Lunch Week 46 / 11

28 11 2011

Algemene Kennis

  1. Met watter speletjie sal jy Kol Mustard; Juf Scarlett en Ds Green verbind?
  2. Wat word ‘n figuur met 3 sye genoem?
  3. In watter oseaan is Hawaii?
  4. In watter land is Mount Everest?
  5. In Snoeker, wat is die kleur van die bal wat laaste gesink kan word?




Hongersnood

28 11 2011

Dit voel half na fiksie dat mense vandag nog van die honger sterf.  Helaas is dit nie net ‘n storie nie, mense in Suid-Afrika gaan slaap nagte lank honger as daar niks te eet is nie.  Weke gelede was ek met skok en afgryse gevul nadat ek gelees het hoe twee kinders dood is van honger en dors toe hulle kilometers ver agter hulle ma aangestap het vir kos.  Die ma se jonger sibbe is ‘n paar kilometer verder gekry – waar hulle ook weens honger gesterf het.

Die storie is gelukkig nie onder die mat ingevee nie.  Verlede week was daar ‘n instelsel op die Nuus gewees.  By verdere ondersoek blyk dit dat die hele gemeenskap verhonger.  Meer as 80% is werkloos en daar is doodeenvoudig niks om te eet nie.  Gift of the Givers het gaan kos uitdeel, maar die kos sal natuurlik nie hou nie.  Die regering gaan ook ingryp deur ID’s te gaan uitdeel sodat die mense vir toelae aansoek kan doen.  Daar was vandag ‘n berig oor die geval in Rapport gewees.  Turksvy en Klippie het ook onlangs oor honger mense gewonder.

Ek kerm gereeld oor die bakhandkultuur in Suid-Afrika, die bedelaars op elke straathoek en die dekselse kindertoelae.  In die geval is dit baie maklik om sondebokke te kry.  Die regering wat toelae soos lekkergoed uitdeel, verlig net die simtome, maar die ware siekte vererger by die dag.  Arbeidswetgewing in Suid-Afrika is dalk geskryf om die werker te beskerm, maar niemand wil meer werkers inneem nie juis daaroor.  Boere kom ook eerder sonder werkers klaar, voordat die einste werkers ‘n eis teen hulle grond insit.  Die werkers kan selfs sorg dat die boere hulle lewe verloor in ruil vir werk.  In Suid-Afrika is dit mode om die hand te byt wat jou voer.  Teen R10 ‘n brood en R10 ‘n liter melk, is kos onbekostigbaar duur.  Les bes moes die ma nie geteel het as sy nie kon voer nie.

Die blaamspeletjie het dalk meriete, maar dit maak nie een honger maag vol nie.  Terwyl jy honger is, kan rede nie ingesien word nie.  Onthou die mense hoor dit is Apartheid se skuld dat hulle nie kos het nie en die blankes is te inhalig om te deel wat in die eerste plek gesteel is.  As jy met die gedagte rondloop, sou jy nie ook gehaat het nie?

Dit is dalk nie jou, my of ons verantwoordelikheid om die hongeres te voer nie.  Baie van ons doen dalk meer as hulle deel.  Tog, kan ‘n mens jou rug met ‘n rein gewete draai op ‘n mens of selfs ‘n dier wat verhonger?  As dit in jou mag is om te help, durf jy weier?

Dit is makliker om te help as ‘n mens dink.  KFC vra R2 om ‘n kind te voer.  Pick n Pay het weer ‘n stelsel waar hulle belowe om vir R10 6 mense te voer.  Hoe hulle die rande rek om dit reg te kry weet ek nie.  Maar ek vertrou hulle beslis meer as iets waar ‘n korrupte politici (wie se gretigheid en sotlikheid die brood uit die armes se monde steel – oops, daar blameer ek weer) betrokke is.  Daar is ook die Heilsleer, Gift of the Givers en Helpende Hand wat hulle bes probeer.  Jy kan dus maklik help, sonder om ‘n bedelaar in hulle kwaad te sterk.

Dink julle die gemiddelde Suid-Afrikaner gee genoeg vir hulle mede burgers om?

Breinvasbrand:  Wanneer was Gift of the Givers in opdrag van Muhammed Saffer Effendi al Jerrahi gestig?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Advent.