2000

16 02 2012

Dit beteken waarskynlik nie ‘n snars vir enige iemand nie, maar my 2000ste skrywe is vir my ‘n mylpaal.  Een wat ek nie heeltemal ongemerk kan laat verbygaan nie.  Ek het immers my vingers lam getik om daar te kom. 

Goed en wel, om 2000 posts op jou blog te hê is geen prestasie nie.  Die vraag is eerder wat het jy met die 2000 skrywes bereik?  Indien enige iets. 

Ek kan met sekerheid sê dat ek al vyande met my skrywes gemaak het, maar ek hoop ek het vriende ook gemaak.  Ek het mense al siedend kwaad gemaak, maar ek het hulle al laat lag ook.  Dikwels vir my en nie saam met my nie.  Ek het mense al tot in hulle siele ontstel, maar het ek al ooit vir hulle siele troos gebied?  Ek het hier en daar stukkies onbruikbare inligting met mense gedeel en ek het baie bruikbare goed by hulle geleer.  Ek het nuus oorvertel en hopelik ook mense vermaak. 

En nou trek ek by 2000.  Sal ek 5000 kan maak?  Is 10 000 ‘n moontlikheid?  Dalk is dit tyd om aan te beweeg.  Tyd sal wel leer.





Watergoud

16 02 2012

Water. . .  Niks is seker meer eenvoudig as die molekule wat uit een suurstof en twee waterstowwe bestaan nie.  Dalk is dit die eenvoudigheid daarvan wat die mens water – wel – for granted laat neem.  Dit is redelik maklik beskikbaar, dit is redelik goedkoop en dit is altyd daar.  Sonder water kan ons nie, maar tog aanvaar mens dat dit altyd vrylik beskikbaar sal wees soos suurstof. 

Nie meer nie.  Ek onthou hoe ons altyd op skool vermaan was om water te spaar.  Elektrisiteit ook – omdat dit duur was, maar veral water, omdat dit kosbaar was.  Vandag word daar die heeldag by ons kele afgedruk om elektrisiteit te spaar.  Water bly half vergete, miskien as ‘n terloopse nagedagte.  Water raak ook ‘n krisis, indien dit nie al reeds is nie. 

Dit is geen geheim hoe Witbank met water sukkel nie.  As daar die dag water is, is dit onbruikbaar.  Verlede jaar het ek iewers gelees van ‘n gesin wat vroegoggend gim toe gaan om te stort.  Daar is nie water by hulle huis nie.  Beeld berig vanoggend dat Carolina se krane vol suur mynwater is.  Mens hoor hier en daar hoe buurte dae lank sonder water moet klaar kom.  Wateronderbrekings is deesdae meer algemeen as kragonderbrekings.  Ek praat hier nog van sogenaamde bevoorregte mense, wat gaan by die agtergeblewendes aan?

Ek voel sterk daaroor dat elke mens geregtig is op skoon water en goeie sanitasie.  Dit kom basies neer op die verskil tussen lewe en dood.  Behalwe dat ‘n mens (en dier) doodeenvoudig water nodig het om te bestaan, is daar sonder water nie sprake van higiëne nie.  Wat neerkom op siektes en epidemies.  Sonder goeie sanitasie is waterbronne omtrent altyd besmet.  Dit is onbruikbaar of die oorsaak van siektes.  Baie van die ellendes wat met armoede gepaard gaan is die direkte gevolg van ongeskikte water. 

Suid-Afrika kon altyd op skoon water geroem het, maar daardie dae is op ‘n sneltrein uit.  Vir een ding moet ‘n mens ‘n plan maak om ‘n waterfiltreerder te installeer voordat dit ‘n moet is.  Dit help natuurlik net as daar enigsins water voorsien word.  Die verwagting is dat munisipaliteite of die staat die infrakstruktuur sal onderhou, uitbrei en bou.  Die staat is gewoond daaraan om hulle agterente aan hulle verantwoordelikhede af te vee.  Wat basies beteken die publiek sal moet inspring of ‘n ander plan maak. 

Dit is egter net een kant.  Myne is groot sondebokke as dit by water kom.  Dit is egter nie so eenvoudig as om myne te verbied nie.  Mense moet tog eet, aantrek en hulle kinders onderhou.  Myne is van die grootste werkskeppers en dit gaan nie in die voorsienbare toekoms verander nie. 

Dan is daar nog boerdery, bewaring, vermaak ens.  Alles raak aan water.  Alles eis ‘n pond vleis wat nie teruggegee kan word nie. 

Ek het ‘n vriendin wat eendag gesê het sy kan nie kinders in die wêreld bring nie, want sy weet nie of daar eendag vir hulle water gaan wees nie.  Ek het gelag vir haar, maar dit kan nie heeltemaal afgelag word nie.  Dit is nie wetenskapfiksie nie, dit kan so maklik werklikheid word. 

Hoe bespaar jy water?

Breinvasbrand:  Wat is die langste rivier in Suid-Afrika?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Bob Geldof.