Orrie borrie

31 03 2012

S^enaand, maatjies.  😉 Dis alles Merriegriet se skuld, rerag, ekke belowe.  Toe sy huis toe gekom het van Kieliemanjare, het sy soos ‘n spekvark gebrul.  👿  Toe het ek laat spider voordat sy my kon vang en Kieliemanjare toe kon stuur.  😥  Toe het ek ‘n verleentheid saam met ‘n tannie oom gekry in sy rooi kar.  😉

Hy het nie geweet dat ek saamry verleentheid gekry het nie. Toe het ek by Blommekoort, 🙂  my ou koskombuis toe ek op Wasdituit was, gegaan wegkruip sodat Koningin by my nie kon Kieliemanjare toe stuur nie.  🙄

Toe het ek gevergeet van Vrydag. 😯  Maar nou is ek hier.  Myse Ouma Heldina het my gevertel dat ‘n goeie Heksie nooitste ooit ooit van haar maatjies vergeet nie.  :mrgreen:

Toe ek met die taksneus huis toe gekom het, het ek gelukkig die rekendingetjie wat nie ‘n kou-ke-nyter of ‘n madam is nie, op die yskas gesien.  😳  Nou kan ek vir julle kom gevertel het dat julle nog my goeieste maatjies in die alles overste is.  😆

Verniet die naweek maatjies.  My sturiemente tjommas wag vir my.  Ons gaan koek eet en rooi koeldrank  drink terwyl Koningin By vir my soek.  😉

Tarraloe Maatjies.  soetwees.





Kinders van ‘n ander aard

30 03 2012

Elke diertjie moet ‘n plesiertjie hê.  Tog is die plesiertjie dikwels dekselse harde werk wat enige mens laat wonder of dit regtig die moeite werd is.  Vir baie mense is ‘n stokperdjie ‘n kind, een wat met baie ywer en toewyding versorg en vertroetel moet word.  Die uitkoms bied vir hulle ‘n onbeskryflike beloning, maar iemand wat nie te veel vir die kind omgee nie wonder of dit regtig die moeite werd was. 

Ek dink nou byvoorbeeld aan ‘n toneel in Dennis the Menance waar die Wilsons vir jare lank die een plant versorg het.  Die blom was uiteindelik reg om te blom.  In die aand en net vir ‘n paar sekondes.  Ek sou beslis nie die moeite gedoen het vir net ‘n paar sekondes nie. 

Ek geniet ‘n mooi tuin net soveel as ‘n volgende.  Dit vat egter ‘n streepsak vol sweet en geduld om ‘n lushof te skep.  Die arbeid word egter nie beloon nie.  Dit vat net soveel tyd en sweet om dit ‘n lushof te hou. 

Ek dink aan mense wat orgideë kweek.  Ek kan seker die bonsai liefhebbers daar in gooi.  Hulle plantjies vreet die helfte van hulle begroting op en driekwart van hulle tyd.  Goed en wel, die eindproduk bly en die gevoel van trots sal seker vermeerder.  Alles net op ‘n potjie of 3?

Dan kom ons by die scrapbook-kers en die mosaiek-liefhebbers.  Hulle sal altyd iets kry om mee te woel en hulle handewerk is dikwels besonders.  Ek het nie eers van spoeg en plak in die kleuterskool gehou nie, wat is die kans dat ek dit vrywillig sal doen?  Nul. 

Soos julle kan sien is ek aan die lui kant.  Ek wil die minimum moeite insit en die maksimum voordeel daaruit trek.  Ek sal byvoorbeeld seëls versamel, maar as al die skaars en duur seëls nie agter my aanloop nie, gaan daar nie juis veel met die seëls gebeur nie. 

Die sleutel lê seker in passie.  Enige stokperdjie is tydrowend en vreet geld soos die staat.  Wanneer dit egter ‘n passie is en nie bloot ‘n stokperdjie nie, is dit ‘n bysaak.  Wat vir een na ‘n vermorsing van geld en energie lyk, is vir ‘n ander amper soos asem haal.  Niemand gee tog om om geld te mors op iets wat hulle geniet nie. 

Watter stokperdjies put jou uit net om daaraan te dink?  Watter stokperdjies kan jy nie genoeg van kry nie?





