Byt die hand wat jou voer

20 02 2012

Idiome, veral seker die wat vertaal is, is miskien geyk, maar die waarheid is seker selfde roemryk.  Nogal ironies dat ek nou van roemryk praat.  Daar is maar ‘n klein verskil tussen beroemd en berug.  Beide titels maak jou ‘n bekende en vir party mense is om bekend te bly enige koste werd.  Al moet jy jou vernederende vuil wasgoed in die openbaar was.  Solank mense net van jou praat.

Natuurlik verwys ek na ‘n sekere oud-rugbyspeler met ‘n ongeneesbare siekte en sy vervreemde vrou.  Hy huil op ‘n bekende tydskrif se skouer dat sy kinders nie Afrikaans mag praat nie, want hulle ma glo dit is glo kommin.  Nie juis dat ek veel simpatie met aandagsoekers het nie, maar dit is darem net te vermetel om te ignoreer.  Siende dat die einste ma se musiekloopbaan juis gebou is op die mense wat die kommin taal hulle eerste taal noem.  Dit gaan my verstand te bowe hoe jy kan probeer ryk word van mense wie se taal jy minag.  Ek reken dat dit beteken dat jy jou werk (of sang) ook kommin vind en dat trots nie juis te sprake is wanneer geld inrol nie.

Om eerlik te wees, is dit eintlik presies wat ‘n mens van haar sou verwag.  Ek onthou ‘n insident van ‘n paar jaar gelede waar sy ‘n ander bekende sangeres beskuldig het dat die haar na-aap.  Later het dit uitgekom dat was dit nie vir die ander sangeres nie, die liewe Mev Ex-Springbok nie ‘n loopbaan gehad nie.  Die sangeres het haar gehelp om op haar voete te kom.  Toe, op ‘n dag toe sy nie meer nodig was nie, toe kon sy vuilgesmeer word.  Dus is daar van dankbaarheid nie juis sprake.

Mens sou dink dat ‘n mens jou neus moet skoon hou as jy twee kinders moet versorg en jou vervreemde man elke sent nodig het om te oorleef.  Aan die ander kant, in die geval was dit juis die man wat die klippe gegooi het.  Mens verwag darem nie die goed wat jy jou kinders in die privaatheid van jou huis skel openbaar gemaak gaan word nie.  As ‘n mens simpatie soek, help dit nogal as jy die lesers kan oortuig dat jy ‘n arme slagoffer nie.

Daar is ‘n gesegde dat ‘n mens nie die hand byt wat jou voer nie.  Daar is ook ‘n gesegde dat ‘n mens nie die brûe agter jou verbrand nie.  Eintlik logies.  Tog is daar mense wat amper daagliks oor hulle werk of werkgewers galbraak op Facebook.  Dan nog boonop verbaas is as hulle gevang word.  Die media is tog nie meer net vir die bekendes beskore nie.

Dalk is dit net ‘n tyd wat ons veral versigtig moet wees met wat ons sê.  Vriende en geliefdes van vandag is more se vyande.  Nogtans sal ‘n bietjie respek vir ons brood en botter nie skade doen nie.

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  Wat was Joost van der Westhuizen se posisie as rugbyspeler?

Breinlosbrand:  Olga was reg met piesangs