Tot stof

22 02 2012

Al hou ons niks van die gedagte nie, maar as daar nou een ding wat in die lewe gewaarborg is, is dit dat ons SAL doodgaan.  Mens kan amper sê dat die lewe die proses is om te sterf.  Die lewe word immers in die dood volbring.  Natuurlik word dit gevrees, waarskynlik juis omdat dit ‘n onbekende is.  Mens kan net spekuleer oor die Skoppensboer, maar diegene wat ervaring opgedoen het, praat nie meer nie.

Oor die dood het niemand beheer nie.  Mens kan egter jou geluk beproef met wat daarna met jou gaan gebeur.  Niemand hou van begrafnisse nie, maar dit bly maar onplesierig om na ‘n lewenlose liggaam te kyk.  Dit moet van die lewendes se aansig verwyder word, verkieslik voordat ontbinding intree.  As die belangrikste persoon by die geleentheid, kan jy net hoop dat jou wense gerespekteer word.  Nie juis dat dit saak maak as mense hulle nie daaraan steur nie.  Jy sal tog nie kan kla nie.

In Suid-Afrika is daar basies twee keuses.  A:  jy word in ‘n gat in die grond gegooi en gelos dat die groen gras en onkruid daarom kan groei.  B:  Jy word eers verbrand, dan fyngemaal en gemeng sodat jou familie wit poeier kan kry wat hulle hoop jy is.  Daar is voordele en nadele aan elkeen, maar dit is nou nie juis . . . interessant nie.  Elke tweede mens maak tog dieselfde besluit of daar word vir hulle besluit.

Sonlig het gewonder waar kom ek daaraan om lyke vir aasvoëls te wil voer.  Ek het ‘n paar jaar terug ‘n artikel gelees van ‘n man wat wou reël dat dit eendag met sy oorskot gedoen moes word.  Hy was nog springlewendig en ek sal nou nie kan sê wat sy geloofsoortuiging is nie.  Ek dink nie sy kite het gevlieg nie, maar dit sou darem ‘n interessante begrafnis wees. Om oor te lees nie, ek dink dit moet grillerig wees om dit te beskou.   Omgewingsvriendelik en boonop goedkoop ook.

Die stoflike deel is nie al wat deesdae vooraf vasgestel word nie.  Ek weet van heelwat mense wat nie ‘n roudiens wil hê nie.  Gaan net na een bekende se roudiens en jy sal verstaan hoekom.  Die persoon wat begrawe word en die een wat gelewe het verskil hemelbreed.  Anders tree die predikant soos ‘n nar op wat die koningin van Skeba van die laaste stukkie waardigheid kan beroof.

Wat is ‘n begrafnis nou eintlik?  ‘n Tyd om te groet?  ‘n Geleentheid van troos van die familie?  Die slothoofstuk van ‘n lewe?  Dalk al die bogenoemde?

Hoe sal jy jou begrafnis wil laat verloop?  Wat sal jou laat spook op jou eie begrafnis?  Wat is vir jou die grootste afsit faktor van ‘n begrafnis?

Breinvasbrand:  Wat word die gebruik genoem waar Hindoe weduwees saam met hulle mans gebrand word?

Breinlosbrand:  Olga was reg met medestigter van die AA.