Chamber of Horrors

29 03 2012

Miskien is dit net my yskas wat ‘n plek van onheil is.  Ek wonder soms of ek nie ‘n krieketkolf byderhand moet hou as ek daarin moet gaan nie.  Daar is verseker dinge aan die broei daar. 

Ek het nou wel nie die grootste van yskaste nie en sover ek kan oordeel kwyt hy homself nogal goed van sy taak.  Dit is seker nie sy skuld dat ek soms wel groente en vrugte koop en dit dan getrou in die yskas bêre nie.  Die groot probleem is seker dat ek daarvan vergeet.  Geheel en al. 

Ek weet daar is melk en margerien in die yskas en ek het nogal ‘n vermoede dat daar jogurt ook is.  Af en toe sukkel ek om plek vir iets te kry en dan moet ek wonder hoekom die yskas so vol is.  Dit is dan wanneer ek verdroogde of bederfde groente, vrugte en selfs kaas kry (het ek dan kaas gekoop???).  En sien hoe vol stof die ding is.  Ek meen, hoe het daar stof in die yskas gekom?  Daar is ook een of ander onidentifiseerbare vloeistof.  Ek is dan skoon verbaas dat die melk nie suur is en dat ons nie een of ander vergiftiging opgedoen het nie. 

Ek moet toegee, dat die yskas nie net onaangename verrassings inhou nie.  Daar kruip soms ‘n bottel of drie sap of koeldrank weg.  Ek het onlangs selfs ‘n bottel wyn in die yskas gekry.  Weereens geen idee waar dit vandaan kom nie.  As jy diep en lank genoeg soek is die kanse goed dat jy sjokolade kan kry.  Wat net mooi niks makeer nie. 

Jy moet net dapper wees.  En hoop niks bespring jou nie.  Aan die anderkant, wat beteken ‘n skattejag sonder gevaar?

In watter toestand is jou yskas?  Hoe hou jy dit in ‘n aangename toestand?  Hoe sorg jy dat die bederflike goed gebruik word voordat dit hare groei?

Breinvasbrand:  Waarvan is die naam Kelvinator afgelei?

Breinlosbrand:  Olga was eerste reg met Nancy.





Kinders vir Vuil Werk

28 03 2012

Daar is vandag ‘n berig in Beeld hoe ‘n kleuter gebruik was om goed van Super CD te steel.  Ek dink die blote gedagte sal enige ordentlike mens met afgryse vervul.  Dit is tog blote ordentlikheid wat vereis dat ‘n mens nie ‘n kind gebruik om jou vuilwerk te doen nie.  Tog is dit geen nuwe gier nie. 

Dink maar aan Oliver Twist wat geleer was om mense op straat te beroof.  Daar was moeilikheid as hulle by die huis gekom het met te min buit.  Ek herinner my ook aan ‘n ander storie (die naam ontgaan my nou) waar ‘n kind saamgesleep was om deur ‘n venster te kruip om iets te gaan steel.  Goed, dalk fiktiewe voorbeelde, maar nogtans voorbeelde wat op die wêreld van die tyd gegrond was. 

Dit is vandag nog algemeen om ‘n kind by ‘n klein venster te laat inkruip om die huis van binne af oop te maak.  As die oopmaak nie moontlik is nie, kan die kind wel waardevolle goed na die vensters dra.  Ek onthou ‘n artikel van ‘n paar jaar terug waar kinders in Indië gebruik was om deur die riool pype te kruip om huise te beroof.  Die kind het dan die huis deur die toilet ingekom en dan juwele en goed gegaps. 

Winkeldiefstal word ook dikwels deur kinders gepleeg.  Ek het gehoor van die geval waar die versorgers die kind gaan wys wat hulle nodig het en dan buite gaan wag.  Niemand steur hulle mos gewoonlik aan die kom en gaan van kinders nie.  Daar is ook die ouers wat niks daarvan dink om die kinders te stuur om te gaan bedel nie.  ‘n Kind kry tog immers altyd meer simpatie as ‘n groot mens.  Ek praat dan nie eers van die wat teel vir ‘n toelaag nie. 

