Banklenings

6 02 2012

Die advertensies wat wonderwerke gespel lenings belowe, het dit nog nooit vir my gedoen nie.  Nie dat ek glo krediet is ‘n vloekwoord nie.  Dit is ‘n goeie hulpmiddel wat baie versigtig bestuur moet word.  Sonder krediet het ek nie geswot nie en het ek met apostelperde gery.  Die ding is egter dat lenings nie vir elke bakatel aangegaan moet word  nie.  Wag, amper begin ek preek en dit was nie die doel met die skrywe nie.

Elke keer wat daar ‘n R150 000 aanbod in die pos gekom het, het ek dit fyn en flenters opgesnipper en weggegooi.  Dieselfde met elke kredietkaart wat ek aangebied was.  Ek sien glad nie wat so wonderlik is aan geld wat jy moet terug betaal nie.  Gewoonlik aansienlik meer as wat jy daarvan gekry het.  Vanaand, moet ek egter van opinie verander.

In die nuwe lening advertensie van Standard Bank sit die bankvrou lustig en werk by die klient.  Dink net, in plaas om op jou knieë voor die bankbestuurder te staan, gee hulle jou sommer gratis arbeid vir die dag.  Jy kyk hoe hy / sy jou wasgoed, skottelgoed of tuin doen, terwyl hulle jou boonop geld belowe.  Wonderlik.  Ek het net twee vrae.

  1. Hoe vinnig moet jy die geld terugbetaal voordat rente inskop?
  2. Hoe vinnig kan ek weer vir ‘n lening aansoek doen?

So ‘n geleende perd, kan ek nie in die gesig kyk nie.





Niks gebou om te hou

6 02 2012

Het julle al opgelet waarop die meeste advertensies vir produkte klem lê?  Dit gaan oor hoe dit die mens se lewe vergemaklik, hoeveel dit geniet kan word, watse luukse dit is wat elke mens verdien om te hê.  Dit is die allerbeste tegnologie, die absolute beste nog, die heel-heel nuutste.  Dit gaan sover as om te beweer dat jy ‘n halwe mens is daar sonder of dat jy onmoontlik gelukkig kan wees daarsonder.  Alles, behalwe dat die beste-ding-nog-wonder gaan hou.

Dit is die punt.  Dit is nie veronderstel om te hou nie.  Dit is veronderstel om so gou as moontlik die gees te gee sodat die verbruiker nog sal koop.  Hoekom sal enige iemand tevrede wees met die verkope van een eenheid as jy aan dieselfde aankoper 10 eenhede kan verkoop?  Sonder dat die aankoper enigsins gaan kla daaroor?  Want dit is maar hoe dinge is, en almal aanvaar dit so.

Natuurlik is daar die ding van waarborg, maar hoeveel is dit in elk geval werd?  Ek het byvoorbeeld ‘n selfoon met ‘n twee jaar waarborg.  Net omdat dit ‘n kontrakfoon is van Vodacom.  Het ek dit in ‘n winkel gaan koop, was dit ‘n jaar waarborg.  Ek het die foon skaars gehad, toe was daar fout.  Natuurlik buite die week teruggee tyd. Van daaraf het ek die foon vir min of meer twee weke, voordat dit weer vir 6 weke in gegee is herstelwerk.  Enige ander mens sou al lankal die ding fyn en flenters getrap het en iets anders gaan koop het.  En DIT is presies waarop die vervaardigers reken.  En dit nie net selfone nie.

Dit is alles.  Van R40 000 Flat Screen televisies (kan ‘n mens nog die boks tipes koop) tot die handklitser van R300 wat mens by Clicks koop.  Mens is nie eers seker daarvan dat dit die waarborg tyd gaan hou, hulle is gebou vir die mentaliteit van papier servette.  Weggooibaar en vervangbaar.  Ongeag die kostes, want iewers is daar besluit dat goed wat hou nie verkoop nie.

Neem klere en skoene ook.  Dit kom gewoonlik met iets soos ‘n 3 maande waarborg, mits dit nie “misbruik” is nie.  Jy kan byvoorbeeld nie ‘n paar skoene vir elke dag vir 3 maande dra nie en verwag dat dit moet hou nie.  Skoene se sole trek los en bloese se knope val af.  Onderklere kry sommer na die eerste was gaatjies en bra’s se “underwire” kom sommer met die eerste was uit.  Of jy dra dit so of jy moet nuwes gaan koop.  Helaas, terwyl jy nuwes koop, word niemand juis aangespoor om hoë kwaliteit goed te vervaardig nie.

Ek sal graag die dag wil sien dat ‘n vervaardiger wys dat vandalisme die enigste manier is om hulle produk te breek.  En selfs daarmee moet daar gesukkel te word.  En ek kan nie sien nie hoekom dit nie die beste kan wees teen ‘n bekostigbare prys nie.  Die mens gaan in elk geval gou moeg raak en iets beters soek.  Dit is dus nie nodig om hulle daarin te boelie nie.

Is betroubaar in produkte regtig te veel gevra?

Breinvasbrand:  Wie se slagspreuk het van “The quest for zero defect” verander na “life full of ideas”?

Breinlosbrand:  Fakkel was reg met Laviga