Huiswerkers en Covid-19

17 03 2020
poodle lying on comfortable bed

Photo by Roberto Nickson on Pexels.com

Is dit toevallig dat Ramaphosa die land in ‘n noodtoestand omtrent die Corona virus verklaar het op ‘Ides of March’?

Goed en wel, dit is al vir ‘n paar weke aanduidings dat COVID-19 meer as net ‘n effense ontwrigting gaan wees.  Tog is dit asof die paw-paw Maandag behoorlik die fên getref het.  Vergaderings wat soos domino’s wegval, afsprake wat gekanselleer word, handreinigers wat sommer met die intrapslag by die kantoor in jou gesig gedruk word.

Suid-Afrikaners het besluit hulle moet iets meer doen omtrent die Corona uitbraak as net memes maak.  Hulle gaan nou boonop vir goud.  Alles goed en wel vir ‘n week of twee, maar wat gaan gebeur as die storie vir 6 maande of 6 jaar aanhou?  Tyd sal seker leer.

In elk geval, daar loop ek toe ‘n artikel raak dat dat Suid-Afrikaners hulle bediendes op betaalde verlof moet plaas terwyl die pandemie voortwoed.  Ek is ‘n redelike mens en kan die meriete van die saak insien.

Aan die een kant, as jou werker vir meer as een huis werk, moet jy in ag neem wat sy daar kan optel.  Al groet jy haar nie met die hand nie, werk sy met jou wasgoed, skottelgoed, bed, oppervlaktes ens.  Baie plek om die virus aan jou oor te dra, veral aangesien die virus glo vir 9 dae op ‘n oppervlakte kan oorleef.  Dit is iemand wat dus die COVID-19 op jou huis kan kom afdruk.  Wie gaan nou in elk geval alles ontsmet nadat sy haar werk gedoen het.

Aan die anderkant – as werkgewer is jy verantwoordelik vir haar gesondheid onder jou dak.  Dus, kan jy verantwoordelik gehou word as jy die oorsaak is dat sy die Corona virus opdoen.  Behoede jou veral as sy dalk sterf daarvan – al is die wet vir nou nie baie duidelik nie.

Goeie geldige argumente.  Dan kom ‘n politikus en laat jou weer oor die wysheid wonder om enigsins ‘n huiswerker te hê.  Volgens Phumzile van Damme:  “Oh, and you can clean your own house.  You can’t risk a life just because you don’t want to clean or do your own garden.”

Weet jy wat, Phumzile? Ek kan my eie huis skoonmaak; beter, vinniger en met aansienlik minder frustrasies as met my werker.  My luiheid, waarna jy so neerhalend verwys, gee ‘n arm vrou ‘n inkomste waarvoor sy haarself nie dood hoef te werk nie.  Sy is nou dalk nie die bes betaalde werker in die land nie, maar sy het min rede om te kla.  Deur my eie huis skoon te maak, besef ek dalk dat sy nie die frustrasie werd is nie.  Ek wen ‘n paar rand, sy verloor ‘n beduindende aandeel van haar inkomste.   Boonop kan ‘n snotty politikus soos Phumzile van Damme dan nie op my luiheid neersien nie.  Dit is voordelig vir my, ek sal Van Damme wys waar Dawid die wortels gegrawe het, maar dit is die werker wat vir die gelag gaan betaal.

Daar is ‘n lied wat gaan:  “Whatsoever you do, to the least of my brothers, that you do unto Me.” So ja.  Ek is die sucker wat maar weer die politieke bollie sal opvreet.  Ek sal die risiko van die werker oorweeg en daar volgens handel, sonder om haar te na te kom.

Wat gaan julle doen omtrent julle huis- en/of tuinwerkers?  Sal julle betaalde verlof oorweeg?  Vir hoe lank?  Dink julle dat dit ‘n beduidende risiko is?

Breinvasbrand:  Waar was die eerste gevalle van COVID-19 aangeteken?

Breinlosbrand:  Vuurvliegie was reg met Ragab.





REGTIG?

