Leer-Leer onder ‘n boom

28 01 2015

O die skande! Oopgevlek deur ‘n joernalis wat saggies om ‘n hoek sluip om die skuldiges op heterdaad te betrap. Sy sien haar kans en slaan toe. Daar is geen wegkomkans nie. Die onderwyseres is op heterdaad betrap. Nee, nee – sy het nie haar klas geleer om te paaldans nie. Sy het hulle nie toegelaat om in ‘n seksorgie deel te neem nie. Nee, haar sonde is veel erger! Sy het klas gegee onder ‘n boom! (‘n Insetsel op die Afrikaanse Nuus op SABC 2 op 27 Januarie 2015).

Die manier waarop die berig aangebied is, het my sommer dwars in die krop gesteek. Wat staan ‘n skool te doen as daar nie genoeg klaskamers is vir al die leerlinge nie? Dit is elke skool se plig om die beste te doen met die hulpbronne met hulle beskikking. As die hulpbronne nie daar is nie en daar is nie fondse nie, dan moet hulle maar sien kom klaar.

Weet julle wat ek gesien het toe die joernalis om die hoek gekruip het? ‘n Klas vol kinders wat besig is om te leer. Daar is nie op ‘n hopie gesit en geween oor die gebrek van infrakstruktuur nie. Nee, daar is ‘n plan gemaak en die kinders het onderrig ontvang. Daar het nie chaos geheers (voordat die SABC hulle onderbreek het nie) en dit het vir my gelyk of die juffrou hulle aandag gevange gehou het. Sy het dus haar salaris verdien.

Om skool te gaan onder die bome is tog niks nuuts of selfs vreemd nie. ‘n Onderwyser het my eendag vertel hoe sy nie haar eie klaskamer in die 80’s gehad het nie. Sy moes met haar leerlinge ‘n oop klas gaan soek het. Wanneer sy die dag nie ‘n oop klas gekry het nie of te lui was om een te gaan soek, het sy haar klas onder die bome aangebied. En ja, ons praat van ‘n blanke skool hier.

Ek het self ook al ‘n paar keer klas onder ‘n boom gehad. As daar byvoorbeeld ‘n steurnis in die betrokke klas was of selfs sommer net omdat dit ‘n lekker dag was. Ons sou nie eers gedink het om te kla nie.

Ek besef die verskil is dat die kinders op die nuus nie die opsie van ‘n klaskamer het nie. Hulle moet elke dag in die wind en weer sit om iets in hulle koppe te kry. Ek het opgelet dat hulle op stoele gesit het (wat party van die maatjies in die klasse nie gehad het nie). Ons het sommer gewoonlik plat op die gras gesit.

Skool onder die bome en in skeepshouers is beslis nie ideaal nie, maar dit is beslis ook nie die ergste nie. Dit is wat die Boere destyds na die Vryheidsoorloë moes doen. Dit is wat vandag nog die enigste opsie in die party derde wêreld en oorlogsgeteisterde lande is. Die belangrikste is WAT geleer word en nie WAAR geleer word nie.

Ek dink die hoof en die personeel verdien ‘n staande applous dat hulle dit laat werk. Die skool verdien beslis ordentlike klaskamers en die nodige meubels. Juis omdat hulle nie net hande in die lug gegooi het en “kannie” gepleit het nie.

Noudie dag was daar op Highveld 94.7 ‘n interessante vraag gevra. Deesdae is daar elke tweede dag ‘n nuwe privaat skool. Hoekom is daar nooit nuwe staatsskole nie?

Wat dink julle?

Breinvasbrand: Die Rhodes beurs is vir nagraadse studie by watter universiteit?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Primrose


Aksies

Information

18 responses

28 01 2015
rondomtaliedraai

Ek is maar skepties:
1. Dalk is die ding onder die boom gestage?
2. Vir elke skool waar dinge goed funskioneer is daar skole waar daar vir weke lank niks aangaan nie. Die kinders speel die dag om en van onderrig is daar min of geen sprake.
3. Staatskole is net ‘n belofte en ‘n droom … die meeste departemente is gewoon onbevoeg. As jy die stapels kos sien by vergaderings waar bhesmtes lesings uit boeke voorlees sal jy weet waar die geld heengaan. Klasse word volgestop. I(n my dorp sou daar 5 nuwe skole kom … daar is nog nie een met ‘n fondasie nie.

