Homofobie op Skole?

30 01 2012

Skole is blykbaar ‘n plek waar almal een of ander klap deur die lewe toegedien moet word.  As dit nie groepsdruk is nie, is dit boelies.  Daar is probleme by die huis en onderwysers wat hulle buie op die kinders uithaal.  Die vakke is vervelig of anders is alles te moeilik.  Niemand verstaan die arme bloedjie nie en sy/haar selfvertroue is na die maan.  Les bes is daar nou ook homofobie om seker te maak kinders het al hulle dae van hel by die skool.

In die eerste plek dink ek skole sal al reeds beter af wees as mense wat hulleself soos volwassenes gedra as onderwysers aangestel word.  Ek is ten gunste van reuse salaris vir onderwysers, maar net as hulle aan sekere keuringskriteria kan voldoen.  As jy dan soos ‘n kind wil optree, moet jy maar werk vir sakgeld.  Daar is onderwysers wat boelies in hulle kwaad strek en ammunisie.  Natuurlik lag hulle net so hard vir die arme slagoffer wat grond moet eet.  Nie dat ek vandag op my seepkissie wil skaats oor onderwysers nie. 

Hierdie homofobie op skole het my aan die herkou.  Al pas ek jare lank nie meer in my skoolklere nie, maar ek kan darem nog die meeste van die reëls onthou.  Een van die wat streng afgedwing was, was dat geen liefkosery op die skoolterrein of in skoolklere mag gebeur nie.  As ek nou reg kan onthou, moes daar ten alle tye tenminste 30 cm tussen jou en jou geliefde wees.  Dit kon nogal heel tegnies raak, maar die boodskap was duidelik.  Mangelhokkie hoort nie voor ‘n gehoor nie.  Enige iets meer as dit, hoort in elk geval nie by ‘n skoolkind nie.  Volgens die landswette, is selfs mangelhokkie voor die ouderdom van 16 taboe.

Nie ‘n onredelike reël nie, veral omdat ‘n mens dit in elk geval van ‘n fatsoenlike mens verwag.  So ‘n openbare gesuigery, gelekkery, gevryery en bebytery kan enige mens ‘n onskuldige kat laat skiet.  Ongeag van die geslag, kleur of ouderdom van die deelnemers.  Sou die reëls nagekom word, sou daar nie juis plek vir homofobie wees nie.  Almal sou in hulle optrede by die skool aseksueel wees.

Dit is so effens oorvereenvoudig.  Dinge van buite die skool, het tog ook ‘n invloed.  Die waarheid maak ook maar weinig saak wanneer iemand gebrandmerk word.  Dit is waar geen verdraagsaamheid teenoor boelies moet geld.  Ongeag die slagoffer wit of swart, vet of maer, lelik of mooi, gay of straight, Moslem of Christen is.  Boelies sal altyd ‘n rede kry om te floreer. 

Fobie kom van die Grieks vir vrees af.  Gewoonlik is dit die persoon wat met die vrees sit, wat bejammer word.  Dit is amper ‘n gestremdheid wat die persoon verhoed om volwaardig te lewe.  Iewers het die fokus geskuif.  Fobie het ‘n verskoning geword om die lyers se probleem iemand anders s’n te maak.  Dink aan Xenofobie (die vreemdelinge het nie ‘n probleem met die vreemdes in die vreemde land nie) en natuurlik homofobie.  Bo alles is dit die vrees van erkenning – sou die lyer die erken, weet hy/sy immers waar die probleem lê.  Waar dit nie weg geboelie kan word nie?

Wat dink julle oor homophobia, veral op skoolvlak?  Wat  van openbare liefkosing?

Breinvasbrand:  Wat is Caligynephobia?

Breinlosbrand:  Olga was reg met sy beatiful wife.

 





Baie Geluk

30 01 2012

Klein Merrie Phoenix is gister aand gebore.  Sy is 50 cm lank en weeg 3.1 kg.  Alles is 100 % met haar en Mamma Selene.





