Prostitusie

24 02 2020
amsterdam canal lights red light district

Photo by Skitterphoto on Pexels.com

Julle weet teen die tyd al dat die HAT ‘n foto van my as die definisie van nuuskierig het.  Verder, word ek dikwels verwyt dat ek te maklik veroordeel (judgemental).  As daar nou een ding is wat ek nie kan weerstaan nie, is dit om foto’s te neem waar ek nie mag nie.

Sit nou ‘n mens soos ek in Amsterdam (Nederland) en jy kan verseker wees dat ek in die rooiligdistrik gaan rondneus.  Om die rooiligte nou behoorlik te beskou, is ons na donker in die berugde distrik in.  Na so ‘n paar draaie, is ons nogal half teleurgesteld.  Geen rooi ligte nie.  Ons onderneem om net nog om die hoek te gaan kyk, en daar is dit.

Ek het nou nie veel nut vir die dames nie.  Nogtans het ‘n paar dinge my die aand geskok.  Die mans maak regtig die deur oop om die besigheid daar en dan te beklink.  Daar is heelwat van die stalletjies met toe gordyne.  Diegene wat op skou was, is baie ongeërgd.  Hulle speel op hulle selfone of gesels met hulle kollegas soos ‘n mens maar tydens ‘n stil oomblik by die werk maak.  Die skokkendste van alles is dat ek nie ‘n foto wou neem nie.

Dit is debateerbaar dat prostitusie die oudste beroep op aarde is.  Dit mag dalk nie die oudste wees nie, maar dit is beslis een van die eerste beroepe vir vrouens.  Dit was vir eeue lank die enigste manier vir vrouens om ‘n inkomste te verdien as sy nie ‘n manlike figuur gehad het wat vir haar gesorg het.  Dit bestaan vandag nog, in alle lande en in alle sfere.

Prostitusie word dikwels met minagting bejeën.  Hoe regverdig is dit?

Ek is nie seker of daar mense (daar is immers manlike prostitute ook) is wat prostitute wil word nie.  Dit is egter ‘n feit dat baie (die meerderheid?) mense daar ingedwing word.  Soms fisies – sonder dat die slagoffer enigsins ‘n keuse het; soms deur desperaatheid.  Wat is immers die grootste sonde?  Om jou lyf te verkoop of om jou kinders te laat doodgaan van die honger as jy hulle kon help?

Durf ons neersien op prostitute?  Behoort ons nie eerder dankbaar te wees dat ons nie in dieselfde posisie gedwing is nie?  Daardie nag in Amsterdam het ek besef dat as ek ‘n foto sou neem van een van die vrouens, buit ek haar ook uit.  Watse reg het ‘n mens om ‘n ander uit te buit?

Sê ek dat prostitusie ‘n aanvaarbare beroep is?

Kan enige een ‘n oordeel vel oor wat aanvaarbaar is om te oorleef?

In ‘n ideale wêreld sal niemand in die posisie ingedwing word nie.  Die omstandighede wat mense in prostitusie indwing, is was onaanvaarbaar is.  Dit is wat uitgeroei moet word.  Nie die mens wat ‘n slagoffer van hulle omstandighede is nie.

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wie was die prostituut in die Bybel wat Joshua gehelp het om Jerigo te ontsnap?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Charles Moore?





Moeder Teresa

5 09 2017

stmotherteresa

Vandag is 20 jaar na Moeder Teresa se dood.

Ek onthou dat baie mense – Protestant en Katoliek – na haar opgesien het terwyl sy gelewe het.  Mense het geglo dat sy ‘n engel was, iemand wat haar lewe opgeoffer het om die armstes onder die armstes te dien.  Sy was immers ‘n rykmansdogter, iemand wat haar lewe in luukse kon deurbring.

Deesdae, is daar meer en meer mense wat haar kritiseer.  Diegene wat aanvoer dat sy mense in hulle lyding probeer bekeer het.  Ander voer weer aan dat sy mense opsetlik laat ly het omdat sy gedink het lyding en armoede is mooi.

Ek is nie seker of die kritici net hulle eie afleidings maak en of hulle daar was toe sy haar werk gedoen het nie.  Ek onthou wel hoe Indië haar met haar afsterwe geloof het.  Volgens hulle het sy goeie werk gedoen.

Wat dink julle?