14 03 2019

really-pl-ffffff-3

Die Engelse het ‘n uitdrukking:  “Fact is stranger than fiction.” Dit moet beslis waar wees.  Benewens dat daar (gewoonlik) iemand regstaan om seker te maak fiksie raak nie te buitensporig nie, moet die inspirasie vir fiksie van iewers vandaan kom.  Dit raak seker soms ‘n kringloop.  Fiksie word geinspireer deur werklike gebeure wat soms deur fiksie geinspireer word.

Soos hierdie ou wat vir 20 jaar lank sonder die nodige lisensie vliegtuie internasionaal gevlieg het.  Aan die een kant, niemand is in die 20 jaar met hom agter die stuur dood nie.  Soos ek die storie verstaan, kon hy vlieg, maar het nie die nodige administratiewe papiere gehad nie.  Dus ‘n kwessie van burokrasie.  Is dit werklik net burokrasie of is dit net geluk dat niemand dood is nie.

Dan hierdie see van ryk en bekende Amerikaners wat hulle kinders met omkopery in goeie universiteite gekry het.  Ek hoor Felicity Huffman is glo op $250000 borg uit nadat sy haar dogter se pad universiteit toe met $15000 wou koop.  As jou kind nie op eie stoom die universiteit se deure kon oopmaak nie, sal hy / sy op eie stoom daar deur kom?  Of moet die tjekboek ook daarvoor help?

Omkopery is skandalig, maar is dit regtig die hof en vervolgers se tyd werd?  Ek het van iemand anders gehoor wat glo op borg van ‘n miljoen dollar uit is.  Gaan dit nie genoeg straf wees om aan die groot klok gehang te word nie?

Aan die ander kant, waar in jou lewe het jy al van ‘n staatskaping gehoor?  Dit is al jare lank aan ‘n groot klok, maar lyk nie juis of die betrokkenes hulle skaam nie.  Dalk moes daar ook arrestasies gewees het met biljoene (hulle kan dit bekostig) vir borg.

Interessant hoe die Amerikaners omkopery by ‘n universiteit hanteer terwyl Suid-Afrika heel ongeërgd is nadat die land gekoop is.

Breinvasbrand:  Waarvoor het Felicity Huffman ‘n Oscar gewen?

Breinlosbrand:  Vuurvliegie was reg met Panjo.





Vyand nommer 1

31 01 2018

Ek mag dalk al iewers genoem het dat ek ‘n Xena aanhanger is.  Uhmm, as my naam dit nie weggegee het nie.  ‘n Goeie 4 seisoene gaan oor die volgende filosofie:  “To conquer others is to have power.  To conquer yourself is to know the way.”

In die storie, word dit as waarheid deur een Lao Ma aan Xena voorgehou.  Op die stadium was Xena omtrent die verpersoonliking van boosheid self.  Lao Ma skryf dit dan sommer in haar man, Lao Tzu, se boek vol wyshede.  Sy hou hom in ‘n koma omdat hy ‘n tiran is.  Sy regeer in sy plek en reken sy geskenk aan hom is dat hy as ‘n liefdevolle en wyse heerser onthou sal word.

Goed, ek is die laaste een wat die vervaardigers van Xena sal beskuldig dat hulle ‘n goeie storie met feite bederf.  Geskiedenis reken dat Lao Tzu se gevleuelde woorde is.  Ek het eendag iewers gelees dat Lao Tzu 60 jaar oud is toe hy gebore is.  Ek is geneig om dit met ‘n emmer sout te neem.  Tog maak dit eintlik sin.

Hy moes seniel gewees het om sulke twak te praat:  “To conquer others is to have power.  To conquer yourself is to know the way.”  Geen wonder daar was soveel dramas en treurmares in Xena oor hierdie einste filosofie.  Persoonlik reken ek hy (of sy manipulerende vrou) wou eintlik gesê het:  “To conquer others is to have power.  To conquer yourself is to be power.”

Is die “eie-ek” maar nie eintlik elke mens se grootste vyand nie?  Wie se skuld is dit as jy te veel eet of ongesond eet?  Wie se skuld is dit as jy meer geld uitgee as wat jy het?  Wie se skuld is dit as jy op Vreetjieblad ‘n vloermoer gooi wat ‘n tweejarige sal laat skaam kry?  Wie se skuld is dit as jy uit woede iemand se nek omdraai?