Gausous

27 01 2012

Hallo Maatjies!!!

Ek het ook so ‘n bietjie met die Gausous gary!!  :mrgreen:  Ek is ‘n heksie wat weet van Gausous.  😯

Eerste moet ‘n heksie ‘n grootboekkaart koop om op die Gausous te ry.  🙂  Jy voer die masjien geld en dan spoeg dit vir jou ‘n kaart uit.  🙄  Heksies kan nie daarmee roomys koop nie, jy kan net op die Gausous ry.  😡  Simpel kaart!!

Wanneer die Gausous kom moet jy vinnig inspring.  😆 Vra maar vir Merriegriet, die gausous het vir weggeroei toe sy nie vinnig genoeg was nie.  😀  Binne moet jy net mooi op jou stoel sit.  😯  Ekke het gedink ek gaan afval as dit so vinnig roei, omdat daar nie veiligheidstoutjies is nie.  :mrgreen:  Gelukkig het ek nie, anders sou ek my prokstituut op hulle moes sit.

Ek het gedink die Gausous gaan soos ‘n vliegmasjien wees.  😯  Dat dit nie gaan stop langs die pad om te gaan piepie nie.  :mrgreen:  Maar die Gausous stop baie langs die pad.  🙂  Dan klim daar maatjies op en af.

Maar ek wil nie snaakswees nie, maar die Gausous lyk net soos ‘n trein!  ❗  Die mense dink seker dat alle heksies dom is, maar ek is ‘n slim heks.

Tata maatjies

 





Tevrede se gat

27 01 2012

Daar is mense wat sê dat net tevrede ‘n te voor aan kan hê.  Duidelik het iemand nie die saak behoorlik deurdink nie. 

Ken julle die gevoel van punt in die wind?  Daardie punt wat dit doodeenvoudig nat nie kan beter nie, selfs al sou jy die Powerball van oor ‘n R100 miljoen net daar wen?  Enige iemand met ‘n tikseltjie lewenservaring weet dat dit die punt is wat die rooi vlaggies gehys word.  En dit het niks te maak met ‘n wiel wat draai nie.  Wanneer jy “on top of the world” is, val jy soos ‘n rots na onder. 

Dit is soos wanneer jy jouself op die skouer klop vir werk wat goed gedoen is, dan verander die blerrie reëls of verwagtinge.  Jy dink dalk jy het jou kinders goed groot gemaak en die volgende dag word een gearresteer vir verkragting.  Jy dink jy gaan nou ‘n neseier bou wat beny kan word, dan vreet onvoorsiene uitgawes jou laaste sent op.  Daardie kontrak wat jy tot perfeksie afgerond het, word aan iemand anders toegeken. 

Blykbaar is die mens maar gemaak om te sukkel.  Anders is daar seker ‘n fyn lyn tussen tevrede en selfvoldaan.  Die olimpiese leuse is seker ‘n wysheid.  As jy meer en beter gaan soek, gaan jy nooit tevrede wees nie.  Jy gaan altyd klim en nooit ‘n bopunt kan kry waar jy af kan neuk nie. 

Of praat ek nou snert?  Ken julle daardie gevoel wat so vinnig in ‘n gemors verander?

Breinvasbrand:  In Alanis Morrisette se liedjie, Ironic, wat is ironies aan “meeting the man of your dreams’?

Breinlosbrand:  Gerda was eerste reg met Donovan Moodley





Slagofferregte

26 01 2012

Ek hoor vanoggend op die radio dat Leigh Matthews se pa ‘n beroep op die regering doen dat slagoffers se regte ook in ag geneem moet word.  Die media het hom die stem gegee waaroor baie mense al baie lank brom.  Die persepsie dat die oortreder se regte nie net swaarder weeg as die man op straat nie, maar dat die oortreder se regte bo die van die slagoffer is. 