So dom soos ‘n voël

20 02 2017

e03e79d70a2f4b1adefa0b1cfbea9a87

Julle onthou mos nog vir Lispiek?  Ek daag mos eendag doodonskuldig by die huis op en daar het die dom heks vir haarself ‘n perd gekry.  Die perd wat enige ander mens ‘n kat sal noem.  Blykbaar het sy gekwalifiseer vir die kat en ek moet maar net met kathare op en in alles lewe.  Laviga het natuurlik ‘n perd gekry wat genoeg hare vir ‘n dieretuin het.  Siestog, die hare maak seker op vir die gebrek aan ‘n gesig.

Wel, ek was seker nie so ontwaardig oor die kat soos ek moes wees nie.  Ek het maar net gehoop Lispiek (Laviga het die naam gekies) hou die heks darem uit die moeilikheid.  Dit is nou as sy die merrie van ‘n heks kan kry om te luister.  Verder is Lispiek baie ouliker as die hare wat sy rondstrooi.

Sy maak seker dat ‘n mens nie eensaam op die toilet is nie.  Sy sus jou prrrrr-prrrr aan die slaap.  Sy maak seker dat jy elke dag ‘n bietjie oefening kry en kom vertel jou alles wat die bure aanvang.  Boonop hou sy ‘n oog oor die tuinier en vertel hom goed sy fortuin as hy skeef trap.

Lispiek hou van maatjies – mits hulle nie kinders of mans is nie.  Hulle moet ook nie rook nie.  Sy hou ook nie van tannies nie.  Man, om eerlik te wees, is haar verskoning vir ‘n neus heel puntenerig oor van wie sy eintlik hou.  Nie dat sy ‘n snob is nie.  Sy het al vir haar ‘n padda heel geduldig gehelp om by die huis uit te kom.  Nogal liggies met die pootjie op die regte pad gehou.  Sy het ook al ure lank met ‘n mot wat amper groter as sy is gespeel.  Sy het hom (lewendig) buite gevat toe sy ma geroep het.  Meestal vermaak sy haarself met die voëltjies.

Ai!

Sy kan mooi met die maatjies speel, maar dit raak nogal ‘n probleem as die maatjies haar in die gesig vroetel.  Onthou, Lispiek verwyder enige mens van uit haar sit plek.  Opgee is teen haar beginsel.  So wanneer sy nou ‘n voëltjie huistoe bring en die voëltjie daag haar uit om te stoei . . . kom ons sê maar net Lispiek doen nie tweede plek nie.  Lispiek is ook nie die een wat beseer word nie.

Ons het noual die voëltjies vertel om nie met die kat te speel nie.  Om hulle te help, het ons  vir haar ‘n groot klokkie laat dra sodat hulle weet as sy kom.  Natuurlik red ons die voëltjie wanneer ons kan.  Mens is seker die oorlewendes het hulle storie gaan deel met die res?  Het hulle egter hulle les geleer?

Aikona!

Nee, gister kry ek mos die dom goed (heks verskoon die slag) wat al om die kat paradeer.  Sy kan kies en keur.

Nou wonder ek of voëls maar ‘n selfmoord neiging het?  Geniet hulle Lispiek se geselskap?  Of is hulle te dom om te leef?





EEUW uit beginsel

30 10 2015

Die mens bly maar ‘n fasinerende dier.

Ek moet dalk begin deur te noem dat ek baie lief is vir kos.  Hoewel daar sekere goed is waaraan ek nie my mond sal sit nie, is ek nie te puntenerig nie.  Daar moet regtig iets groots fout wees voordat ek die kos sal wegstoot.  Dit blyk soms dat my standaarde in die geval ver te kort skiet.

Die meeste mense het hulle afkeur / misnoeë / afgryse al tot ‘n fyn kuns vervolmaak.  Ek let dit altyd in ‘n vliegtuig op.  Hulle sal die kos neem en dan ondersoek asof dit ‘n petribak vol bakterieë is.  Volgende sal die vurk geneem word en iets heel wantrouig beproef word.  Ek het nog nie iemand gesien wat die kos summier uitspoeg nie of selfs ‘n gesig trek nie.  ‘n Paar dapper siele sal dit selfs ‘n hap of 3 verder neem.  Die bakkie word dan met die grootste minagting weggestoot.  Die volgende dis word beproef en die proses word herhaal tot alles op die skinkbordjie afgekeur is.

Ek sal myself verstout en sê dat hulle van die begin af geweet het dat hulle die kos gaan haat.  Hoekom dit dan enigsins neem?  Dit bly vir my ‘n groot sonde om met kos te mors.

Dan weer, ek verwys na vliegtuigkos in my voorbeeld.  Iets wat blykbaar altyd sleg is, al het ek persoonlik nog nooit rede gehad om te kla nie.  Blykbaar het die minister van vervoer jare terug die parlement gevra of hulle wil vlieg of vreet?  Dit was in antwoord op ‘n klagte van die swak kos wat die destydse SAL voorgesit het.