Sou die wêreld nie ‘n beter plek gewees het as mense net hulle self kon beheer nie?  Ongeag watter wette afgekondig word, eintlik het net jy beheer oor jouself.  Dit gaan oor keuses en om die regte besluit vir jouself te neem.  Selfbeheersing.  Iets wat deesdae afgeskryf word omdat dit aansienlik moeiliker is as wat ‘n mens dink.

Deesdae word enige swakhede mos toegesmeer met moenie oordeel nie.  Niemand durf mos om iemand te sê om ‘n ruggraat te groei en te doen wat reg is nie.  Deesdae is ‘n definisie van reg en verkeerd op sulkself verkeerd.

Jy is op jouself aangewese om enige iets te vermag.  Dit maak dus net sin dat jy jouself bemeester.  As jy dit kan doen, is geen ster te ver nie.

“To conquer others is to have power.  To conquer yourself is to be power.”

Terloops, laat weet my as iemand hom/haarself genoeg bemeester het om te kan vlieg!





Soms verstaan ek die bohaai

24 06 2016

Sug!

Ek weet nie eintlik hoe om te begin nie.  Die Gautengse Onderwysdepartament is gewoonlik nie goed vir my langmoedigheid nie.  Dit terwyl ek net mooi niks met die onderwys te doen het nie.  So, wanneer department weer die pipperrellakoors oor iets wil kry, verwag ek ‘n storm in ‘n teekoppie.

Vandag (of is dit die week) se drama:  ‘n Swart kind wat op haar eie by ‘n tafel sit met haar kosblikkie.  Die eintlike fokus van die kamera is ‘n groep van 6 kinders by ‘n ander tafel wat so pas kolwyntjies gekry het.  Mens kan die houer met die kolwyntjies in nog duidelik in die foto sien.  Nie net wys die foto duidelik hoe die kleintjie alleen sit nie, dit is ook duidelik dat sy (nog?) nie ‘n kolwyntjie gekry het nie.

Die kleuterskool verduidelik dat daar ‘n ander maatjie was wat by haar gesit het.  Hulle tweetjies het glo laaste vir die ‘partytjie’ opgedaag.  Die ander kind het glo net voor die foto geneem is begin huil en was deur ‘n personeellid opgetel om getroos te word.  Die eerste tafel het glo net plek vir 6 kinders.

Ek wil nie sê hulle jok nie, maar ek het ‘n paar vrae.  Soos waar is die kind wat begin huil het se kosblik?  Hoekom is die kolwyntjies voor in die foto – dit maak seker sin om van een punt na die ander uit te deel.  Mens deel tog seker nie eers vir een tafel uit, sit die houer neer vir ‘n foto en deel dan vir die laaste (2?) kind uit nie.  Kon daar regtig nie plek gemaak word vir die ander kind/ers by die hooftafel nie.  Groot mense rek soms ‘n 6 man bank na 8 mense toe.  Anders, hoekom die kinders nie gelyk verdeel tussen die bankie nie?

Dit het my aan ‘n aanhaling uit ‘n “A time to Kill” laat dink:  “Now imagine she is white.”  Ek het en nog steeds lyk die foto vir my so verkeerd.  Ek dink enige mens sou jammer gevoel het vir’n kleintjie (dogtertjie, seuntjie, pienk, pers of groen) wat alleen eenkant gesit het sonder haar kolwyntjie.

Ek kan dus verstaan dat die ma haar kind uit die skool gehaal het en nie met die skool wil praat nie.  Ek kan verstaan hoekom die department die olga in is.

Aan die anderkant, dalk is dit regtig net ‘n geval van slegte tydsberekining.  ‘n Prentjie is dalk meer werd as ‘n duisend woorde, maar dit skiet ver te kort in perspektief.

Hoe voel julle?  As dit jou kind was wat eenkant gesit het, sou jy dit net so aanvaar het?

Breinvasbrand:  Wie se debuutroman was “A time to kill?”

Breinlosbrand:  Sofia / Souf





Is neutraliteit ‘n sonde?