Die blote reg dat daar ‘n slagoffer was, wys dat iemand se regte sonder rede van hulle ontneem is.  Daar word ‘n saak gemaak en die skuldige word dalk vasgetrek.  Op die punt word daar basies vergeet dat daar ‘n slagoffer is.  Die oortreder neem nou die vloer, met aansienlik meer regte as waarop die slagoffer op staat kan maak.  Die staat moet namens die slagoffer bewys dat hy skuldig is.  In die proses word daar in elk geval meer van die slagoffer se regte ontneem, terwyl daar baie seker gemaak word die oortreder se regte is onaantasbaar.   

‘n Goeie voorbeeld is dalk verkragtingsake.  Een of ander stadium word die slagoffer op die getuiebank geplaas.  Sy word nie net gedwing om die hele storie hardop te vertel nie.  Haar karakter word ook aan flarde geruk.  Alles word in die stryd gewerp om haar te breek, om te wys dat sy nie ‘n geloofwaardige getuie is nie.  Ongeag daar gronde vir die aantygings is of nie.  Sou enige iets anders ‘n soortgelyke aanval loots, sal sy waarskynlik ‘n siviele eis kan instel.  Dit is nie ‘n luukse wat sy in die hof het nie.  Sy kan ‘n goedkoop slet genoem word, maar die oortreder het haar net na bewering verkrag.  Sy is skuldig sonder ‘n verhoor, hy moet skuldig bewys word. 

Mens moet onthou dat daar goeie redes is hoekom beskuldiges regte moet hê.  Aan die ander kant moet die regte ‘n sekere gewig dra.  Om een of ander rede word die oortreder se regte swaarder geweeg.  Hy kan nog te na gekom word, ongeag van die feit dat hy reeds iemand (na bewering) te na gekom het.  Iemand wie se regte ontneem is, kan dit nie terug kry nie, al kan die oortreder wel gestraf word of gedwing word tot vergoeding.  Dit beteken vir die slagoffer niks.  Nee, ek jok, dit beteken vir die slagoffer dat hy/sy nie saak maak nie. 

Oortreders se regte word dus beskerm ten koste van die slagoffers s’n.  In geen wêreld kan dit regverdig wees nie.  Die vraag is hoe word die skaal gedraai?  Hoe word die slagoffer beskerm en vergoed? 

Breinvasbrand:  Wie is gevonnis op die die moord van Leigh Matthews?

Breinlosbrand:  Selene was reg met   Paper Lace





Bang Jan, Dooi Jan of Onnodige Held

25 01 2012

Een ding wat ek al lankal geleer het, is dat mense hulle self Google.  Mense Google hulle geliefdes.  Wat ek dalk dink ‘n geregverdige galbraak sessie is, is dalk net die strooi wat nodig is om ‘n kameel se rug te laat knak.  Lang storie wat basies beteken dat ek persoonlike aanvalle op iemand se menswees of karakter beperk.  Gewoonlik.  Hangaf wie dit is en wat hulle gemaak het.  Ja, ek weet ek het dubbel standaarde.

Mens kan egter dink wat jy wil, al mag jy nie sê wat jy wil nie.  Die een berig wat gister in die nuus was, hou my aan die dink.  Dit is hoe ‘n jong man onder ‘n bed gaan skuil terwyl ou mense aangerand word.  Ek wil-wil hom iets noem, maar probeer ook regverdig wees.  Kanse is dat hy waarskynlik vandag ook ‘n kandidaat vir ‘n begrafnis sou wees as hy wel gaan help het.  ‘n Dapper toekomstige wat dood is, beteken nie veel nie.  Mag waar wees, maar daardie woordjie wil maar net nie rede in sien nie.  Ek wonder ook of sy verloofde altyd in die hitte van die oomblik sy wysheid gaan insien.

