Mense met oë mag nie kyk nie

29 02 2012

Daar is een ding van elke artikel van ‘n gestremde of verminkte wat ek al gelees het wat soos ‘n paal bo water uitstaan.  Hulle het ‘n hekel aan mense wat hulle in die openbaar aanstaar.  Dit maak hulle seer om so aangestaar te word.   So al asof hulle weens hulle andersheid nie ‘n plek op aarde gegun word nie.  Dalk is die feit dat mense staar net ‘n beklemtoning en as sulks ‘n altydteenwoordige herinnering dat daar iewers iets skeef geloop het.  Iets wat nie reggestel kan word nie en waaraan die lyer waarskynlik geen skuld het nie.

Elke mens met ‘n tikseltjie deernis of empatie, raak sommer saam kwaad vir die mense wat na ander staar asof hulle apies in die sirkus is.  Die meeste mense wil tog nie tot ‘n ander se pyn of lyding bydra nie.  Daar is tog ‘n geneigdheid om die te beskerm wat weerloos en uitgelewer aan die genade is.  Sulke artikels is ook gewoonlik geskryf om emosie te ontlok.  Die onsensitiewe blikskottels wat staar word beslis deeglik geskel en verwens.

Hoekom is dit so moeilik om hand in eie boesem te slaan.  Terwyl die blikskottels gevloek word, vergeet ons gerieflik dat onsself aandadig is.  Wanneer iets nie reg lyk nie, is dit ‘n normale reaksie om weer te kyk.  Die mens is tog immers met rede so gebou, dit is ‘n eienskap wat ons onder meer veilig hou.  Dit is tog immers nie asof jy regtig ‘n ander, weerlose mens wil verneder of wil seermaak nie.

Ek erken dus – ek is waarskynlik een van die hartelose buffels wat kyk na mense wat misvormd of gestremd is.  Gedagtig aan die duisende artikels wat ek al in my lewe daaroor gelees het, probeer ek dit onopmerklik doen.  Partykeer vang ek myself staar en kyk dan skuldig weg.  Blykbaar is dit alreeds sout in die rou wonde.

Vandag weer het ek ‘n man opgelet wat lyk of hy ‘n gat in sy kop het.  Met die tweede kyk het ek gesien die helfte van sy gesig is weg.  Hy het net een oog, een wang en die ander helftes van sy neus en mond was weg.  Dit is nie asof ek hom bejammer het of deur sy voorkoms gewalg was nie.  As ek dan iets genoem moet word, is geinteresseerd seker die naaste aan die waarheid.  Ek het gewonder wat met hom gebeur het en wat die impak op sy lewe was.  En of dit veilig is met hom agter die stuurwiel.

Dit staan seker ‘n konflik met mekaar.  Die mens se natuurlike reaksie om twee keer te kyk en die mens se reg tot waardigheid.  Ek is nie seker of daar ‘n goue middeweg is nie.

Staar julle soms?  Voel julle soos die vark in die verhaal as dit gebeur?  Is ek net besig om na verskonings te soek wanneer ek myself op menslike natuur beroep?  Behoort die samelewing dalk meer uit te reik om gestremdes en verminkes aanvaarding te wys?

Breinvasbrand:  In die 1818 eerste uitgawe van Frankenstein in London, as wie is die skrywer aangegee?

Breinlosbrand:  27 Julie