het.  Die meer ernstige atleet is gewoonlik op die wenpaal gefokus. 

Dit is dus nogal verfrissend om die video te sien.  Michelle Jenneke wat haar opwarming heel danserig aanpak en duidelik  geniet.  Die ander lyk so asof hulle sal bars as hulle aan die pret deelneem.  Jenneke lyk egter soos iemand wat niks het om te verloor nie.  Dan gaan sy nog voort om die resies te wen. 

Ek dink as alle atlete ooglopend soveel pret het as hulle deelneem, sal ek dalk die bohaai oor atletiek kan verstaan. 

Ek wonder partykere of lag sonde is.  Daar word van almal verwag om hulle dagtaak ernstig aan te pak en te sweet vir hulle prestasies.  Dit is seker hoekom ek dit soveel geniet as iemand die moeilike / onmoontlike na niks laat lyk nie.  Dit is nie net om te kan loop sonder dat jou voete grond raak nie, maar om dit met ‘n wip in jou stap en ‘n glimlag op jou gesig te doen.  Dit maak dit nie net vir jou lekker nie, maar ook vir die mense wat dit kan aanskou. 

Het jy bewondering vir mense wat pret met hulle werk het?  Wat van ander mense se werksgedrag (insluitende stokperdjies en sport) waardeer jy?  Geniet jy jou werk, stokperdjies of sport? 

Breinvasbrand:  Van watter land is Michelle Jenneke?

Breinlosbrand:   Regulation of Interception of Communication and Provision of Communication-Related Information Act No. 70 of 2002





Die spook van die Operahuis

2 03 2012

Elke diertjie het ‘n plesiertjie.  Goed, party diertjies (soos die uwe) is vraatsig en het meer as net een plesiertjies.  Een van my vele plesiertjies, is musiek blyspele of sommer musicals.  Ek het nogal ‘n aansienlike klompie op my DVD rak en my rubber arm wat moeiteloos gedraai om een op die verhoog te gaan kyk.  Daar is seker ‘n paar terme en voorwaardes, maar ek sal geredelik ‘n produksie ‘n kans gee. 

Die eerste keer wat ek van Phantom of the Opera gehoor het, was ek in St 5.  Ons was in die Wiskunde klas vertel dat dit ‘n ding van satan is.  Nie juis dat ek geinteresseerd was nie.  Spoke het my nog nooit aangestaan nie en opera was ‘n spul vet tannies wat gesing het in ‘n taal wat ek nie verstaan of van hou nie.  Hoekom sal ek dit wil luister of selfs kyk.  Persoonlik het ek beter dinge gehad om te doen. 

Ek het natuurlik ouer geword en daarmee saam ‘n gesonde streep van beproef dit self ontwikkel.  Nou nie so dat ek staatsteater toe gehol het toe Phantom ‘n paar jaar terug daar gewys het nie.  Ek het nie ‘n behoefte gehad om dit te kyk nie (spoke wat opera sing?) en om eerlik te wees was die kaartjiepryse van ‘n opvoering ‘n skrikwekkende gedagte.  Alhoewel, almal wat dit gaan kyk het, was in ekstase.  André Schwartz se vertolking het mense in vervoering gehad.  En ek praat nou nie van diegene wat dink dat almal wat Afrikaans probeer sing geskenke uit die hemel is nie. 

Intussen het ek iewers die lied gehoor en baie daarvan gehou.  Die fliek het kort daarna begin draai en ek het dit gaan kyk.  Ek het ‘n bejaarde dame saam met my gehad die dag.  Sy het gedink dat ek dit te swaar sal vind en haat, maar ek het dit inderwaarheid geniet. 

Verlede jaar het ek verneem dat die Phantom na die Teatro kom.  Die kersie op die koek was dat André Schwartz weer die masker sou dra.  Daar was nie juis iets om te oorweeg nie, ek sou dit met my eie oë moes gaan kyk het.  Ongelukkig moes Schwartz onttrek, maar siende dat elke Phantom deur Andrew Lloyd Webber self gekies word, kon Jonathan Roxmouth nie sleg wees nie. 

Gister was toe die aand waarna ek al maande uitgesien het.  Die dekor het my laat besef dat ‘n verhoog produksie nie een aks vir ‘n fliek hoef terug te staan nie.  Dit was betowerend, moes wees om my in vervoering te kry.  Aanvanklik was die spel okay.  Niks om te kritiseer nie, maar ook niks om oor liries te raak nie.  Die Phantom of the Opera stuk was nice, maar nie briljant nie.  Nie juis iets om oor huis toe te skryf nie. 

Maar toe kom die finale.  Die Phantom wat Christine na sy blyplek toe sleep – kwaad en vol verbittering.  Amper koorsagtig.  Ek en elke ander asem in die saal was in vervoering.  Ek dink amper nie dat ek asem gehaal het in die hele toneel nie.  Hoendervleis kwaliteit.  Briljant!!!  Dit het die dawerende applous aan die einde verdien.  Beslis beter as die fliek. 

Daar is baie te sê oor ‘n sterk einde.  Dit kan selfs ‘n okayerige begin uitdoof en dit ‘n fantastiese opvoering maak.  Jonathan Roxmouth was briljant – beslis nie tweede beste nie.  Ek kan nie wag om vir Schwartz eendag in die masker te sien nie. 

Het jy Phantom gekyk?  Watter blyspel het jy al baie geniet op die verhoog?

Breinvasbrand:  Met wie was Andrew Lloyd Webber getroud toe hy Phantom gekomponeer het?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Bradford Hill.  Ek het Richard Doll in gedagte gehad, maar hy was saam met Hill.