Ek hou oor die algemeen nie van macho-crap nie.  As ‘n man altyd wil wys hoe manlik hy is, wys hy eintlik hoe pateties die is.  Dit is dalk oulik in ‘n seuntjie van 5, maar wanneer jy Oros vir drank verruil is dit bekotsingswaardig.  Aan die ander kant hou vrouens tog ook van manlike (wel opgevoede mans).  Wie wil nou met iemand trou wat wanneer daar vreemde geluide is, gaan wegkruip.   Of wanneer die deure oopstaan agter jou gaan wegkruip wanneer daar in die huis gegaan word.  Soos ma’s altyd die versorgers van die gesin gaan bly, gaan pa’s seker die beskermers bly.

Deesdae is mense, met goeie rede, bang om hulle neuse in ander se sake te steek.  Wanneer iemand op straat beroof word, maak mense pad vir die rower om weg te kom.  As bure geskiet word, word daar iemand ontbied, maar daar gaan nie sommer gaan help word nie.  Heldwees kan maklik vandag doodwees.  Dit is presies die rede hoekom misdaad vandag hooggety vier.  Jou opinie van die saak gaan verskil as die die vrou is wat aangeval word en die buurvrou.  Die aangevalde gaan die held buurman ewig dankbaar wees, die buurvrou gaan hom waarskynlik sitkamer toe stuur.  Seker nie almal nie, persoonlik weet ek nie of ek veel respek vir iemand sal hê wat sy rug op iemand in lewensgevaar draai nie.

Maar soos reeds gesê:  ek het dubbel standaarde.  Ek het toevallig gister op TV iets gekyk van ‘n man wat volgens sy gewete opgetree het.  Dit het ongelukkig van hom ‘n verraaier gemaak en almal was opsoek na sy bloed.  Dit het onder meer gelei daartoe dat sy gesin geintimideer, geboelie en sommer na die weermag se frustrasie moes verduur.  Hy was ‘n held, maar danksy dit was sy gesin nou slagoffers.  Sy vrou loop hom wel later raak en is baie bly om te sien hy lewe.  Hy kry dus ‘n warm reaksie.  Ek moet egter sê dat as dit my man was, het ek my skuldig gemaak aan huishoudelike geweld.  Die Engelse spousal abuse werk eintlik net beter hier.

Hoe voel julle hieroor?  Wanneer kan ‘n man (of vrou) ‘n held wees en wanneer is dit beter om weg te kyk?

Breinvasbrand:  Wie het ‘n treffer gehad met Billy don’t be a Hero?

Breinlosbrand:  Olga was reg met munchausen by proxy.





Siek, Siek

24 01 2012

Om siek te speel is nie juis iets nuuts nie.   Kleuters doen dit wanneer hulle nie lus is vir skool nie.  Hulle span dit selfs as ‘n verskoning in as hulle nie besonders lus vir seker takies nie.   Kinders doen dit vir skool.  Studente is geneig om dit vir toetse in te span waarvoor hulle nie lus is nie.  Dan betree mense die arbeidersmark en skielik word daar siekverlof ingespan vir trek, lang naweke of sommer net omdat mense nie lus is nie.  Baie mense vertaal die maksimum siek verlof van 6 weke in 3 jaar as ‘n addisionele 2 weke ‘n jaar.

Dit is niks nuuts nie en dit is geen geheim nie.  Wel, die enigste geheim is diegene wat siek pleit inderwaarheid dink mense glo hulle is siek.  Diarree is immers ‘n baie gemaklike sieke.  Kom in een dag, waai in een dag en niemand is lus om oor die besonderhede uit te vra nie.  Behalwe nou as die persoon dom genoeg is om in ‘n baas vas te loop.  Jy kan bittermoeilik inkopies doen, krieket kyk of rondloop as jy nie jou stert van die toilet af kan lig nie.

Hierdie kamma-siekdae kos nogal ‘n aardige bedraggie jaarliks.  Baie besighede begin mense blatant omkoop om die siekerigheid te vermy.  Dit geskiet soms met ‘n bonussie as jy nie siekverlof geëis het nie of in sommige gevalle ‘n geskenkbewys.  Hoe goed dit werk, sal ek nou nie kan sê nie.  My ervaring is in elk geval dat so ‘n siekverlof wat nie te gereeld gebeur word nie, gewoonlik in goeie gesindheid aanvaar word.  As iemand nou aspris hulle 2 weke ekstra verlof wil inwerk nie, gaan daar gefrons word.

