Afrikaner geskiedenis

28 02 2012

Ek het juis verlede week ‘n bietjie gemymer oor ware geskiedenis.  Twee kante, twee weergawes en die waarheid in alle waarskynlikheid iewers tussen in.  Vandag het Afriforum ‘n sosiale media veldtog geloots.  Hulle eis dat die Afrikaners se voorvaders nie as bose lafaards afgemaak moet word nie, maar dat die waarheid onthou en beskerm moet word. 

Hierdie is ‘n projek waarby ek graag my gewig wil in gooi.  Op die heel minste moet beide kante vasgehang en gehoor word.  Anders gaan daar ‘n verwronge beeld geskep word en as evangelie onthou word.  As dit nie reeds te laat is nie.  Geskiedenis definieer wie ons vandag is, en as ons geskiedenis verkeerd opgeskryf word, gaan ons mutante wees. 

Daar word basies gevra dat die video op 28 Februarie versprei moet word en stemme op sosiale media dik gemaak moet word.  Hier is die link vir die video.  http://www.youtube.com/watch?v=J9wE3U-LD6E  As jy saamstem, verskrei dit asseblief.  Ek sien dit is reeds by Turksvy op. 





Koerantbrokkies

28 02 2012

Yvonne Beetge (45) is gister skuldig bevind op die moord van haar verloofde.  Sy het aanvanklik beweer dat hy selfmoord gepleeg het, maar het ‘n paar tegniese besonderhede vergeet.  Bokkie Grundlingh was regshandig en sou homself dus nie in die linkeroor geskiet het nie en daar was spelfoute in sy selfmoordbrief – weer iets wat Grundling nie gedoen het nie.  Beetge het aansoek gedoen vir borg, maar Mahomed Ismail – die regter het dit verwerp:  “Ek was die fool wat Dirk (Prinsloo) borgtog van R25 000 gegee het,”  Beetge het geskimp vir ‘n opgeskorte vonnis, maar Ismail het vertel as hy dit doen, moet hy malhuis toe gaan.  Beetge was blykbaar sonder dak aangehou toe sy verhoorafwagtend was en dit het in haar guns getel.

Sipho Mbatha (41) – die leerling konstabel wat aangekla word dat hy ‘n tiener geskiet het – is sielkundig onstabiel en as sulks moes daar nooit aan hom ‘n wapen gegee word nie.  Op die dag van Thato Mokoka (16) se dood was daar besluit om die bevel dat Mbatha nie aktiewe diens mag verrig nie te ignoreer.  Sy borgtog aansoek is uitgestel sodat die offisier wat Mbatha die R5 gegee het, kan kom verduidelik wat hom besiel het.

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, sê dat die Unies die ANC nie sal boelie nie.  Dit volg nadat NUMSA die ANC se leierkorps wil vervang omdat die Polokwane resolusies nie deur gevoer is nie.  Mantashe reken dat dit ‘n gevaarlike opmerking van NUMSA is omdat hulle nie in aanmerking neem dat daar nog ‘n ANC is nie.  Die ANC stel hulle leiers aan, nie die vakbonde nie.

‘n Staatsamptenaar van Limpopo is net ‘n maand geskors nadat hy ‘n kontrak van ‘n half miljoen aan homself toegeken het. Ek reken hy het nogtans ‘n wins gemaak.  Boonop het die Valke bevind dat bedrog waarskynlik is, maar Limpopo het nie strafregtelik opgetree nie.  Die staande komitee oor openbare rekeninge is liggies ontsteld deur die beweringe.

Die saak teen Johan Steyn is uitgegooi weens onvoldoende getuienis.  Hy het na bewering iemand R500 betaal om vir hom goed ter waarde van R30 000 te steel.  Steyn is Morne Steyn se pa.

Velvet Sky gaan ‘n nuwe direksie aanstel en het hulle vlugte vir die volgende 7 dae opgeskort.  Hulle gaan die tyd ook gebruik om geskille met verskaffers by te lê.  So sal hulle ACSA in die toekoms in kontant betaal en daar is ‘n ooreenkoms om hulle agterstallige skuld te delg.  Ontleders reken egter dat dit te laat is om Velvet te red.

Tendai (Beast) Mtawarira is by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad opgeneem vir harttoetse.   Die stut van die Bokke en Sharks sukkel glo ‘n paar dae met hartkloppings wat vererger.  Hy is tans op die krukkelys met ‘n gebreekte enkel en dus word die tyd ook gebruik om na sy hart te kyk.  Hartkloppings is glo oorerflik en behoort nie te ernstig te wees nie.

