Ek mag dalk al iewers genoem het dat ek ‘n Xena aanhanger is. Uhmm, as my naam dit nie weggegee het nie. ‘n Goeie 4 seisoene gaan oor die volgende filosofie: “To conquer others is to have power. To conquer yourself is to know the way.”
In die storie, word dit as waarheid deur een Lao Ma aan Xena voorgehou. Op die stadium was Xena omtrent die verpersoonliking van boosheid self. Lao Ma skryf dit dan sommer in haar man, Lao Tzu, se boek vol wyshede. Sy hou hom in ‘n koma omdat hy ‘n tiran is. Sy regeer in sy plek en reken sy geskenk aan hom is dat hy as ‘n liefdevolle en wyse heerser onthou sal word.
Goed, ek is die laaste een wat die vervaardigers van Xena sal beskuldig dat hulle ‘n goeie storie met feite bederf. Geskiedenis reken dat Lao Tzu se gevleuelde woorde is. Ek het eendag iewers gelees dat Lao Tzu 60 jaar oud is toe hy gebore is. Ek is geneig om dit met ‘n emmer sout te neem. Tog maak dit eintlik sin.
Hy moes seniel gewees het om sulke twak te praat: “To conquer others is to have power. To conquer yourself is to know the way.” Geen wonder daar was soveel dramas en treurmares in Xena oor hierdie einste filosofie. Persoonlik reken ek hy (of sy manipulerende vrou) wou eintlik gesê het: “To conquer others is to have power. To conquer yourself is to be power.”
Is die “eie-ek” maar nie eintlik elke mens se grootste vyand nie? Wie se skuld is dit as jy te veel eet of ongesond eet? Wie se skuld is dit as jy meer geld uitgee as wat jy het? Wie se skuld is dit as jy op Vreetjieblad ‘n vloermoer gooi wat ‘n tweejarige sal laat skaam kry? Wie se skuld is dit as jy uit woede iemand se nek omdraai?
Sou die wêreld nie ‘n beter plek gewees het as mense net hulle self kon beheer nie? Ongeag watter wette afgekondig word, eintlik het net jy beheer oor jouself. Dit gaan oor keuses en om die regte besluit vir jouself te neem. Selfbeheersing. Iets wat deesdae afgeskryf word omdat dit aansienlik moeiliker is as wat ‘n mens dink.
Deesdae word enige swakhede mos toegesmeer met moenie oordeel nie. Niemand durf mos om iemand te sê om ‘n ruggraat te groei en te doen wat reg is nie. Deesdae is ‘n definisie van reg en verkeerd op sulkself verkeerd.
Jy is op jouself aangewese om enige iets te vermag. Dit maak dus net sin dat jy jouself bemeester. As jy dit kan doen, is geen ster te ver nie.
“To conquer others is to have power. To conquer yourself is to be power.”
Terloops, laat weet my as iemand hom/haarself genoeg bemeester het om te kan vlieg!
Wie runnik saam?