29 04 2015

Daar word gesê dat ‘n mens jou neus uit ander se sake te hou.  Dit is presies wat Switserland met die Tweede Wêreldoorlog gedoen het.  Switserland; wat vandag nog diensplig het en waar die regering privaat huise bewapen ingeval van nood.  Sodoende het hulle land staande gebly terwyl die hele Europa gebrand het.  Switserland was goed genoeg vir Churchill om die einde van die oorlog aan te kondig.  Tog moes hulle ‘n duur prys vir hulle neutraliteit betaal.  Hulle was beboet omdat hulle nie saam in die oorlog baklei het nie.

Let wel:  Switserland was neutraal.  Hulle het nie vir Duitsland geskerm nie, maar hulle het ook nie teen Duitsland baklei nie.  Hitler se dade in die tyd kon nie regverdig geword het nie.  Iets of iemand moes hom (en sy gespuis) gestop het.  Engeland, Frankryk en maatjies het hand opgesteek om helde te speel.  Het Switserland hulle plig versaak om nie ook held te speel nie?

Dit laat my na die onlangse reaksie op xenofobiese geweld dink.  Orals het mense hulle stemme dik gemaak.  Daar was ook nie gehuiwer om in die openbaar te verkondig as jy nie ook teen xenofobie baklei nie.  Beroemdes en berugdes het seker gemaak die ultimatum is word harder verkondig as hulle misnoë.

Dalk het hulle ‘n punt beet.  Soos Edward Burke gesê het:  “The only thing necessary for the triumph of evil is for good men to do nothing.”  Desmond Tutu het dit dalk duideliker gestel:  “If you are neutral in situations of injustice, you have chosen the side of the oppressor. If an elephant has its foot on the tail of a mouse and you say that you are neutral, the mouse will not appreciate your neutrality.”

In die geval van xenofobie is dit nie barbare wat die uitlanders uitmoor wat gestraf word nie.  Hulle vaderlande (waarvan baie van die uitlanders gevlug het – die ironie!) is glad nie gedien daarmee dat hulle burgers vir geen rede aangeval word nie.  Wie word gestraf daarvoor?  Elke Suid-Afrikaner wat hulle in die hande kry.  Wel op ‘n minder barbaarse manier.  Helaas, raak dit nie diegene wat die buitelanders uitmoor nie.

Dit is waarskynlik genoeg om almal na ‘n plakkaat te laat gryp en sommer jou eie optog te begin.  As jy egter verkies om eerder op die draad te sit, kan niemand jou ‘n held noem nie.  Is dit egter reg om jou ‘n skurk te noem?

Hoe voel julle daaroor?  Hoe voel julle oor xenofobie?

Breinvasbrand:  Wat het Ghandi gesê van ‘n oog vir ‘n oog?

Breinlosbrand:  Razzies





Hier kom die Enkeling weer

3 03 2015

Ek het gister belowe dat ek my sê oor Ballade vir ‘n Enkeling sal sê wanneer ek die boek klaar gelees het.

Ek het dit al geonderneem en ek onderneem dit weer:  Die dag wat ek die TV reeks Ballade vir ‘n Enkeling (Seisoen 1 & 2) op DVD raakloop, koop ek dit dadelik.  Daar was ook niks om te oorweeg toe ek die boek raakloop nie.  Dit is deur Leon van Nierop geskryf wat ek darem geweet het vir die TV storie ook verantwoordelik was.  Wat kan verkeerd gaan?

Ek het wel getwyfel toe ek die volgende beskrywing op die agterblad lees:  “En nou word die verhaal weer vertel, maar dié slag soos dit werklik gebeur het, sonder versagting, aangepas vir vandag.”  Dit het my laat sidder.  ‘n Mens torring nie met ‘n goeie storie nie!  Dit is ‘n misdaad teenoor die mensdom.