Die teenoorgestelde geld ook.  Mense wat soos lyke lyk en dan gaan werk.  Dit lyk of hulle enige oomblik kan omkap, maar as jy sien sit hulle kiertsregop by hulle werkstasie.  Al kos dit hulle dood of steek ‘n paar mense aan wat drasties hoop op siek verlof.  Die ywer kan ‘n mens waardeer tot op die punt waar dit bloot stupid is.

Dan kry ‘n mens die wat bloot net siek in die kop is en die siekheid kan siekverlof net mooi niks aandoen nie.  Daar is hoeveel mense wat met skete en pyne rondloop net vir simpatie.  Sou die simpatie begin taan, raak die pyne en skete erger.  Wat eers pateties is, is wanneer hulle ‘n dokter van die laste probeer oortuig.  Toegegee, die klompie wil nie op ‘n hopie sit en hulle self bejammer nie.  Hulle soek toeskouers en daag dus eerder op vir werk.

Daar is dan die ma’s wat hulle kinders siek maak / hou vir een of ander vreemde rede.  Dit is ‘n beskryfde toestand, maar dit is siek op talle vlakke.  Hoe mense hulle gewete so kan verkrag om mense te manipuleer, weet ek nie.

Laaste maar nie die minste nie is die Shaiks en Selebi’s van die lewe.  Hoe Selebi so vinnig so dodelik siek kon word na sy appél misluk het, weet ek nie.  Steve Biko is seker net ‘n meer aangename tronk as Sun City.  Miskien pak sy niere regtig op, maar niemand sal my kan oortuig dat Shaik iets meer as ‘n taai klap makeer het nie.  Dat hy boonop daarmee weggekom het, is om van te kots.  Hy is seker die “Siek Pleit Koning”.

Het jy al ooit siek gepleit sonder ‘n rede?  Wat dink jy van mense wat dit doen?

Breinvasbrand:  Wat word die toestand genoem waar ma’s hulle kinders moedswillig siek maak?

Breinlosbrand:  Olga was eerste reg met “The Body”.





Jong Modelle

23 01 2012

Haar naam is Kaia Gerber, sy is een van die eerste reeks modelle vir die Young Versace reeks.  Haar ma was op haar dag die top van al die Supermodelle gewees.  As daar iemand is wat die modewêreld ken, is dit seker Cindy Crawford.  En sy is na bewering so trots soos ‘n pou oor haar 10 jarige dogter se debuut.

Kom ek wees regverdig.  Young Versace se teikenmark is tot ouderdom 12.  Natuurlik gaan hulle modelle jonger as 12 moet wees.  Dit is dalk nie my idee van wat ‘n laerskoolkind behoort te dra nie, maar dit is waarskynlik meer die kleur as enige iets anders wat my nie aanstaan nie.  Sy lyk nie vir my 10 nie (sy word 11 vanjaar), maar dalk is dit met die grimering te doen.  Ek het al gewone soet kinders gesien wie se houding meer uitlokkend is op foto’s.

Aan die ander kant, begin modelle deesdae al hoe jonger.  Toe Crawford in 1986 planke toe was, was sy 20 jaar oud gewees en het sy haar studies as ‘n chemiese ingenieur opgeskop.  Oud, oor-die-muur-amper en oorgekwalifiseerd (sy het skool klaargemaak!).  Elle Macpherson was 17 en Naomi Cambell was 16.  Volgens Wikipedia was Charlize 16, tog verbeel ek my 14 was nader aan die waarheid.  As ek reg verstaan was Kate Moss 14 en Linda Evangelista maar net 13.  Dit was nog in die goeie ou dae.

