Tipiese Dag

3 02 2012

Maankind het huiswerk uitgedeel, dus moet julle haar blameer as julle aan die slaap raak.  😉

Ek voel partykeer nes ‘n skoolkind, elke dag is daar ander buitenmuurse aktiwiteite waarby ek moet uitkom.  Vandag is egter Vrydag, dus sal ek maar by Vrydag hou. 

Aangesien mens altyd lyke stroom af gaan soek, dink ek glad nie stroomop is so sleg nie.  In my geval doen ek my oefeninge terwyl ek slaap.  Ek wonder altyd hoe mense dit regkry om in bed te slaap en die volgende oggend wanneer hulle uitklim lyk die bed onaangeraak.  Ek is nie een van daardie mense nie.  Kanse is dat dat die laken skoon afgeslaap is. 

Wanneer ek my een oog oopgebeur kry, gryp ek na my selfoon.  Ek hol dan gou vinnig deur Facebook, epos, koerante en blogs.  Net om seker te maak die wêreld het nie intussen vergaan nie.  Dit is die vinnigste manier om te sien of daar iets van belang gebeur het.  Ek kan daarna nog ‘n bietjie dut.  Wanneer my kamermaat in die kombuis  doenig raak, beter ek myself lig.  Sy maak gewoonlik koffie, wat sy nie juis omgee om te laat koud word nie. 

Ek sal eers ‘n vinnige draaitjie loop en dan die alarm afsit.  Ek gaan gee die diere kos en maak seker hulle waterbakke is skoon en vol.  Ek gooi my swaargekweekte plante nat (as ek onthou) en verwonder my aan die bure se kind wat so vroeg al gil.  Ek sit al die skottelgoed in die wasbak en tap dit vol warm water.  Daarna gryp ek koffie en beskuit en gaan klim terug in die bed.  Ek eet soos ‘n beskaafde mens elke oggend ontbyt in die bed. 

Dan is dit badtyd, met ‘n boek of ten minste net iets om deur te blaai.  Wat gewoonlik beteken ek bad te lank en is dan laat.  Ek moet dan teen die spoed van lig aantrek, my tandeborsel, bed opmaak, die skottelgoed was, middagete gryp (vrugte en miskien jogurt of ‘n broodjie), aandete uithaal (nee, dit is Vrydag – dus wegneem ete dag) en myself uit die huis boender.  Ek gaan kyk of my diere al ontwaak het en dan ry ek kantoor toe. 

Ek werk dikwels nie op kantoor nie en moet soms reis.  In daardie geval moet ek vroeër opstaan om die koerant te doen of my tweeling smeek om dit namens my te doen.  Ek hardloop deur die dag agter afsprake aan, woon vergaderings by ens ens ens.  Niks om oor opgewonde te raak nie.  Ek neem gewoonlik nie middagete, maar eet my middagete deur die dag verspreid.  Ek werk ook dikwels laat of moet internasionale oproepe maak buite kantoor ure.  Vrydag middae is gewoonlik rustiger en ek is dan baie selde na 17h30 op kantoor. 

Vrydag is gewoonlik die dag wat ek agterkom die melk is op die laaste druppel en dat dit en dat ook klaar is.  Ek moet dan maar by Kies & Betaal gaan kuier.  Ek staan gewoonlik in die “express line”.  In my maandjie is daar gewoonlik melk, vrugte (tensy ek Fruit & Veg toe wil gaan), bestandele AS ek iets wil kook / bak die naweek, rolletjies vir die naweek en iets soos kaas of salami.  Ek sal aandete kry, tensy ek van plan is om uit te gaan eet.  Die ete sal seekos met tjips of sushi wees. 

Ek mik dan huiswaarts om my inkopies te gaan bêre en ‘n oog oor my diere te gooi.  Gewoonlik terwyl die heks om my voete neul vir die “rekendingetjie”.  Om een of ander rede, wanneer ek wel die dag uitgaan, gaan ek op ‘n Vrydag of ‘n Donderdag uit.  Nie sulke planne vandag nie.  Ek gee die heks die “rekendingetjie” en voer myself.  Ek kyk wel Vrydae televisie, ek hou daarvan om Noot vir Noot saam te speel.  As daarna nie iets is wat ek wil kyk nie, sit ek ‘n DVD in of kry ‘n fliek bevlieging.  Ek kyk gewoonlik met ‘n rekenaar op my skoot TV. 

Ek sal later kamer toe gaan en so ‘n bietjie kitaar oefen.  Met die hoop dat die getokkel die bure sal irriteer om hulle terug te kry vir hulle kind se geskree.  Ek lees ‘n bietjie, sal miskien selfs gaan bad (veral as die boek nou regtig spoed opgetel het) en sit iewers na 12, maar voor dagbreek die lig af.  Dan hol ek vir ou laas deur Facebook, epos, koerante en blogs.  Ek raak gewoonlik dadelik aan die slaap nadat ek my selfoon neer gesit het.

Breinvasbrand:  Wat is die heks se naam?

Breinlosbrand:  Maankind was reg met Daniel.

Ek deel dan die huiswerk verder uit vir Olga en Sonlig.