Kammaland

13 02 2012

Hoe meer dae, hoe meer dinge.  In Nashville is ‘n 30 jarige gestremde vrou se man en pa in hegtenis geneem vir moord.  Hulle het ‘n paartjie wat dit durf waag het om haar te “defriend” geskiet.  Die man se keel is afgesny en die vrou is dood met haar baba lewendig in haar arms.  Hoe makaber die storie ookal is, is dit nie die ergste nie.  Dit is nie die eerste keer wat so iets gebeur nie en dit is waarskynlik ook nie die laaste keer nie.

Facebook was oorspronklik ‘n manier om kontak te hou met vriende en goeie kennisse.  Toe ontaard dit in ‘n kompetisie oor wie die meeste maatjies het.  Om seker te maak almal word Facebook verslaafdes, begin daar toe Facebook speletjies.  Natuurlik is dit voordelig dat soveel as moontlik van jou vriende ook speel.  As hulle nie wil nie, word daar sommer uit die speletjie vriende vir ‘n vale gemaak.  So land mense met duisende vriende op, aansienlik moeiliker om te bestuur.

Een of ander tyd moet daar gesny word om by die mense uit te kom vir wie jy eintlik facebook hê.  Dit vat tyd om deur ‘n warboel van Bybelversies, grappies en bedekte argumente te kom.  Sodoende word die persoonlike goed van mense wie jy regtig ken gaan mis.  En dit kan wel ‘n verlies wees.

Facebook was veronderstel om kontak tussen mense te vergemaklik.  Wat vir die meer bedaardes tussen ons pret kan wees.  Wat is nou makliker om ‘n nuwe baba met Facebook aan die wêreld bekend te stel?  Dit is ook maklik om mense via Facebook vir sekere goed te nooi.  Daar is egter mense wie se hele lewe Facebook geraak het.  Hulle het kontak met die buitewêreld verloor, verstaan nie meer die wonder van mens tot mens interaksie nie en kan doodeenvoudig nie sonder Facebook aan gaan nie.  Dit is juis hulle wat so gevaarlik is.

Ek sal nou nie sê dat Facebook aandadig is aan moord nie, maar hulle maak dit maklik vir die malletjies daar buite.  Benewens dat Facebook vir telefoonnommers en werksplek vra, is daar deesdae ‘n funksie waarmee jy elke tree wat jy op ‘n dag neem aan die wêreld kan verkondig.  Jy kan dus ten enige tyd mense op ‘n spesifieke plek gaan soek.  Dit kan nie veilig wees nie.

Baie mense neem dit ook verskriklik persoonlik op as iemand hulle van hulle vriendelys verwyder en/of blog.  Persoonlik is ek nogal ‘n kenner op die gebied.  ‘n Natuurlike nagevolg van my wonderlike persoonlikheid.  😉  Aanvanklik sou dit nogal ‘n skok gewees het, maar deesdae pla dit my nie.  Ek weet dus hoe dit voel om geblok te word, maar ek het nog nooit lus gehad om iemand te konfronteer, aan te val of te vermoor weens hulle besluit nie.  Hulle verlies, nie myne nie.

Tog is daar mense wat dit as verwerping sien en wil terug slaan.  Hoekom weet ek nie.  Dit is egter ‘n waarskuwing dat dit baie makliker is om iemand op FB te aanvaar as om hulle weer daar af te haal.  Beste is dus om niemand te aanvaar van wie jy nie seker is nie.  Span ‘n bietjie logika ook in en wees versigtig wat jy op Facebook verklap.

Hoe voel julle oor Facebook?  Dink julle stories soos die gaan mens sku maak vir sosiale media?  Hoe voel julle oor websites wat deesdae mense nagaan om seker te maak dit is nie ‘n vals identiteit nie?

Breinvasbrand:  Hoekom is Facebook se oorwegende kleur blou?

Breinlosbrand:  Gerda was reg met Freddy Moore.  Bruce Willis was haar tweede man.