Dit is egter vir my treffend dat die dramatjie nie net op vliegtuie afspeel nie.  Ek het al dikwels gesien hoe iemand iets in ‘n supermark, stalletjie of self in ‘n restaurant sal bestel en dit dan sou behandel asof dit mens-brein-en-niere-sop is.  Asof dit blote bediening daarvan (al het hulle dit self bestel) hulle beledig het en nie hulle tonge waardig is nie.

Hoe voel julle oor vliegtuigkos?  Is my standaarde besonders laag of is mense net bederf?

Breinvasbrand:  Voltooi:  Die kool is die sous ______________!

Breinlosbrand:  Daniël Bezuidenhout was reg.  Duitsland se naskoolse studies is gratis vir alle Europeuse studente en internasionale studente (volgens my bron).





En die laaste kers

25 12 2014

So het ons nou uiteindelik by die laaste, wit kers op ons Advent krans uitgekom.  Die wit kers in die middel wat Christus verteenwoordig en lewe simboliseer.

Mag die Kersfees ‘n nuwe lewe vol van hoop, liefde, vreuge en vrede vir een  en almal van julle wees.





Prins van Cambridge

24 07 2013

Prins

Teen die tyd is julle seker al moeg gelees en geluister na die nuwe baba! Wel ek nie… dis altyd lekker om van nuwelinge te hoor!

Ek is net bly ons het darem al ‘n foto gesien! Nie dat ons al een van North West gesien het nie, shame haar ouers is seker besig om te kyk wie die meeste geld vir hulle sal gee vir daai eerste foto!

So wat dink julle gaan die klein of te wel groot mannetjie se name wees? Sy Pa se name is William Arthur Philip Louis… Oupa is Charles Philip Arthur George en Oupagrootjie Philip. 

Almal dink George… wat dink julle?

Vraag vir die dag: Die nuwe Prins is nou 3de in lyn vir die kroon, wat beteken Harry is nou 4de… wie is lucky number 7?





Ek is die Wet!!

8 04 2013

Ek het die naweek ‘n klein probleem opgetel… wel eintlik het dit in my vasgehardloop!

‘n Man het in my motor in vasgehardloop terwyl dit nog in beweging was. Ek was besig om te stop, toe die man twee ander motors probeer vermy het deur in my motor in vas te hardloop! Ek het soos ‘n mens moet, gestop. Ek het hom gevra of hy ok is – hy het gevra ek moet hom hospitaal toe vat. Is dit ‘n nuwe hi-jack metode?? Nee hel, ek sê toe nee! Heel duidelik kan hy loop, so ek sê toe kry my by die petrol stasie (50m op) Ons wag toe daar vir die ambulans wat ek gebel het om te kom… vir 45minute! Nie Metro of iemand vd SAPS het OOIT opgedaag nie.

Die ambulans neem hom toe weg hospitaal toe… maar voor hulle hom weg vat, vra die paramedikus sal ek asb vir hom taxi geld gee! Ja ek was woedend en dink nog steeds ek moet hulle aangee… maar in elk geval, ek het toe die man R20 gegee omdat hy niks aan hom gehad het nie, en dat die hospitaal volgens die paramedikus amper 40km weg is? Die kan nou seker soos ‘n bribe lyk… dink ek eers NA die tyd! Ai mens kan so stupid wees in ‘n moeilike situasie waar jy net wil help!

Maar dit bring my tot my laaste punt… ek gaan meld die saak toe aan by my naaste SAPS kantoor. Terwyl ek die “Accident Report” invul word daar uit die bloute vir my gesê “NO!! This must be a reckless and negligent docket!” Ek sê toe nee, dit was ‘n ongeluk… “No, bring that docket! We are opening a reck and neg case!!” Dankie f*kken tog ek is nie gister gebore nie en ken die wet darem so bietjie… en met die hulp van twee ander SAPS lede (wat vir so 5sec ook maar lekker deurmekaar was) gesê nee dis ‘n “accident report!

Lang storie kort… WTF?

