Kerksake

19 02 2012

Ek lees vanoggend in die Rapport hoe die NG Kerk sedert 1980 al hoe kleiner geword het.  In die afgelope jaar het die lidmate met amper 21 000 mense afgeneem.  Die jaar voor dit was dit met 10 000 lidmate.  Ek wonder of dit ‘n simboliese gebaar is om ‘n foto van die Christuskirche ter illustrasie te gebruik.  Die kerk is nog ‘n NG Kerk, nog in Suid-Afrika.  Goed, dit is nou eintlik heeltemal van die punt af.

Ek kwalifiseer glad om enigsins iets oor die NG Kerk te sê nie.  Ek is nie ‘n lidmaat nie en het geen planne om ooit ‘n lidmaat te word nie.  Ek het wel al die binnekant van ‘n NG Kerk gesien, meestal tydens troues en begrafnisse.  Ek het al ‘n erediens of twee bygewoon terwyl ek iemand se gas was.  Op skool was ons ook gereeld deur NG Kerk predikante toegespreek.  Ek het nog nooit ‘n begeerte gehad om hulle te vertel om stil te bly of om van die vergadering weg te stap nie.

Wanneer jy ‘n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner is, gaan heelwat van jou kennisse, vriende en selfs familie lidmate van die NG Kerk wees.  Ek ken ‘n aantal NG predikante met wie ek op ‘n voornaambasis is.  Benewens dit, is verskeie Suid-Afrikaanse dorpe hulle ontstaan te danke aan ‘n NG Kerk in hulle midde.  Die NG Kerk het ‘n onbetwisbare rol gespeel in Suid-Afrika en selfs die tot standkoming van Suid-Afrika.  As sulks kan ‘n mens dit nie ignoreer nie.

Dit is hartseer dat predikante meer en meer ‘n tweede beroep moet aanneem om kop bo water te hou.  Die som is vir my eenvoudig.  Die herders versorg die gemeentes en die gemeentes versorg die herders.  Die balans het blykbaar geskuif of ek het iewers die kat lelik aan die stert beet.  Daar word gepraat van alternatiewe kerkstrukture, waar iemand aan beheer van ‘n groepie geleidelik teologies opgelei word.  Iewers verwag iemand dat tradisionele predikante nie meer ‘n toekoms het nie.  Kerke soos ons dit ken, sal waarskynlik eendag net museums wees.

Vandag vra ek myself of ons by die begin van die einde van die NG Kerk is?  Is ons moontlik al reeds verby die eerste fase sonder dat enige haan daarna gekraai het?  As die NG Kerk vergaan, is daar hoop vir die ander Afrikaanse kerke?  Siende dat Afrikaanse kerke dikwels hulle ontstaan aan een of ander bakleiery te danke het?  As die leier weg is, teen wie gaan die ander skop?  As hulle nie kan skop nie, hoekom dan nog bestaan?

Hopelik is dit ongegronde voorbodes.  As ek egter na ‘n land soos Nederland kyk, weet ek nie of my voorbode ongegrond is nie.  En dit is tragies.