29 01 2015
Xena Phoenix

Skeptisme is altyd ‘n goeie ding. Ek dink egter die ongemak van die skoolhoof en onderwysers met die joernaliste is eg.

Ek is dit eens met jou oor die skole waar die onderwysers in die son sit en mekaar se hare vleg. Dan is mense verbaas oor skole met ‘n 0% slaagsyfer. Dit is juis hoekom ek skole wat wel probeer kan waardeer. Ek verstaan skool inspekteure bestaan nie meer nie. Wat nogal ‘n jammerte is.

Die dag wanneer daar ‘n nuwe staatsskool gebou gaan word, gaan dit seker ook ‘n privaatskool wees. Die staat is juis so lief daarvoor om belastinggeld te gryp en die belastingbetalers te gebruik om vir die nuwe iets te betaal.

29 01 2015
rondomtaliedraai

Ja jy is heeltemal reg.

Hehehehe die hare vleg ding laat my onthou ons het ‘n juffrou gehad wat heeldag gesit het terwyl ‘n kind haar skouers vryf. Dit het my altyd die wit waks uit my geirriteer… maar nouja!

28 01 2015
Olga

Eerste. Wou amper sê Rhodes Universiteit, Maar dis te maklik. Oxford?
Havard?

28 01 2015
Olga

Tweede. Skuus.

28 01 2015
Olga

Wie het hulle vorige klaskamer afgebrand? Beslis nie ons nie. As hulle kan skole brand en boeke brand, sluip geen joernaliste rond om hulle af te neem nie. Voorts, WHOOP WHOOP vir die onderwyser en kinders. Grieters, as hulle nie alles fokken brand nie, sal daar genoeg wees met ruimte vir nog.

29 01 2015
Xena Phoenix

Ek sal nou nie weet of die klaskamers afgebrand het nie. Soos ek die storie verstaan het, was daar nog nooit klaskamers gewees nie. Die res van die skool is in skeepshouers.

29 01 2015
Olga

Where there is a will… ne. Nie soos ons kinders wie “home schooling” kry om hulle teen di invloede te beskerm en eendag seker gelukkig sal wees as hulle huis/tuin werk kry om te doen. Maar hulle welbedoelende ouers reken seker om die bloedjies miljoene na te laat om op te lewe.

29 01 2015
scrapydo

Daar is beslis maniere en maniere! Onderwysers wat hul sout werd is sal nie n steen onaangeraak laat om kinders te onderrig nie. (Ongelukkig is daar BAIE wat nie omgee nie)

29 01 2015
Xena Phoenix

Baie waar. If you pay peanuts, you get monkeys. Goeie onderwysers is so skaars soos hoendertande. Die res – sal maar eerder ‘n wag voor my mond plaas.

29 01 2015
scrapydo

Stem, ek het saam met baie kansvatters skool gehou en natuurlik vandag se agtergeblewe onderwysers hoef mos nie te leer vir hul opvoedingstaak nie. Hul het mos n natuurlike aanleg. Betaling kry hul egter wel sonder kwalifikasies.

29 01 2015
Spokie sny spoor

Mmmm, hoop daar is mense wat dit raaksien en maar help dat klaskamers gebou word. Ek is maar jammer vir hulle …

29 01 2015
Xena Phoenix

Spokie, die department sal glo teen Vrydag vir hulle tydelike klaskamers posit. Hopelik hou hulle woord.

29 01 2015
carolredelinghuys@Losbek

Ek haal my hoed af vir die onderwyseres. Dan voel dit vir my ek kla met die witbrood onder die arm

30 01 2015
Klip

More Xena ……….. as dit gister jou verjaarsdag was, wil ek net se baie geluk en alles wat mooi is vir jou.

30 01 2015
Xena Phoenix

Hi Klip. 😉 Dit was Klein Merrie – my tweeling se dogter – se verjaarsdag gewees.

30 01 2015
Klip

Hoop dit was n heerlike dag vir almal………

30 01 2015
Klip

Skool onder n boom ??? Skole wat afgebrand word???? Al wat ek weet as “boom” brand dan maak dit jou baie slim,( of lui) en party wil net lekker le en lag.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: