Klein en ongetryn

1 02 2012

Ek is nou die dag daarvan beskuldig dat niemand ooit weet waarvoor ek staan en waarvoor ek val nie.  Seker maar ‘n skimp dat ek ‘n draadsitter van die eerste water is.  Ek gaan vandag dit reguit sê dat ek teen Nazikampe is.  Die enigste diktatorskap wat ek goedkeur, is die diktatorskap waar EK die diktator is. 

Lang storie, maar ek bedoel eintlik ek hou nie van die DBV nie.  Hoe meer ek van hulle hoor, hoe sekerder raak ek dat die D staan vir diktatorskap.  Ek moet toegee dat hulle dikwels goeie werk doen.  Daar is beslis ‘n plek vir hulle in die samelewing.  Ek wil persoonlik egter niks met hulle te doen hê nie.  Ek mishandel nie diere nie en gaan hulle beslis nie uit my eie uit nader nie. 

Iewers het daar ‘n seepskissie ontstaan dat almal asseblief tog eerder ‘n dier by die DBV (of iets soortgelyks) moet aanneem.  Aanneem, die DBV gee glo nie diere weg nie en hulle verkoop hulle ook nie.  Jy moet glo R500 betaal vir die dier se regmaak, inspuitings, identifisering ens.  Die dier is gratis – mits die diktators tevrede daarmee is dat jy volgens hulle vir die dier kan sorg.  Dit is blykbaar makliker om ‘n huis te koop as om ‘n dier aan te neem.  Ek verneem dat daar tot blykbaar in jou salaris gekrap word. 

Ek trek daar die streep.  Dier aanneem is vir liefdadigheid, nie sodat die diktators seker kan maak my onderklere het nie dalk gatjies nie.  Enige lus vir liefdadigheid vlieg by die deur uit met die Nazikampe.  Sou ek buitendien eendag ‘n troeteldier wil aanskaf, soek ek nie ‘n ander se mishandelde diere nie.  Ek soek verkieslik iets wat klein genoeg is om na my hand te leer of nie.  Deel van ‘n troeteldier is tog om hulle babadae te geniet. 

Dit laat dus koerante, supermark advertensies, kennisse, telers en helaas natuurlik ook troeteldierwinkels.  Alles euwels erger as die duiwel volgens die seepkissie mense.  Ek keur nie “puppy/kitten mills” goed nie, maar ek dink darem nie dat iemand wat hulle diere af en toe toelaat om kleintjies te kry, satan se bloedfamilie is nie.  Daar is niks fout met een of twee keer se kleintjies nie, maar dan behoort daar ‘n dik streep getrek te word. 

Nou terwyl ek nie van diktators hou nie, hou ek nog minder van mishandelaars.  Wat die keuses nogal beperk.  Die basies idee is seker mos maar om te loer wat daar is en wanneer jou sokkies op en af rol, te gaan kyk wat beskikbaar is.  Jy kan dan aan die toestand van die teef / wyfie en die omgewing sien of die mense mooi na hulle diere kyk.  Hulle kyk jou dan sommer ook uit.  Jy maak jou keuse, betaal en staan dan ma vir die dier. 

Tog is daar niks wat sokkies anker soos pryse nie.  Nie dat ‘n mens omgee om ‘n goeie prys vir ‘n goeie dier te betaal nie.  Dit gee die verkoper boonop die versekering dat die dier se nuwe eienaar ernstig oor die aankope is.  Nou die dag doen ek so liggies navorsing oor telers.  Net so om ‘n gevoelente te kry.  Natuurlik gee niemand jou ‘n prys nie, dit sal mos banaal wees.  Na ‘n rukkie bel ek toe sommer een net om ‘n idee te kry.  R8000!!!  Anders gestel, ‘n salaris waarop mens al moet belasting betaal. 

Dit bring ‘n mens terug na supermarkte, koerante en kennisse.  Terwyl jy liggies wonder waar jy dalk ietsie kan afknyp – hipoteties gesproke.  Dit is darem ‘n brak met meer papiere as jy. . .

Hoe behoort mense deesdae te werk gaan as jy ‘n opregte ras soek (gun elkeen sy snobisme)?  Hoe maak jy seker jy krap nie ‘n intelery oop nie?  Hoe maak jy seker dat die dier nie net ‘n kommoditeit is nie?  Natuurlik sonder om jou hele salaris in die dier te druk.  Jy moet immers nog begroot vir klasse, kos, veeartse, speelgoed ens.

Breinvasbrand:  Wat was Lady se man se naam?

Breinlosbrand:  Olga was reg dat Branson en vriende nuwelinge (maagde) in die besigheid was.