Is jy hoe jy behandel word?

2 02 2012

Daar is ‘n uitdrukking van “If you pay peanuts, you will get monkeys”.  Vertrou my om die uitdrukking heeltemal te kom befomfaai of dalk dit eerder uit hulle nate te ruk. 

Mense is geneig om op te tree presies hoe dit van hulle verwag word.  As ‘n man chronies as ‘n lamsak uitgeskel word, gaan hy een of ander tyd ‘n lamsak word.  As ‘n viswyf soos ‘n prinses behandel word, gaan sy een of ander tyd soos ‘n dame optree.  ‘n Kind wat beskuldig word dat hy altyd leuens vertel, gaan gatvol raak en lieg soos niemand hom kan nadoen nie.  Dieselfde geld vir wanneer iemand die heeltyd beskuldig word daarvan sy steel. 

Daar kan dalk geargumenteer word dat die skeller of die opheffer altyd die kwaad (goed) sluimerend in die persoon gesien het.  Tog het elke mens die mag van goed en kwaad inhom.  Wat hy of sy gaan laat wen, is wat die mens in ‘n sekere rigting swaai.  Wanneer iets dan nog van die kantlyk aangemoedig word (hoe ander mense die persoon behandel) gaan daardie iets wen. 

Dit bring my nou na die ET verhoor.  Daar is erken dat die werksmense se woonkwatiere haglik is.  Daar is ook erken dat die mense vervalde hondekos kon eet, al was dit uit eie keuse.  Mens kan ook net so lank pap en melk eet om die honger te verjaag, maar een of ander tyd gaan jy iets met oemf soek.  Ek wil sommer lelik praat, maar as jy nie vervalde kos vir jou diere gee gee nie, hoe de duiwel gee jy dit vir mense??  Daar is ook erken dat die werkers onder minimum loon gewerk het.  Die ouer een het R650 ‘n maand gekry en die minderjarige R200 (R50 ‘n week).  Ek is jammer, maar dit sit nie vir my lekker nie. 

As jy egter mense soos ongewensde diere behandel, is jy dan regtig verbaas as hulle soos diere optree? 

Nee, ek probeer nie die ET moord regverdig nie.  Niks kan dit doen nie.  Ek weet net nie hoe slaap jy snags as jy mense so behandel nie. 

Tog is daar ‘n ander stemmetjie wat skree.  In Pieternella van die Kaap (Dalene Matthee) word daar vertel van die een eienaar wat sy slawe baie mooi behandel het.  Hulle het tot elke aand aan die tafel saam met hom geëet.  Eendag dros hulle en hulle het nie gehuiwer om sy keel af te sny nie.  En dit is nie net ‘n fiktiewe voorbeeld nie. 

Nogtans sal dit seker nie skade doen om jou kant skoon te hou nie?

Breinvasbrand:  Wie se huisvrou was Pieternella van Meerhof?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Tramp.