  • Wie kan mens deesdae vertrou as so iets gebeur? Niemand het my gehelp toe die man in my motor vasgehardloop het nie! (neem hulle nie juis kwalik nie – mens kan vandag mos nie meer ander help nie)
  • Niemand het geoffer om te help toe ek by die petrol stasie staan nie… en o my tog kan hulle staar!! Dog hulle oë en tonge gaan uitval!
  • Die paramedikus het vir my gesê ek het die “accident scene” verlaat – EK KON NIE DAAR BLY STAAN NIE? En dis nie sy werk nie… waars die SAPS of Metro wat ook gebel was??
  • Paramedikus vra vir geld vir die “victim” wat sy seer voet op homself gebring het…
  • En laastens ken die SAPS nie die reëls en regulasies nie!!

My naweek kon baie anders uitgedraai het as ek nie ‘n clue gehad het nie! So moet ons as burgers nou almal gaan swot sodat IEMAND darem weet wat jy mag en nie mag doen nie??

Ken jy die wet so goed dat wanneer die k@k die fan sou strike, jy jouself kan help dat die Polisie jou nie nog verder en dieper gaan inkry nie?

Of het jy soos ek en my Tweeling ‘n prok op speed dial wat jou vinnig sal help?? Al is dit net om vir jou te sê “Ignore die idiot!! Hy het seker sy graad gekoop”

Wat is Judge Dredd (1995 fliek gespeel deur Sylvester Stallone) se naam?

Groete, Selene





Karate Afrigting

19 11 2012

Ek hoor vanoggend op Eye Witness News dat een of ander Karate Sensei skuldig gaan pleit op verskeie aanklagte van Seksuele en Onsedelike aanranding.  Hy reken glo dat die die maklikste pad is om te volg, maar volstaan dat dit onmoontlik is om karate af te rig sonder om aan die studente te raak.

Vir ‘n verandering ‘n onderwerp waaroor ek persoonlike ondervinding het.  Ek was immers jare lank ‘n karateka gewees.  In die tyd het ek met tye klasse aangebied en dikwels juniors gehelp met hulle bewegings.  Dit is seker nie onmoontlik om karate af te rig sonder om aan die studente te raak nie.  Dit is bloot net makliker om ‘n liggaamsdeel reg te draai as om die klas op te hou van ‘n lang en moeilike verduideliking van presies hoe ‘n arm, been, heup, kop of skouers moet wees te deel.

Daar is egter een baie belangrike punt om in gedagte te hou.  Die “aanraking” is bloot funksioneel.  Ek is oor die algemeen nie baie gemaklik om aan mense te vat of om dat mense aan my vat nie.  Dit het my egter nooit in ‘n karateklas gepla nie.  Daar is ‘n doel met elke beweging en dit help die student om die beweging meer korrek uit te voer.  Dit is amper soos om tafel te dek, alles moet presies reg wees.

Om eerlik te wees het ek nooit regtig voor vanoggend daaroor gedink nie.  Dit was bloot net nie ‘n dink werd nie.  Dit was ‘n “tap” met die voet dat die knie van die student ver genoeg vorentoe gestoot is.  ‘n Vinnige draai van ‘n voet of van die heupe dat die posisie effektief is.  Soms net ‘n vinger op ‘n vuis of op ‘n elmboog om die student te herinner hoe ‘n posisie moet lyk.  Daar was soms grepe en skerm wat mense nader aan die ander liggaam gebring het.  Tog was dit altyd met die doel om perfeksie na te jaag.  Niemand het ooit gewonder of dit onskuldig al dan nie was nie.  Dit was tog nie die doel nie.

Ek kan nie dink dat enige iets in ‘n karateklas wat voor ouers en medestudente gebeur as seksueel of onsedelik kan wees nie.  Elke student het ‘n GI aan en vroulike studente het dikwels ‘n t-hemp en ‘n ski pants onder die GI aan.  Punt wat ek wil maak is dat dit moeite vir ‘n afrigter is om onsedelik of seksueel te wees.  Iets wat buite die konteks van ‘n karate instruksie sal wees.  Iets wat nie per ongeluk verkeerd verstaan kan word nie.

Ek het natuurlik nie al die feite tot my beskikking nie, maar ek voel dat daardie sogenaamde instrukteur stront praat.  As dit onskuldig was, het daar niks daarvan gekom nie of elke tweede senior student of instrukteur sou moes bond staan om te verduidelik.

My mening, maar wat dink julle?

Breinvasbrand:  Die belde voor swart staan as kyu bekend.  Wat beteken kyu?

Breinlosbrand:  Gerda was reg met Sita.





Pad Veiligheid

16 10 2012

In my Jetsetter Tweeling se afwesigheid gaan ek ‘n kort post doen.