Daar is mense wat meer subtiel te werk gaan, maar kinders net so skaamteloos uitbuit.  Ek praat nou spesifiek van die mense wat ‘n kind gebruik om ‘n ander in ‘n egskeiding te benadeel.  Die ma wat haar dogter opsteek om te verkondig dat die pa met haar gelol het.  Kinders wat gebruik word om op die ander party te spioeneer.  Kinders wat opgesteek word om die ander party te straf.  Mens kan seker ‘n hele skrywe wy net oor onderhoud.  Die een party wat die kinders misbruik om meer geld te eis as wat nodig is of die ander wat die kinders laat ly sodat die versorger nie ‘n aks voordeel trek nie. 

Kinders is seker handige gereedskap, maar wat gebeur die dag wanneer hulle die gereedskap hanteer?  Word dit ook maar net ‘n bose kringloop van misbruik?  Word die vaardighede wat hulle nooit moes leer nie vir die normale lewe aangewend?

Hoe voel julle oor mense wat kinders vir vuil werk aanwend?  Watter ander voorbeelde is daar waar kinders skaamteloos misbruik word?

Breinvasbrand:  Wie was Oliver Twist se vriendin wat basies vir hom gesterf het?

Breinlosbrand:  120 / 80





moggels

23 03 2012

 

Merriegriet ry na-ha die dam

Ry op haar vet ou saamprater

Hoe gahaan Laviga dan tog skater

:mrgreen:

Merriegriet dink tog sy is snaaks.  Sy dink mos sy is koningin By.  Ek het moggels vir haar.

😀

 

Sy sê   sy sê    sy sê sy gaan kielie sommer ‘n man vir jare, wel, ek wil nie ‘n man gaan kielie nie.

🙄

toe steek ek tog lekker haar rekendingetjie weg.   Nou het sy “kieliemanjare” toe gegaan.  Ek hoop die oom-tannie lag nie eers een keer nie.

😳

 

Dis tog net haar eie moggels.  Ek het die rekendingetjie.  Sy jok mos en sy sê

sy sê

sy sê dis tog nie ‘n rekendingetjie nie.

😯

 

Sy jok vreeslik en sê dis ‘n madam.  Maar dit is nie.

😥

 

Sy sê

sy sê

sy sê ‘n rekendingetjie is ‘n    ‘n           ‘n KOU – KE – NYTER.  Of ‘n sak rekenhaar.  Maar ek het gekyk daar is nie ‘n haar in die sak nie.  Dis ook net haar moggels.

;P

Nou hou ek en Ouma Heldina lekker piekniek en sy kielie oom tannies.  Ek wens hulle voete stink.  Dit is ook haar moggels.  Ek en myse Ouma Heldina kuier lekker en die maatjies kuier tog met ons.

😆

Merrie  Griet ry na die boggels

Ry in haar blou hou maantuigggg

Maar dis haar moggels





Haaie Swem

17 03 2012

Ekke het tog saam met die haaie gevlieg.  :mrgreen:  En hulle wou my glad nie eet nie.  😆

Merriegriet is tog lekka jaloers.  😈  Sy sê dat geen linksdinkende ding in elk geval ‘n heks wil eet nie.  🙄  Hekse gee glo velbrande!

Sy is lekker dom!  😀  Die haai het gedink ek is vriendelik.

Tata Maatjies





Jouself vloek

16 03 2012

Daar is ‘n tye dat ‘n mens jouself darem kan verwens.  As enige iemand anders jou deur dieselfde gesit het, sou daar bloed gevloei het.  Dit is egter so dat ‘n gesonde normale mens ‘n sekere mate van selfliefde het en nie van pyn hou nie.  Derhalwe gaan jy nie jouself enige pyn aandoen nie.  Maar daar is tye wat jy jouself sal vloek soos geen ander sal waag nie.  Elke mens is immers hulle eie grootste vyand. 

Om een voorbeeld te noem.  Verbeel jou jy werk ‘n volle dag lank aan ‘n dokument.  As deel van die dokument moet jy omtrent van ‘n 100 ander verskillende dokumente inligting kry.  Jou rekenaar raak ‘n bietjie vol en jy wil een van die verwysings dokumente toemaak.  Tipies microsoft gaan hulle hulleself verbeel daar was ‘n verandering en jy gaan half ongeduldig NEE sê wanneer die vragie gestel word.  Wanneer jy egter na jou harde werk wil terugkeer besef jy met ‘n slag dat daardie vragie ‘n hele dag se sweet was.  En dat daardie onbesonne NEE nie ondaan gemaak kan word nie. 