Daar was ‘n paar goed wat my grensloos in die boek geïrriteer het.  Leon van Nierop is ‘n vooraanstaande fliek resensent.  Ek het verwag dat hy sou seker maak dat sy storie klop.  Daar is ‘n paar foute wat ‘n mens nie kan miskyk nie.  Die ergste is dat dat ‘n dagboek na 14:00 op 7 April gesteel word.  Die ‘dief’ gaan speel dan muurbal 16:00, net om daarna doodluiters om 12:00 middagete by haar huis te eet en die dagboek verder te lees.  Word boeke nie meer geredigeer nie?

Carina neem ook die N14 na Emalahleni en gebruik die N14 om van Delmas af weg te ry.  Die N14 gaan beslis nie Witbank of Delmas toe nie.

Van Nierop het ook droog gemaak toe hy die storie vir vandag aangepas het.  Jacques is in 1980 gebore.  Ek en hy sou nou nooit saam in dieselfde klas gesit het nie, maar ek is selfs ‘n kind van die 80’s.  Daar was ten minste 3 Jacques’s wat saam met my in die klas iewers was.  Jacques is (was ten minste) nie so ‘n ongewone naam soos Van Nierop dit uitmaak nie.

In die 90’s sou ‘n onderwyser nie openlik op ‘n kind neergesien het oor waar sy ouers werk nie.  Ek het twee vriendinne gehad wie se pa’s vir die spoorweg gewerk het.  Een van hulle het toevallig langs ‘n ander vriendin wie se pa ‘n prokureur was gebly.  Die ATKV voorsitter in ons dorp het ook vir die Spoorweg gewerk (sy een dogter was saam met ons in die klas).  Niemand het ooit ‘n skewe woord gehad oor die kinders van Spoorwegwerkers nie.  In die 90’s sou geen onderwyser dit meer gewaag het om ‘n kind stukkend te slaan nie.  In die tyd was dit al reeds taboe.  Terselfde tyd was onderwysers ook maar traag om hulle latte weg te pak toe die nuwe wet deur gekom het.

Verder was die tyd van stoomtreine al in die 80’s verby gewees.  In die 90’s was dit alreeds net vir die aardigheid vir toerisme gebruik.  Passasiersstasies in die platteland was die eerstes wat in ongebruik verval het.  As ek dit nie mis het nie, lank voor die 90’s.  Kinders wat verbeteringskool toe gestuur is, sou met ‘n kar daarheen vervoer geword het.  Beslis nie saam met ‘n polisieman op die trein nie.

Dit tersyde, wanneer jy daarby verby kom, is die boek heel aangenaam om te lees.  Dit is noodwendige aanpassings tussen die TV reeks en die boek.  Gavin Greeff is byvoorbeeld Carina Human se baas.  Liebet Rynhard is nogsteeds ‘n yskoue teef, maar daar is tog ‘n tikseltjie meer genaakbaarheid aan haar as in die Televisie reeks.  Sy toon ten minste teen die einde belofde dat sy aan die bypik is.  Klaus Rynhard sterf nog steeds aan stupidgeid, die verkeerde persoon word gestraf daarvoor, maar die boek gee dalk beter konteks van hoe dit kon gebeur het.

Baie van die karakters lus hulleself ook in ‘n koma in agter Jacques aan.  Wie kan hulle blameer?  Jacques en Jan-Paul het ‘n Dawid en Jonathan verhouding wat net op vriendskap gebou is.  Ek het dit verfrissend gevind.  Die boek is ook wel donkerder as op TV, maar dit is realisties gegewe die omstandighede waarin die karakters hulle bevind.  Dit raak nie ‘n verstrengelde put waaruit geen mens ongeskonde kan ontsnap nie.  Ek hou ook van die einde.  Al Jacques se drade word netjies bymekaar gebring, ek hoef nie my eie einde uit te dink nie.

Oor die algemeen het ek die boek geniet, ten spyte van die foute wat ek reeds genome het.  Ek sal dit 3.5 sterre uit 5 gee.  Ek sidder as ek aan die fliek dink, maar ek sal vir Sonlig wag om vir my terugvoer te gee.  Dalk word ek aangenaam verras.

Breinlosbrand:  Wie het die rol van Alicia Francke in Ballade vir ‘n Enkeling II gespeel?