Ek verbeel my ek het onlangs ‘n bohaai raak gelees van ‘n meisie wat ook maar laerskool ouderdom is.  Sy het naam gemaak met pruilende mondjie en gewaagde posisies.  Die girls wat deesdae as sekskatjies uitgebeeld word, is nie eers die wettige ouderdom nie.  Hulle is nog nie eers tieners wat wild kan pleit nie.  Die modelbase laat dit toe en soek dit selfs.  Die ouers gee blykbaar nie om nie of die geld wat so ‘n snotkop maak is genoeg om alle omgee te verloor.

Professioneel modelspeel sit nie in elkeen se broek nie.  Dit is blykbaar blerrie harde werk en nie heeltemal so prettig soos dit mag lyk nie.  Swemklere word byvoorbeeld in die winter gefotografeer, wanneer jasse self gewoonlik truie soek.  Dit is blykbaar ‘n geval van uithou, vasbyt en deurdruk – al is dit teen die natuur.  Dit is om ‘n gewig te handaf ten alle koste, al kos dit jou dood.  Dit is blykbaar ook ‘n wêreld van drank, dwelms en seks.  Is dit die wêreld van ‘n langbeen meisiekind wat nog bates moet ontwikkel en haarself moet leer ontdek?  Wat is die prys wat sy moet betaal?

Dit is waarskynlik eerder die uitsondering as die reël van alle meisies wat droom om modelle te raak.  Dit is nogal gewild om kinders van jongs af vir modelklasse in te skryf.  Dit help glo met hulle postuur en selfvertroue.  Niks fout daarmee nie.  Persoonlik kan ek deur die dak spring as ‘n kleuter haar bors uitstoot vir ‘n foto.  Dit is nie ouderdom geskik nie.  Kleuters moet nie geleer word om uitlokkend te wees nie.

Persoonlik is dit vir my walglik, ander dink weer dit is cute.

Hoe voel julle?  Wat behoort die minimum ouderdom vir loopplank modelle te wees (nou nie vir kinderklere nie)?  Is die geld wat hulle kry die prys werd?  Behoort model klasse kleintjies te leer om soos wafferse modelle te poseer?

Breinvasbrand:  Wat was Elle Macpherson se bynaam?

Breinlosbrand:  Olga was reg met 1948





Mislike West

21 01 2012

Hallo Maatjies!!

Ek is die mooiste en slimste heksie.  😆  Almal hou mos van my en daarom sal Lady Luck ook van my hou.  :mrgreen:  Ek was in die Kaapplek gewees en toe dink ek dat ek elke Vrydag in die Kaapplek wil wees.  😀  Maar Merriegriet wil my nie geld gee vir die vliegmasjien nie.  😡  Sy dink mos sy is snaaks en dat sy koningin By is.  👿  Ekke moes my eie geld maak, maar ek het nie geweet hoe nie.

Toe gaan koekeloer ons by die Kasregister in die Kaapplek.  💡  Toe weet ek!  :mrgreen:  Ekke kan my eie geld wen en dan gaan ek vir Merriegriet niks gee nie.  😈  Dit sal haar leer.  😉  Ek moes net ‘n bietjie met die armpie radio speel.  🙂  Wanneer die radiotjie sing, spoeg dit lekker geld uit.

Maar nee!!! Die ooms met goeters in hulle ore was bang dat ek al die kasregister se geld gaan vat!  😡  (maatjies, sien julle watter groot woorde ken ek?  Kasregister).  Ek wou net ‘n klein foto’tjie neem solat julle kan sien hoe ek borrel!  😦  Anders gaan julle mos dink ek jok en ek is nie ‘n heksie wat jok nie!  🙄  Toe vat die oom die kamera af en steel die foto!  👿

Hulle kan maar hulle kasregister hou!  👿  Ekke wil nie meer na die Kaapplek gaan waar hulle foto’s steel nie!

🙂  Wel, miskien as ons bitch toe gaan.  :mrgreen:  Of op daardie slang gaan ry.  😆

Tata Maatjies





Iemand moet die vark wees

20 01 2012

Ek wroeg al met die vraag vandat ek dit by Skemer gelees het. 