Dit is dan wanneer jy jouself iets leliks kan aandoen.  Jy moet natuurlik weer van voor af begin en hoop jy mors nie weer op nie.  Natuurlik wil jy eerder Microsoft ‘n brief skryf oor hulle simple sagteware.  Ek meen.  Kan die verbrande rekenaar my nie vertel ek het ‘n hele vervlaksde dag geswoeg aan die dokument en dat ek my laaste 3 hare daaroor gaan uittrek nie? 

Wat het jy al ooit aangevang waarmee jy jouself al liederlik verwens het?





Bloeddruk Vriende

15 03 2012

Ek dink elke vrou het ten minste een bloeddruk vriendin.  Ek is nie so seker of mans dieselfde situasies ervaar nie. 

‘n Bloeddruk vriendin is ‘n vriendin wat altyd jou bloeddruk om een of ander rede opjaag.  Eintlik weet jy nie hoekom julle vriende is nie, want elke keer wat jy met haar te doen het, vererg jy jouself bloediglik.  Ten spyte daarvan is julle nogtans vriende en jy het geen planne om nie meer vriende te wees nie. 

‘n Bloeddruk vriendin lyk nie altyd dieselfde nie.  Dit kan Marie wees wie se man haar gereeld rondklap.  Sy het jou in haar vertroue geneem, maar eintlik kan jy net nie verstaan hoekom sy hom nie uitskop nie.  Dit kan Daleen wees wat ‘n affair het, al het sy ‘n wonderlike man.  Sy stem met al jou redelike argumente saam, net om die volgende dag weer te val.  Miskien is dit Retha wat meer voorskrifmedisyne ‘n dag inneem as wat ‘n normale mens kos eet.  Gina het weer ‘n neiging om ‘n klomp snert te verkondig en dit dan boonop self te glo en Alet se lewe stort in mekaar al het sy regtig niks om oor te kla nie. 

Alles mense wat jou wieletjies pap maak en op jou laaste druppel energie parasiteer.  Jy weet dit, maar jy laat dit nogtans toe.  Hoekom?

Dalk omdat dit tog op die einde van die dag tog vermaaklik is.  Drama is altyd ‘n goeie verkoper en ‘n ander se drama is tog ook soveel meer interessant.  Dit is moontlik net weer ‘n geval van dat verskillende mense verskillende behoeftes in ons lewe vervul.  Net miskien is dit die vriendin wat jy ten alle tye op kan reken om jou uit ‘n gemors kan help.

Het jy ‘n bloeddruk vriendin?  Wat van jou vriendinne laat soms jou bloeddruk styg?  Is jy dalk self ‘n bloeddruk vriendin? 

Breinvasbrand:  Wat is normale bloeddruk?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Alexander Maconochie.





Parool se voet

14 03 2012

In enige beskaafde samelewing is daar iets wat bekend staan as die wet.  Al ken ‘n mens nou nie elke draai en swaai van die wet nie, word daar van elke mens verwag om die wet te gehoorsaam.  As jy dit nie doen nie, word jy gestraf. 

Nie onmiddelik nie.  Jy moet eers voor die hof gedaag word.  Daar moet een man / vrou oortuig word dat jy skuldig is.  Jy het selfs die reg om dieselfde man / vrou van jou onskuld te oortuig.  Hy of sy maak ‘n besluit oor jou skuld of nie.    As jy wel skuldig is, word daar tronkstraf vir jou gereël, in ooreenkoms van die gewigtigheid van jou oortreding. 

Tronkstraf is egter selde so erg soos wat dit aangekondig was.  As jy vir 12 jaar tronk toe gestuur is, is die kanse goed dat jy na ‘n derde (of is dit nou 2 derdes) van jou straf op vrye voete gaan wees.  Dit word parool genoem.  In ‘n mate almal se hoop, want tronke is toe nie ‘n piekniek nie. 

Dit is egter interessant dat daar gewoonlik heel eerste onder mense op parool gesoek word vir ‘n sondebok.  En dat die sondebok dikwels op parool uit is.  Seker geen wonder nie.  As ‘n kind arguments onthalwe vir twee weke gehok word, maar na 3 dae on-hok word, gaan hulle kort voor lank weer vir dieselfde oortreding gehok word. 