Breinvasbrand:  Dalenatjie was reg met Lisbeth Salander

En voordat die fliek met mag en mening alles oorvat.  Hier is die oorspronklike musiek wat in die reeks gebruik is.





Mostert na die maal

8 05 2014

Ek wou nog ‘n paar gevleuelde woorde spreek oor die verkiesing.  Helaas het die verkiesing gekom en gegaan voordat ek my bek daaroor kon rek.  Ja, ja; ek hoor die algemene sug van verligting.  Nogtans het ek ‘n paar gedagtes.

Die Pieter Mulder se aanval op Bobby van Jaarsveld se brief het my nogal ‘n paar minute in die verkiesingstou geamuseer.  Mulder het op ‘n stadium laat waai met:  ““Hy (Bobby) leef v[ir] Afr[ikaans], maar kies DA wat in [die] Parlement nie vir Afr[ikaans] veg [nie]. Hou liewer by musiek – moet [nie] pol[itieke] onkunde wys [nie].”  Mulder het seker op die stadium weereens Churchill se “The best argument against democracy is a 5 minute discussion with the average voter” heelhartig beam.

Nie dat ek met Mulder se sentimente saamstem nie, maar oom Churchill was nie jou gewone dom bitterbek nie.  Soos die verkiesingresultate instroom, moet ek weereens my kop skud vir die gemiddelde kieser.  Nasionaal loop die ANC met meer as 60 % van die stemme voor.  Die gemiddelde kieser het dus hulle kruisies met mening vir die ANC getrek.

Ek is verstom dat enige regdenkende mens vir die ANC kan stem.  Asof die hopie SANRAL rekeninge nie genoeg is om vir EAPADANC (enige ander party as die anc) te stem nie, laat min dinge so ‘n bitter smaak in my mond as Nkandla.  R250 mil kon ‘n skaflike duik in die Gauteng paie opgradering gemaak het.  Pad opgraderings wat veronderstel is om uit brandstofheffings betaal te word.  Dit bring my by die ekonomie en die gewoonte stakings wat dit nog net meer opdinges.  Swak ekonomie, dus minder geld vir noodsaaklike dienste soos onderwys en gesondheid.  Beide iets waaroor ons eerder nie praat nie.  Ek voel genope om weer op my seepkissie te klim oor die mors van my belasting geld.

Kom ons volstaan daarby dat die ANC nie het wat ons benodig om die land op sy voete te hou nie.  Boonop is daar iemand aan die stuur van sake wat jy nie met 5 c kan vertrou nie.  Die enigste manier om van hulle ontslae te raak, is om hulle uit te stem.  Waarom, o waarom sal enige iemand hulle kruisie vir die ANC trek?  Beteken ‘n SASSA kaart en kombers so baie?  Dit is tog immers nie die ANC wat die SASSA kaarte en komberse betaal nie.

Terloops, is dit net ek wat geskok is met die aantal partye op die kieslys waarvan ek nog nooit gehoor het nie?  Ek verstaan dit kos iets soos R600 000 om ‘n politieke party te registreer.  R600 000 elke 5 jaar!  Hoe bekostig party soos KISS dit?  Toegegee, ek dink KISS staan al van 1994 af, al het hulle op die oomblik ongeveer 2500 stemme.  Glo hulle aan aanhouer wen?  Wat nog van die 13 partye waarvan ek nog nooit gehoor, geruik of gesien het nie?

Dit is ‘n skrikwekkende gedagte dat die gemiddelde kieser die lot van die land in hulle hande hou.  Helaas!  Maar weereens het Churchill weer ‘n wysheid.  “”Democracy is the worst form of government, except for all those other forms that have been tried from time to time.”

Viva Suid-Afrika!  Vir wat dit werd is.

Breinvasbrand:  Wie is die hoof van die EFF?

Breinlosbrand:  Olga was reg met  België.

 

 

 





Motte stories

26 09 2012

Ek moet erken dat ek nou nie die grootste kenner van Oom Neels (ook bekend as CJ Langenhoven) se werk is nie, maar ek het nogal bewondering vir die man.  Vir die mens wat hy was, nie noodwendig sy werke nie.  Die oom het ‘n paar lewenswyshede gehad wat mens jou ore aan kan uitleen.  Een wat ek vandag wil noem is die gedig “Die mot en die kers“. 