Een van die treffendste tonele vir my uit “Pearl Harbor” is wanneer Evelyn, ‘n verpleegster, uit moet gaan en moet besluit wie behandel moet word en wie eerder moet sterf.  ‘n Posisie wat ek vir een haar nie beny nie.  Nogtans was dit ‘n baie nodige rol.  Daar was net soveel dokters, verpleegsters, beddens en toerusting.  Nie almal kon behandel word nie, daar moes dus die beste van ‘n baie slegte saak gemaak word. 

Dit was oorlog en daar was nie tyd vir ‘n debat in verskeie raadsale en konferensies nie.  Tog is daar mense wat daagliks hulle in min of meer dieselfde bootjies bevind.  Soms kan die kwessie aangegee word na ‘n kwartaalikse vergadering waar daar in rand en sent besluite geneem word.  Besluite wat iemand lam van verligting kan maak, maar mense ook in ‘n put van hulpeloosheid kan dompel waar al die woede in die wêreld niks kan vermag nie.  Geregverdige woede dalk, maar nogtans futiel.  Iemand gaan blameer word. 

As daar individueel na ‘n saak gekyk word, is dit maklik om ‘n oordeel te vel.  Die besluitnemers het gewoonlik meer as een geval wat vir behandeling skree. 

Kom ons trek die ander skoene aan en gebruik ‘n eenvoudige scenario.  Jy is die dokter aan diens en daar is skielik ‘n uitbraak van ‘n onnoembare siekte.  Dood tree gewoonlik binne ‘n uur in en die pasiente stroom in.  Jy het die volgende mense wie van jou verwag om hulle te behandel.

  • Pasient A:  die Staatspresident.  Diegene wat nie vir hom gestem het nie, was doodeenvoudig nie by die stemstasies nie.  Hy doen goeie werk wat almal tevrede stel en sy kritici kry geen modder om na hom te gooi nie.
  • Pasient B:  ‘n 23 jarige verstandelik en fisiek gestremde vrou wat van ander se hulp afhanklik is. 
  • Pasient C:  ‘n Enkelma van twee kinders
  • Pasient D:  ‘n Tienerseun wat ‘n belowende toekoms as ‘n rugbyspeler kan verwag.
  • Pasient E:  ‘n Pragtige 4 jarige poplap, haar ouers se enigste kind
  • Pasient F:  ‘n Man wat die broodwinner van sy gesin is in die fleur van sy lewe.
  • Pasient G:  ‘n Stout laerskoolseun van ‘n gesin van 6 kinders.  Die ouers sukkel maar om kop bo water te hou
  • Pasient H:  ‘n Ouma van 90 jaar oud, wat terminaal siek is aan breinkanker
  • Pasient  I:  ‘n 49 jarige vrou wat ‘n sopkombuis vir 300 honger mense bestuur
  • Pasient J:   ‘n Hawelose boemelaar met ‘n paar inskrywings op sy misdaadrekord.

In die hele land is daar net 5 eenhede van die teenmiddel vir die onnoembare siekte.  Jy het 2 by jou en die ander 3 gaan heel waarskynlik nie betyds opdaag nie.  Jy moet optree en jy moet nou optree.

Wie gaan jy eerste behandel?  Wie gaan op die kortlys wees vir die volgende behandeling?  Hoe gaan jy besluit? 

Ongeag van jou besluit, gaan 5 – 8 mense doodgaan as gevolg van jou besluit.  Daar gaan iemand wees wat gaan omgee en jou gaan verkwalik daaroor.  Jy gaan die vark in die verhaal wees al  het jy wel 2 – 5 mense se lewens gered.  Punt is dat jy iemand se lewe hoër geag as ‘n ander s’n en nie almal gaam met jou redenasie saamstem nie.  Die wat iemand verloor het, gaan jou haat. 

Breinvasbrand:  Wanneer is die Wêreld Gesondheids Organisasie gestig?

Breinlosbrand:  Bileam was reg met 1 Mei.