Na die berig in die Beeld, waar ‘n 8 jarige skoolseun raak gery was het ek begin wonder of vandag se kinders nog steeds padreëls geleer word op skool?  Op skool het ons het elkeen ‘n wielietjie gekry, en so was jy die bestuurder van ‘n voertuig die een dag, en die volgende dag was jy weer die voetganger. Ek dink dit was in Std 1. (vandag graad 3)

By die huis was ons nooit alleen in die strate toegelaat nie. Wanneer ons oor ‘n stopstraat / verkeerlig geloop het was ons hande altyd vasgehou… gelyk soos eendtjies in ‘n ry. Ons moes altyd uitkyk vir motors. Ons was geleer dat jy nie agter ‘n motor verby loop nie want jy is so kort niemand sal jou da sien as hulle uit ‘n parkeering ry nie. Loop altyd op die sypadtjie, en oor zebra strepe. (in die goeie dae toe mense nog daar gestop het dat jy kan oorloop)

Die Ma van die 8 jarige seun kon nie genoeg kla oor hoe gevaarlik die kruising is nie. Sy blameer die skool, die staat, die Metro… almal en als! Maar waar was sy toe haar seun raakgery was? 3 Sekondes weg! Sy het aan die ander kant van die gevaarlike kruising vir hom gewag! Die seun het net ewe skielik weg getrek en met een helse spoed oor die pad gehol sonder om links of regs te kyk!  Ja die bestuurder van die motor kon seker stadiger gery het, of beter gekyk het – sy is tog by ‘n skool. Vandag se bestuurders voel ook soms ‘n veer, jaag oral en maak al wat ‘n stop straat is ‘n komma!

Dit bring my by my vraag. Hoe kan dinge verbeter word? Gaan nog padtekens help? Hobbels by stopstrate sit? Mense beboed wat by skole jaag. Spesiale klasse oprig om kinders (en selfs ouer mense) behoorlik te leer hoe om die pad te gebruik? Dit gaan bietjie moeilik wees, veral as die taxi’s ry net waar hulle wil!

Wie weet wat die teken beteken? (Dis nie ‘n Suid Afrikaanse teken nie) Hint: Die teken kom in Kanada voor.





Koerantbrokkies

15 10 2012

Attie Rudolph (44), ‘n Skoolonnie was Vrydagaand by Hoërskool Secunda erg aangerand deur 5 leerlinge (4x seuns en 1x dogter) van ‘n ander skool. Hulle wou glo ‘n vriendin by die skool se sokkie kom haal het toe Rudolph hulle gevra het om die perseel te verlaat – net ouers kan kinders kom haal.

Herbert Emil Brizee (45) is oorlede nadat hy met sy motorfiets kop aan kop met ‘n minubus-taxi gebots het. Dit het naby die Mount Grace-hotel in Magaliesburg om ’n draai gebeur. Glo is daar elke naweek tussen 3 en 4 sulke ongelukke in die area.

Johannes le Roux (63) en vrou, Magdaline (57), was deur ‘n fratsgolf getref op die Pipeline-strand in Amanzimtoti. Le Roux se vrou kon uitkruip, maar hy is deur ‘n tweede golf die see ingetrek en hy het verdrink.

Plaasaanvalle: ‘Syfers is hoër’ “Die syfers is bespiegeling. Almal stem wel saam dit is skokkend hoog,” het Ernst Roets, adjunkhoof van AfriForum, gesê. Almal is dit eens dat die oorsprong van die probleem lê by die feit dat die polisie sedert 2007 nie meer statistieke oor plaasaanvalle en -moorde publiseer nie. Ek kon dit ook vir hulle gesê het!

Vrou ry kind by skool raak. Ek weet nie of julle die video gesien het nie… maar ek stem nogals saam met die berig! Die kind het met ‘n spoed oor die pad gehardloop… sy Ma blameer die skool en Metro dat dit ‘n baie gevaarlike kruising is… maar tog wag sy vir hom aan die ander kant van die pad?? Helllooooo vat jou lui bas en gaan haal jou seun aan die ander kant! Ghf! Hoe voel julle hieroor?

Kyk asb uit vir die vermiste 5 jarige kleuter. Sy is sedert Vrydag weg nadat sy in ‘n parkie gespeel het. Sy het ‘n peink hemp met blou pajama broek aan.

Kauthar Bobbs (Missing Children SA)

Ksd: 15-20°C More sun than clouds. Mild. Pta: 14-26°C Mostly sunny. Warm.
Jhb: 13-21°C Mostly sunny. Mild. Bfn: 16-28°C More sun than clouds. Pleasantly warm.
Dbn: 19-28°C Showers late. Afternoon clouds. Warm. PE: 16-19°C a few showers. Afternoon clouds. Mild.