Asi Ligege het gister oppad na Oudtshoorn ‘n koedoe getref.  Die bok is deur sy voorskerm van sy Ford Focus en by die agterruit uit.  Ligega was ‘n paar oomblikke bewusteloos, maar kon darem betyds die kar veilig tot stilstand bring.  Hy het net ligte beserings opgedoen, maar die koedoe is opslag dood.

Ten slotte ‘n bietjie ou nuus.  Meryl Streep het gister haar derde Oscar gewen.  Maar Barry Ronge reken met die ander benoemings wat daar was, was Streep in ‘n fliek soos “The iron lady” dalk nie die beste keuse nie.  Hy reken dat Viola Davis of Michelle Williams dit dalk meer verdien het.  Dit was Streep se 17 benoeming.  The Artist het goue beeldjies ingepalm vir beste rolprent, beste akteur (Jean Dujardin) en beste regisseur (Michel Hazanavicius) gekry.  The Artist is ‘n stilprent en het nie eers kleur nie.  Christopher Plummer en Octavia Spencer het die beeldjies vir beste byspelers gekry.





Wenners vs Volharding

28 02 2012

Tussen die debatte van Belhar, Christenskap en pandapolitiek, is dit soms ‘n lafenis om iets anders raak te lees.  Die afgelope week of wat gaan dit oor kompetisie op laerskool, met spesifieke verwysing na die atlete wat nog melktande het.

Ek stry nie dat dit bog is dat skole rugby bo alles stel, met algehele sport kort op rugby se hande.  Dit is eintlik iets om oor dankbaar te wees as akademie ‘derde kom.  Aanvanklik het ek gedink dat dit hoogtyd is dat iemand hulle stemme verhef oor die sport besimpelheid van skole.  Helaas, hoewel sportbehepheid aangespreek word, gaan die kritiek nie daaroor nie.

Die argument wat aangevoer word is dat die arme bloedjies se gestelle nie ‘n verloor kan hanteer nie.  Dit ontmoedig hulle glo en kan dalk veroorsaak dat hulle later nie meer vrywillig aan sport wil deel neem nie.  Amper asof alle kinders perfeksioniste gebore is, as hulle nie die beste kan wees nie, wil hulle glad nie wees nie.

Dit mag wees, maar om die kompetisie element te verwyder, beteken ook dat vele belangrike lewenslesse verlore kan gaan.  Almal kan nie altyd wen of eerste kom nie.  Feit van die lewe en hoe vinniger die seuns en meisies dit besef, hoe vinniger kan hulle ‘n brug bou en met hulle lewe aangaan.  En wen is tog nie op die ou einde alles nie.

Ek ken iemand wat sy kinders enige buitemuurse aktiwiteit toelaat, op die voorwaarde dat hulle dit ten minste twee jaar lank volhou.  Gestel nou een van sy kinders speel tjello, kan hulle nie na ‘n week opgee as dit meer ‘n gesukkel is as wat hulle verwag het nie.  Na twee jaar sal hulle die nodige vaardighede opgetel het en nie sy geld gemors het nie.  Hulle hoef nie te presteer nie, hulle hoef nie eers goed te wees nie, hulle moet net ‘n eerlike poging aanwend om te probeer.

Probeer.  Meer as net probeer, dit gaan oor volharding.  En dit is veel waardevoller oor enige trofee of rostum plek.  Daardie eerste plek kom vir party mense dalk makliker as ander, maar dit vervaag gou.  Eendag is eendag wat iemand jou gaan ore aansit.  Snaaks genoeg is dit juis mense wat volharding as ‘n middelnaam kry wat lank wenners kry.

Iemand wat ‘n meetkunde probleem na 20 probeerslae regkry se antwoord is net so geldig as die een wat dit met die eerste slag regkry.  Die een wat dit met die eerste slag alles regkry, gaan waarskynlik uit sy diepte wees as iets buite die handboek verby gaan kom.  Dit is die een wat gaan vasbyt tot daar ‘n antwoord het wat die wa deur die drif gaan trek.  Dit word nie aangeleer deur altyd die beste te wees nie.

Waar beter om dit te leer as in jou kinderskoene?  Al moet hy/sy vir weke, maande en jare lank sukkel om iets reg te kry.  Die selfvertroue wat daarmee opgebou word is meer as die kunsmatige selfvertroue wat gehou word net om kompetisie nek om te draai.

Hoe voel julle oor skoolsport?  Is dit regtig belangrik om selfvertroue te red?  Of is volharding tog meer waardevol?

Breinvasbrand:  Wanneer skop die Somer Olimpiese Spele vanjaar af?

Breinlosbrand:  Sonlig was reg met 8ta (maar JWW het die regte “spelling” gehad).