Die mot en die kers
Die ander motte is dom en dwaas,
Maar ek sal vér van die kers af bly;
Hier vér uit die skemerte sal ek kyk,
Hier vér is dit veilig en kyk is vry.

Maar ek hoef nie van éénkant net te kyk –
Ek vlieg op dieselfde afstand om,
Dan weet ek van álkant af hoe hy lyk,
Om beter te sorg om nie nader te kom.

My sirkel was skeef en ingebuig,
Maar dáár ook nog, waar ek naaste was,
Het niks gebeur – ek maak verniet
My velling so groot en so vér van die as.

Die wieletjie draai ál vinniger om,
En die lig en die gloed word ál groter genot:
En die vellings word nouer ál rondom die as –
En die end van die wiel is die as van die mot.

Weereens, die enigste poësie wat ek ken, is die wat ek op skool moes doen.  Siende dat skole min of meer dieselfde doen, verwag ek dat almal wat Afrikaans as ‘n vak gehad het, die gedig behoort te ken.  Helaas is dit nie die geval nie. 

In almal se agterkop is daar darem ‘n begrip van hoe ‘n mot na ‘n kers aangetrek word.  Dit strek selfs sover as dat dit vir die mot baie gevaarlik is om na die kers aangetrek te word.  Tog is die gedig van Langenhoven soveel meer.  Hoe dikwels word die mens nie gekonfronteer met iets wat gevaarlik is nie, hoe dikwels speel hulle tog nie saam nie, vol vertroue dat hulle die gevaar gaan vermy?  Tog, op die einde val hulle tog in die strik wat hulle verseker geweet het hulle gaan vermy. 

Elke paar weke duik daar weer proteste en bekgevegde vir die behoud van Afrikaans op.  Tog moet ek liggies wonder of dit nie meer oor die kans vir ‘n lekker geveg gaan, as oor die liefde van die Taal nie.  Hoe ver is mense bereid om self hand in eie boesem te steek om die taal te ontdek, bewaar en uit te brei?  Jy kan tog nie iets bewaar wat jy nie ken nie en netso kan jy nie iets liefhê wat jy nie ken en goed ken nie. 

Hoeveel moeite doen Afrikaners self om hulle taal te ken en om dit goed te ken?  Hoe leer jy ‘n taal ken?  Is dit in die literatuur?

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wie sing die liedjie met die volgende openingsreëls?

She Comes around like a wild fire, and like a moth drawn to a flame
I’m on my way to being burned up once again.
Breinlosbrand:  Olga was reg met Lenie van Velden. 




Skop die Pelgrim se tande uit

6 07 2012

Groete van die malhuis – dinge sal hopelik binne ‘n paar weke terugkeer na normaal. 

In Pelgrimsrus het 17 winkelhuurders 30 dae kennis gekry om die perseel te verlaat.  Die Mpumalanga se Departament van Openbare Werke het die persele na ‘n tenderproses verlede jaar aan nuwe huurders toegeken.  Van die “uitgeskoptes” doen al vir 18 jaar lank besigheid in Pelgrimsrus. 

Ek weet darem ‘n ding of twee van Pelgrimsrus af.  Ondermeer hoe die museumdorpie naweke uit sy nate bars.  Nie dat daar regtig veel is om te doen nie.  Ja, daar is die rowersgraf, jy kan gaan kyk hoe die ou myners gemyn het en daar is hier en daar ‘n tentoonstelling.  As jy dit egter gedoen het, wel, dan is daar nie meer ‘n rede om Pelgrims te besoek nie.  Tog is daar mense wat keer op keer op keer terug kom.  Duidelik hou hulle van die gevoel van die dorp.  Die gevoel – dus aktiwiteite en atmosfeer – wat deur die besighede geskep is.  Na jare se harde werk en dit is diesefde besighede wat nou sonder onsag in die tande geskop word. 

