Ek het nog altyd gemengde gevoelens oor Reach-for-a-dream gehad. Ek is nou nie die tipe wat ‘n sterwende kind se grootste droom van hom / haar sal ontneem nie. Ek meen, wat meer het hulle as hulle drome? Daar is geen ander mylpaal waarvoor hulle kan mik nie.
Aan die anderkant is dit vir my hartseer dat dit die doodsengel se verwagte besoek neem om ‘n kind se drome te bewaarheid. So het jy vir Jannie wat ‘n kankerlyer is en wat graag die see wil sien. Sannie wat oorkant die pad woon wil ook die see sien, maar dit is ‘n droom wat sy dalk as ‘n volwassene kan najaag. Dit is nou as sy die greep van die omgewing kan ontsnap. Hoeveel seuntjies wil graag ‘n Springbokrugbyspeler ontmoet, maar dit is net die siekstes wat daardie kans kry. Die wat die gebeurtenis nie eendag aan hulle kleinkinders oor kan vertel nie.
Ek dink julle kry die prentjie, verdere voorbeelde is seker nie nodig nie. Die verskil is seker dat die gesonde kind die kans het om sy / haar sterre te verander. Die sterwende een se tyd is te beperk en sy ouers en familie se fondse word alles geploeg om hom / haar nog ‘n rukkie langer op die aarde te hou. Dit is menslik. Veral om alles te probeer om ‘n sterwende se laaste wens te vervul.
Ek reken dus dat Reach-for-a-dream nogal ‘n verdienstelike aksie is om te ondersteun. Veral as hulle nog met ‘n prettige idee voorlê wat jou nie ‘n arm en ‘n been gaan kos nie.
3 Augustus is nasionale pantoffel dag vir Reach-for-a-dream. ‘n Dag waarop jy nie jou pantoffels op die laaste oomblik by die deur hoef uit te skop nie, maar daarmee kan gaan werk of winkels toe gaan. Daarmee wys jy jou medelye met die kinders wat sterwend is en sommer ook jou ondersteuning vir Reach-for-a-dream.
Al wat dit jou gaan kos, is ‘n plakker wat vir almal wys hoekom jy jou pienk hasie slippers dra. Dit kos net R10 en is beskikbaar by Reach-for-a-dream en Milady’s.
Ek het al reeds my plakker en soek nog na gevreetjie pantoffels. Is jy in?
Hoe voel jy oor die inisiatief van reik vir ‘n droom? Wat is jou gunsteling inisiatief om te ondersteun?
Breinvasbrand: Wie het sy wildste droom gisteraand bewaarheid om vir Michael Phleps in die 200 m Vlinderslag te wen?
Breinlosbrand: Aurora
Wie runnik saam?