Wat maak saak wat gebeur het?

24 02 2012

Daar word gesê dat geskiedenis deur die oorwinnaars geskryf word.  Nader aan die waarheid is seker dat geskiedenis herskryf word deur die wat tans in beheer is.  ‘n Feit, wat veronderstel is om ‘n onveranderlike te wees, kan uit verskillende hoeke belig word en die betekenis daarvan kan dan verskil.  Radikaal verskil.  Mens wil graag glo dat dit nie ‘n moedswillige manipulasie is nie, maar dit is ook ‘n moontlikheid wat nie uitgesluit kan word nie.  Geen heerser gaan in ‘n slegte lig gestel word nie. 

Om ‘n voorbeeld te noem, daar is mense wat hoop dat die Nazi’s weer eendag aan bewind gaan kom.  Gestel nou in ‘n hipotetiese wêreld heers hulle weer iewers.  Hulle gaan van Hitler ‘n held maak, nie die tiran wat ons geleer is hy was nie.  Sy (on)dade gaan in ‘n ander perspektief gestel wees en ‘n redelike mens sal dit moontlik glo.  Nie almal gaan gelukkig wees daarmee nie, maar na ‘n dekade of twee gaan dit nie saak maak nie.  Gaan dit die waarheid wees?  Gaan dit enigsins saak maak? 

Hoeveel waarheid is daar in elk geval in geskiedenis?  Oor die algemeen is daar net een weergawe wat as die waarheid verkondig word.  ‘n Eensydige argument as ‘n mens dit so wil noem.  Die regverdigste is seker om beide kante van die verhaal te hoor en dan vir jouself te besluit wat die waarheid is.  Regverdig is egter nie altyd ‘n sinoniem vir die waarheid nie. 

Ek het eendag ‘n brief gelees waarin iemand gesmeek het dat die waarheid oor die Soweto slagting nou moet uitkom.  Hy het nie sy weergawe van die dag vertel nie.  Soos ek die storie verstaan het swart tieners opgeruk uit protes teen Afrikaans in skole.  Die polisie het toe wild en wakker begin skiet op weerlose kinders.  Dit laat ‘n bitter smaak in enige mond, dit is te verstane dat daar soveel bitterheid was. 

Ek het ‘n ander storie ook al gehoor.  Hoe die tieners wat opgeruk het, nie juis vreedsaam was nie.  Hulle was uit daarop gewees om te verwoes en te vernietig.  In ‘n klein polisiekantoortjie was daar ‘n paar 19 jariges vars uit die polisie kollege.  Hulle was deur ‘n swart see van aggressie omring en hulle het paniekerig geword en begin skiet.  Moontlik met rede ook, die kanse was goed dat hulle binne in die polisiekantoor geskiet sou word. 

Heeltemal ‘n ander kleur aan die storie?  Waar lê ‘n mens se simpatie dan?  Nou nie dat ek ‘n dag in die 70’s gesien het nie en ek onthou bittermin van apartheid.  Tog, vandag nog dink die sogenaamde jeug niks daarvan om iets (polisiestasie, biblioteek, stasie ens) af te brand as hulle ongelukkig is oor iets nie.  En dit is hulle regering in bewind.  Sou hulle in die 70’s meer beskaaf gewees het?  Kan ‘n mens regtig van ‘n groepie ver in die minderheid verwag om uitmekaar geskeur te word in plaas om hulle self te verdedig?

Sal die hele waarheid en niks anders as die waarheid ooit uitkom? 

Breinvasbrand:  Vandag is die herdenking van die stigting van die Nazi Party.  Watter jaar is dit gestig?

Breinlosbrand:  The Wedding Date.