Terwyl dit ‘n speletjie is wat beide partye geniet, is dit seker nie doodsake nie.  Tronke bars in elk geval uit hulle nate.  Daar is egter tronkvoëls wat nooit weer die buitekant van die tronk moet sien nie.  Om dit te verseker word hulle vir belaglike tye soos 700 jaar tronk toe gestuur om seker te maak hulle kwalifiseer nooit vir parool nie.  Dit is gewoonlik diegene wat plesier daaruit put om ander te martel  en dood te maak. 

Dan is daar natuurlik ook iets soos mediese parool.

Ek is die eerste een om toe te gee dat daar goeie mense agter tralies is.  Mense wat ‘n swak oomblik gehad het of vir wie daar geen ander uitweg was nie.  Mense wat nooit weer terug sal kom as hulle ‘n opgeskorte vonnis gekry het of na 2 dae op parool uitgelaat is nie.  Daar is seker ook mense wat hulle les leer met ‘n lang vonnis.  Hulle pla my nie. 

Dit is egter die mense wat in die tronk moes vrot wat weens een of ander administrasie weer kan kom verkrag, moor of ou mense se pensioen steel wat my laat sidder.  As jy gevonnis is om jou laaste dae in ‘n tronk te slyt, hoekom word daar dan gepoog om hulle uit die tronke te kry.  As jy veronderstel is om te sterf in die tronk, hoekom dan mik om as ‘n vry man of vrou in jou eie bed die emmer te skop?

Ek is ‘n groot voorstaander van genade en menslike behandeling.  Ek gee nie om as gevangenes goeie mediese sorg kry en soos mense behandel word nie.  Tog, die blote feit dat hulle nie die doodstraf opgelê is nie, is genade genoeg.  Ek dink as hulle vir lewenslank tronk toe gestuur is, moet hulle daar bly tot hulle dood is. 

Dit bring my terug tot parool?  Is dit dalk nie iets wat in geheel geskrap moet word nie?  As iemand vir 10 jaar gevonnis word, maar na 7 jaar op parool vrygelaat kan word, hoekom hulle nie bloot vir 7 jaar tronk toe stuur nie?  Baie minder papierwerk en moeite.  As hulle hulleself dan nie kan gedra nie, voeg ekstra by.  Duidelik geniet hulle dan mos die tronk. 

Hoe voel julle?  Hoe behoort tronke uit te sien?  Behoort daar iets soos parool te wees?

Breinvasbrand:  Wie het in 1840 die moderne idee van parool gedefinieer?

Breinlosbrand: Olga was reg met Arabies.





Die Tragedie

11 03 2012

Ek het al ‘n keer of wat genoem dat Pick n Pay paasbolle vir my onweerstaanbaar is. Van die oomblik wat ek my voete in Kies en Betaal sit, roep hulle my.  Die soet spesery reuk lok my keer op keer na waar hulle net wag om in my mandjie te spring.  Selfs al styg hulle met ‘n volle R3 wanneer hulle veronderstel is om op ‘n special te wees. 

Toe tref die tragedie. 

Pick n Pay het met die resep gekarring!  Ek toer nogal baie in Gauteng rond en nog altyd het die paasbolle my in enige Pick n Pay geroep.  Nie meer nie. 

Mens koop maar dikwels uit gewoonte iets.  Ek was wel bitter teleurgestel toe ek die eerste keer agterkom dat die PnP paasbolle na gewone paasbolle proe.  Niks om oor huis toe te skryf nie.  Ek is ‘n redelike mens en ek het dit as ‘n glips afgemaak.  ‘n Paar weke en 4 Pick n Pays later moet ek aanvaar die koeël is deur die kerk!  Die resep is aangepas en dit doen die baksel geen eer aan nie. 

Ek reken iemand het besuiniging wette ingebring en daarmee die bekoring wat PnP paasbolle vir my gehad het, verbreek.  Ek moet seker dankie sê.  Die paasbolle hardloop nie meer agter my huistoe nie.

Maar nogtans betreur ek die heengaan.  Dit WAS darem maar vrek lekker hot cross buns GEWEES!