Die nuwe huurders is nie almal van plan om self hulle persele te gebruik nie.  Van die bestaande huurders het al reeds aanbiedinge gekry om die tenders oor te neem.  Teen ‘n baie gawe kommissie natuurlik vir die tenderhouers.  Wat ek verstaan nogal ‘n algemene praktyk is waar tenders op velkleur toegeken word.  Party mense gaan selfs sover om dit ‘n ANC aanslag op blankes te noem. 

Die eienaar van die enigste petrolstasie in Pelgrims het reeds aangedui hy vat sy pompe en alles wat hy self aangebring het saam met hom.  Ek kan hom nie blameer nie.  Ek reken die ander mense het dieselfde idee.  Ek wonder heimlik of die Departament van Openbare Werke Pelgrims nie as ‘n goue gans gesien het nie.  Terwyl hulle gerieflik vergeet het dat dit baie werk geneem het om die gans goud te kry en dat dit net soveel vat om die gans goud te hou. 

Ek het ‘n gevoel Pelgrimsrus is weer oppad om ‘n spookdorp te word. 

Die storie herinner my sterk aan ‘n waarheid wat ek eendag raak geloop het:

Be careful whose toes you step on today, they might be attached to the ass you have to kiss tomorrow.

Breinvasbrand:  Wie was Cecil John Rhodes wat in Pelgrimsrus begrawe is?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Joey Potter





Is jy hoe jy behandel word?

2 02 2012

Daar is ‘n uitdrukking van “If you pay peanuts, you will get monkeys”.  Vertrou my om die uitdrukking heeltemal te kom befomfaai of dalk dit eerder uit hulle nate te ruk. 

Mense is geneig om op te tree presies hoe dit van hulle verwag word.  As ‘n man chronies as ‘n lamsak uitgeskel word, gaan hy een of ander tyd ‘n lamsak word.  As ‘n viswyf soos ‘n prinses behandel word, gaan sy een of ander tyd soos ‘n dame optree.  ‘n Kind wat beskuldig word dat hy altyd leuens vertel, gaan gatvol raak en lieg soos niemand hom kan nadoen nie.  Dieselfde geld vir wanneer iemand die heeltyd beskuldig word daarvan sy steel. 

Daar kan dalk geargumenteer word dat die skeller of die opheffer altyd die kwaad (goed) sluimerend in die persoon gesien het.  Tog het elke mens die mag van goed en kwaad inhom.  Wat hy of sy gaan laat wen, is wat die mens in ‘n sekere rigting swaai.  Wanneer iets dan nog van die kantlyk aangemoedig word (hoe ander mense die persoon behandel) gaan daardie iets wen. 

Dit bring my nou na die ET verhoor.  Daar is erken dat die werksmense se woonkwatiere haglik is.  Daar is ook erken dat die mense vervalde hondekos kon eet, al was dit uit eie keuse.  Mens kan ook net so lank pap en melk eet om die honger te verjaag, maar een of ander tyd gaan jy iets met oemf soek.  Ek wil sommer lelik praat, maar as jy nie vervalde kos vir jou diere gee gee nie, hoe de duiwel gee jy dit vir mense??  Daar is ook erken dat die werkers onder minimum loon gewerk het.  Die ouer een het R650 ‘n maand gekry en die minderjarige R200 (R50 ‘n week).  Ek is jammer, maar dit sit nie vir my lekker nie. 

As jy egter mense soos ongewensde diere behandel, is jy dan regtig verbaas as hulle soos diere optree? 

Nee, ek probeer nie die ET moord regverdig nie.  Niks kan dit doen nie.  Ek weet net nie hoe slaap jy snags as jy mense so behandel nie. 

Tog is daar ‘n ander stemmetjie wat skree.  In Pieternella van die Kaap (Dalene Matthee) word daar vertel van die een eienaar wat sy slawe baie mooi behandel het.  Hulle het tot elke aand aan die tafel saam met hom geëet.  Eendag dros hulle en hulle het nie gehuiwer om sy keel af te sny nie.  En dit is nie net ‘n fiktiewe voorbeeld nie. 

Nogtans sal dit seker nie skade doen om jou kant skoon te hou nie?

Breinvasbrand:  Wie se huisvrou was Pieternella van Meerhof?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Tramp.